Efesiërs 5:8: “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles wat goed en reg en waar is.”
Kom ons gaan kyk na die duisternisse in jou lewe. Elkeen van ons het met ander duisternisse te doen. Ons hemelse Vader wil jou op iets hier wys, iets wat Hy raaksien in jou. Daardie pyn, daardie duisternisse in jou, het jy nie vir jouself veroorsaak nie, maar mense of omstandighede het jou in hierdie duisternisse gedryf. Jy sien as gevolg van die intense pyn in jou, het jou siel geen uitkoms gesien nie, gevolglik het jy begin hardloop. Jy het gehardloop van alles wat jou seer maak, jy het gehardloop van die brandende pyne in jou, jy kon die seer in jou nie meer dra nie. Jy het gehardloop, jou asem was vinnig, die onstuimige golwe in jou, het jou hartklop vinniger laat klop. Jy het nie omgegee waarheen die pad jou lei nie, jy wou net wegkom. Agter jou het die skerwe bly lê, maar jy wou nie eens omdraai en daarna terugkyk nie, nee..., dis die pyn, dis die seer, nee.... dis die donker. Al verder en verder het jou siel jou gedryf die donker tonnel in. Hierdie donker tonnel waar jou siel jou nou bevind, en waar is die lig, dis stikdonker.
So stap jy voort in die tonnel, jou lewe speel in swart en grys prentjies voor jou af. Daar is geen lewe in die tonnel nie, net soos jy voel oor jou eie lewe. Dit stink in die tonnel, al die opgehoopte walms van die lewe, selfs jou lewe ook, want as jy aan die pyn dink in jou, wil jy braak, want dit maak jou mislik. Jy hoor water drup in die tonnel. Jy kan nie help om te wonder waar die water vandaan kom nie. Miskien is dit die lewende waters waarna jou siel smag. Jy bewe, want jou siel is yskoud in jou. Jy voel weggegooi, alleen, en verlore. Jou siel skeur skielik in twee, want jy is moeg geveg, moeg gebaklei, moeg gehuil. “Ek kan nie meer nie Here, ek sien geen doel in my lewe.” Die lewe het my soveel klappe toe gedien, die merke lê soos rooi hael strepe oor my hele lyf.” Terwyl jy so in die stik donkerte sit, in die afgrond van jou liggaam, daar waar jy verdrink in jou eie trane, merk jy toe skielik die enkele skrefie lig in die tonnel. Lig, lewe, nuwe hoop vat weer in jou vlam. So, daar is lig in hierdie donker tonnel. Wat is hierdie lig? Waar kom dit vandaan?
Jy staan op, en trek jou oë op ‘n skrefie, om die lig beter te kan sien. Alhoewel die lig net ‘n klein straaltjie deurskyn, is dit asof hierdie klein liggie, hoe gering ook al, in hierdie donker tonnel nuwe lig vir jou lewe bring. Jy loop vorentoe en ‘n koue rilling skiet deur jou, as ‘n rot oor jou voete hardloop. Wild klop jou hart, soos wat jy nader aan die lig beweeg. Jy kan nie help om die vraag te vra; “Here, hoe het ek in hierdie tonnel beland nie?” Die antwoord kom diep uit jou hart uit; “My kind, jou pyn het vir jou te groot geword, en jy het jou siel gedryf in hierdie donker tonnel in. Deur jou pyn het jy blind geword vir die vreugde, blydskap en liefde in My.” Dan rol God ‘n gordyn vir jou oop, oor die skaduwees en donkerte van die lewe.
“Pyn bring ‘n diep donker skaduwee in jou lewe.
Pyn sny diep, dwarsdeur murg en been.
Pyn vervang die lig in My met duisternis.
Pyn ontneem jou geleenthede in jou lewe.
Pyn weerhou jou van vreugde en blydskap in My.”
Nou rol die tergende vrae van jou siel, oor jou lippe. “Here, maar hoe kom ek uit hierdie tonnel uit, Here dit voel vir my of die donker my insluk. Here, die skaduwees van my lewe oorweldig my.” Jy sak mismoedig op jou knieë neer en begin weer snik. Op daardie oomblik kom raak God jou hart aan met die woorde uit, Romeine 5:5: “...en die hoop beskaam nie, want God het Sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” “Here, watter hoop hou dit in vir my? Here daar is nie hoop vir my nie, want my siel is so verskeur in hierdie pyn en donker kelders van my hart. Here, U verstaan nie!”, skreeu jou siel dit uit. Dan kom die sagte, liefdevolle stem weer; “My kind, as daar een is wat jou pyn verstaan, is dit Ek. Ek het jou gemaak, Ek het jou aanmekaar geweef in jou moederskoot.” (Psalm 139:13). Hy sorg vir my, weer brand die trane in jou hart. “Here, maar waar is die lig, in al my pyn en swaarkry?” Weer kom Sy stem met soveel geduld na jou in die stikdonkerte; “My kind, Ek is die lig. As jy My begin soek, sal jy die lig ook in jou lewe en ook in jou pyn vind.” Vir ‘n oomblik is daar doodse stilte, jy kyk weer na die skrefie lig in die tonnel, en bepeins God se woorde. “U is reg Here, die oomblik wat ek die lig in hierdie donker tonnel gesien het, het ek ‘n nuwe hoop gevind. Here, hoe kan ek nader aan U lig kom?” Skielik waai ‘n sagte koel briesie deur die tonnel, en die suis geluid daarvan eggo aan weerskante van die uitgeholde mure. Dan hoor jy weer Sy stem en jou hele hart word warm, ‘n warmte waarna jy verlang het in jou lewe. “Soek My, en jy sal My vind. Laat my Woord in jou mond en in jou hart wees, groei daagliks in jou liefde vir My, dan sal Ek altyd die lig in jou lewe wees.” Met hierdie woorde, merk jy skielik jou tas met al jou besittings in, in die een hoek. Jy sleep die tas nader en begin krap tussen al die goed, op soek na die Bybel, God se lewende Woord. Jou bybel is verrimpeld en die hoeke van die bladsye gevou. Jy blaai na die heel eerste bladsy, jou oog val op die woorde wat daar geskryf staan; “Lees elke dag hierdie bybel, en jy sal God vind.” Jou siel ruk in jou, want jy besef jy het nie gereeld jou bybel gelees nie, miskien kon jy dit meer dikwels gedoen het. Weer kom God se kosbare woorde in jou op: “Soek my, en jy sal My vind.” So die antwoord vir Sy ware lig, is in die bybel opgesluit, ek moet dit net lees, en daarin groei.
Dan maak God hierdie wysheid aan jou bekend. “Om in aanraking met My lig te kom, moet jy eers ‘n behoefte en begeerte in jou ontwikkel om in My lig te wandel. Jou siel moet uitgehonger wees vir My, sodat My lig helder in jou kan skyn.
Juis in daardie donker omstandighede, kan Ek jou help, dis wanneer Ek op my sterkste in jou kan werk. Wanneer jy besef hoe nodig jy My het, dis wanneer Ek jou kan lei na My lig. Dis wanneer Ek jou kan lei tot genesing en bevryding in My. Om My lig te vind, moet jy eers in die duisternis wandel, soek my in elke bladsy van die bybel."
Jy dink na oor die wyse woorde van God. Daardie duisternis en pyn in jou, kan jou stadig maar seker opvreet van binne, soos ‘n wurm wat teer op jou ingewande. Dit skend jou liggaam, dit neem die glans uit jou oë uit, dit neem die stralende glimlag van jou mondhoeke weg, dit breek jou stukkie vir stukkie af. Waar daar duisternis is, is daar geen lig nie!
Vrese pak jou beet op daardie oomblik. Maar ek voel diep in myself, ek wil nie die duisternis in die gesig staar nie, ek is bang, ek is benoud. ”Nee...”, kom Sy stem weer in jou. “Jy moet juis in kontak kom met daardie emosies van bangheid, benoudheid, vrese en donkertes in jou. Jou bevryding begin ook as jy die besluit neem in jou hart, dat jy hierdie duisternisse gaan hanteer. Juis wanneer dit op Sy donkerste is, dan begin My lig helder in jou skyn.”
“ My kind, as jy uit hierdie donker tonnel uitgegaan het, moet jy jou lig vir my helder gaan skyn daarbuite? Jou lewe moet ‘n getuienis vir My word. “ Weer gee die Here vir jou skrif uit Sy woord. Mattheus 5:16: “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” Jy dink na daaroor, as ander mense God se lig in my sien, kan hulle ook die lig in God vind. Dan brand die vraag vir die soveelste keer, op jou lippe; “Here, maar hoe kom ek met my siel uit hierdie donker tonnel uit?” Jy rig jou oë weer na die skrefie lig in die tonnel, dan spoel God se antwoord deur jou. “My kind, laat Ek die lamp van jou oë wees, laat Ek jou geestes oë verhelder in My. “Mattheus 6:22: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie.”
Op daardie oomblik bid jy en smeek jy, dat Sy ewige Lig jou donker liggaam moet verlig vir Hom, dat Hy jou moet genees van die blindheid in jou siel, dat Hy ‘n lamp vir jou oë sal wees. Laastens vra jy, dat Hy jou uit die donker tonnel en dieptes van jou siel sal uitlei en bevry. Nadat jy met oorgawe tot God gebid het, voel jy die totale verligting in jou siel. Jy spring op van waar jy gesit het, en begin met ‘n huppel in jou stap uit die tonnel loop. Hoe nader jy aan die lig beweeg aan die uiteinde van die donker tonnel, hoe meer opgewonde is jou hart in jou. En hoe nader die lig kom, hoe helderder skyn en verlig dit die hele tonnel. Dan roep jou siel dit uit; “Ek is vry, ek het die ware lig gevind, in my God.”
Miskien sal daar altyd duisternisse weer oor jou lewe kom, maar jy het nou die versekering dat Sy ewige lig jou altyd sal verlig, en Hy sal jou elke keer weer uit die duisternisse uitlei, na Sy groot en helder lig toe. Jy onthou weer Sy woorde uit Efesiërs 5:9: “Uit die lig kom alles voort wat goed, en reg en waar is.” ‘n Glimlag verskyn om jou mondhoeke, wat jou hele gesig laat straal en verlig vir Hom.
No comments:
Post a Comment