24 Apr 2014

Deur die oë van ‘n kind.


Jy hou die kind dop, terwyl sy heerlik op die sand baljaar. Die dogtertjie se onskuldige laggies weerklink in jou ore. Kort-kort raak haar sagte pienk voetjies die wit bruisende golfies. Die kind is vir jou soos ‘n borrelende, bruisende golfie. Vir jou lyk die dogtertjie so vry, waar sy kaalvoet op die strand hardloop, al agter die wind aan. Iets in jou beny die dogtertjie, daar is iets in haar wat jy ook graag sal wil hê. Miskien is dit selfs iets, waarna ons almal verlang, en waarna ons almal soek...

Die dogtertjie se reënboog bal, kom voor jou voete te lande. Jy tel die bal op, en die sand gly deur jou vingers. Op daardie oomblik is jou gedagtes vas gevang in die bal. Dan word jou gedagtes skielik onderbreek, deur ‘n blonde dogtertjie wat na jou loer, deur haar see blou ogies. Daar is iets in hierdie dogtertjie se oë, wat jou hartsnare roer. Dis asof haar ogies ‘n storie vertel. Ten spyte van die donker skaduwees in haar oë, word haar oë verhelder deur ‘n glans, wat nie in woorde omgesit kan word nie. Jy kan nie help om te wonder watse gedagtes, agter die kind se ogies skuil nie. Wat is die storie agter die glans in haar oog? Dan hou die dogtertjie haar vuil handjies uit na jou. Die aanraking van haar handjies, skep ‘n warm tuis gevoel in jou hart. Dis asof haar handjies jou wil saamtrek die see in, om te baljaar tussen die wit golfies en dolfyne. Hoe verlang jou hart nie daarna om so vry soos ‘n kind te voel nie? Waarom spreek hierdie kind, jou diepste gevoelens aan? Waarom is haar aanraking so sag en teer, in kontras met die gehardheid van jou siel? Weer soek jou oë na haar. Sy glimlag van oor tot oor. Weer verraai selfs haar glimlag iets vir jou. Jou oë soek die storie agter die storie, tussen die blou golwe in haar oë. Terwyl jy nog so verslae staan, neem sy haar bal uit jou hande. Jy voel hoe die bal tussen jou vingers wegglip in haar handjies in, en dis asof jy wil terug gryp, jy wil nog bietjie langer aan hierdie oomblikke vashou.
Jy sien hoe sy weg hardloop, en hoe haar voetspoortjies in die sand, diepe spore in jou hart trap. Jou gedagtes flits weer terug na die opgeruime kind. Jy kan nie help om te wonder wat sien ‘n kind deur haar kinder oë nie? Hoe sien ‘n kind die wêreld? Sien ‘n kind die seer van die wêreld? Sien ‘n kind die pynlike gebrokenheid in jou eie oë? Sien ‘n kind die mishandelings, die aanrandings, die geweld, en die molestasies? Watse storie lê verskuil in die kind se oë? Het die kind dalk my seer gesien in my oë? Het die klein dogtertjie dalk my seer verstaan? Die vraag oor die dogtertjie se kinder oë bly in jou gedagtes brand? Dan word jou gedagtes onderbreek deur ‘n sagte, teer klein handjie wat jou hand aanraak. Jy lig stadig jou kop, van jou knieë. Dieselfde dogtertjie met haar see blou oë, glimlag vir jou. Jy sink steeds in die kind se see blou oë... Wat wil die dogtertjie se oë vir jou sê? Waarom voel dit vir jou of al die antwoorde op al jou emosionele vrae, in haar oë lê? “Here, hoe kan ek praat met hierdie kind, as ek diep in myself voel soos ‘n kind?” Toe bruis die antwoord wat jy in God gesoek het, op in die kind se see blou oë.
As onskuldige kinders betree ons die gebroke en stukkende wêreld, wanneer ons, ons eerste skree gee. Soos wat ons as kinders op groei, so gaan ons oë oop, vir die sondige, pynlike gebrokenheid in die wêreld. Dis waarom elke kind se oë ‘n ander gebroke storie vertel. En tog, as jy mooi kyk tussen die donker en troebel waters van die kind se oë, breek daar ook ‘n glans deur in haar oë. En dis die glans in die kind se oë wat ons vertel van die hoop wat ons in Jesus Christus ontvang het. God het deur Sy enigste Seun, Jesus Christus se sterwe aan die kruis, en opstanding uit die dode, die donker skaduwees, van die sondige gebrokenheid kom wegneem. In elke kind se oë skyn God se lig in Jesus Christus vir ons deur. Hierdie glans en lig van die kind se oë, herinner ons aan Jesus se lig en vrede en verlossing, wat Hy vir ons gebring het. Ons kinders hoef nie meer net die sondige gebrokenheid van die wêreld te sien nie, want Jesus Christus se lig verhelder die kind se visie so, dat sy ook nou die goedheid, genade en vergifnis, van ons God kan sien. Jesus Christus se lig in die kind se oë, lei die kind na begrip, visie, en verstaan in God. Die glans en lig in die kind se oë, is die hoop van ‘n nuwe lewe in God.
Ons was ook kinders opeens, met kinderharte en kinder oë wat gevul was, met God se liefde en vreugde. Erens langs die pad, het ons toegelaat dat die duiwel by ons kom steel, deur ons eie verkeerde keuses, en so is ons harte gevul met pyn en sondige gebrokenheid.
Miskien moet ons weer soos kinders na God toe gaan. Ons moet ons self weer tot inkeer en bekering na God toe bring. As opregte, nederige, en afhanklike kinders van God, moet ons na Hom toe gaan. Soos kinders moet ons by Jesus se voete gaan sit, en by Hom leer. Soos kinders moet ons monde bly hang aan die woorde van Jesus Christus. Soos kinders moet ons in ‘n kinderlike geloof na Hom toe bly groei, bedoelende dat jy soos ‘n kind steeds in die geloof groei na Hom, en steeds wil leer by God. Soos ‘n kind is ons afhanklik van God, want God het al die antwoorde op al ons pyn en sondige gebrokenheid. Soos ‘n kind moet ons God se Woord in Sy Bybel verslind, met die wete dat God ons sondige liggame en gebrokenheid daarmee voed.  God se Woord, moet ons leë siele en harte versadig maak in Hom.
Ons moet ons self oopstel, in die bestudering van God se Woord daagliks, om so in geloof en liefde na God te bly groei, dat ons, ons kinders se oë open vir die lig en hoop in Jesus Christus. Ons moet ons kinders se oë lei na begrip, verstaan en visie in God. Ons moet ons kinders se oë open vir die lig en vreugde in God. Ons moet ons kinders se oë lei, uit die gevangenskap van pyn en sondes. Vryheid in God, begin by die “kind” wees in God.
Jou gedagtes het so in die diep waters van die dogtertjie se oë begin swem, dat jy nie bewus was, dat sy die hele tyd daar gestaan het, en vir jou geglimlag het. Vir die eerste keer in jou hart kan jy werklik vir haar terug glimlag, kan jy werklik in die vreugde, die glans, die lig en die hoop van God, in haar oë deel.
Jy staan met ‘n opgewondenheid in jou hart, op uit die sand, met God se nuwe lig en glans in jou oë. Die dogtertjie steek haar handjie uit na jou, en trek jou verder deur die bruisende golwe van haar kinder oë. Jy stap saam met haar,  jou voetspore langs haar klein voetspoortjies in die sand. Jy voel gelukkig en vry, want ‘n kind se oë het jou oë weer geopen vir die grootheid en en goedheid in God. Die dogtertjie se vinger wys na ‘n blou swaeltjie wat vlieg deur die lug, en jul altwee staar in verwondering na die swaeltjie, want die swaeltjie herinner altwee se kinderharte, van die vryheid van God vir ons, in Sy Seun, Jesus Christus.

Deur: Marieke Zeevaart

No comments:

Post a Comment