25 Apr 2014

Wees lief vir mekaar, soos God vir julle is.

Obadja 1:13: “die dag toe die ramp hom getref het nie, jy moes jou nie ook verlekker  het in sy ongeluk nie.”

Ek is seker hierdie verse spreek elkeen van ons aan. Hoeveel keer het ons nie al gevoel, ons wil daai een wat ons seer maak, of daai een wat so lelik is, of daai mense wat jou sommer afbreek in stede van opbou nie, ons wil hulle iets aandoen. "Kan sy nie maar net bietjie voel hoe ek voel nie, as sy my so seermaak met haar woorde of optrede nie".

Jy besef eintlik nie as jy so praat, dat dit gaan oor jou gevoelens, jou seerkry. Ja maar ek, ek, ek …. Hoor jy waaroor dit hier gaan. Jy is gefokus op jouself, want dit gaan oor jou. Ja maar ek het so seer gekry in my lewe, ek het nie nodig om na haar lelike woorde te luister nie.
Ondervinding het my geleer  dat mense wat ander so afkraak en afbreek met hul woorde, is eintlik die mense wat glad nie goed voel oor hulle self nie. Deur ander af te kraak en te verneder, wys hulle eintlik hulle eie pyn uit. Deur jou af te kraak, laat hulle beter voel oor hulle self, omdat dit jou in die kollig plaas, en nie hulle nie.

Sy sal liewer iemand beskinder en afkraak as wat hulle raaksien wat in haar seer hart aangaan. Dikwels is dit ook mense wat baie verwerping ervaar het in hul lewe. “Ek is verwerp, nou sal ek jou seermaak.” Sien jy hier die “snowball” proses raak. Is dit nie presies wat jy wil doen nie. Sy maak my seer, so nou gaan ek haar seer maak. En die feit is die slagoffer wat af gekraak word, is dikwels die persoon wat onskuldig is. Sy word dan skielik verwyt vir jou seerkry en jou stukkende hart.

Kom ons gaan sit weer by Jesus se voete, en leer by Hom ons leermeester. Dink vir ’n oomblik na oor hoe Jesus met mense om gegaan het, selfs die mense wat Hom verag en gehaat en bespot en uitgelag het. Jesus sê in Johannes 13: 34-35: “Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos ek julle liefhet,  moet  julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Jesus se sterkste wapen is die liefde. Met Sy nimmereindigende liefde oorwin Hy die kruis, oorwin Hy die wêreld en oorwin Hy die mense en heel belangrikste oorwin Hy ook vir jou. Kyk terug na die kruis gebeure, sien jouself, jy staan by Sy kruisdood. Jy sien die pyn op sy gesig, jy sien die bloed wat vloei, jy sien Sy liggaam in twee geskeur aan hierdie growwe kruishout. Dan verander die toneel, Hy kyk na jou. Watter boodskap lees jy op Sy geskende en bebloede gesig?  Lees jy indrukke van haat, kwaad of wrok op Sy gesig?

Nee, Hy kyk met soveel deernis, tederheid en liefde terug na jou. Dis amper asof Hy Sy hand uitsteek na jou en jou wil optel in Sy arms. Om jou hoor jy die geruis van oordonderende stemme en bloedbelope gesigte, wat met soveel haat en woede hul emosies teenoor Jesus uitskel. Jy draai jou gesig terug na hierdie liefdevolle man, wat onskuldig daar hang, vasgespyker teen die growwe en ruwe stuk hout, wat splinters in Sy rug maak.
  
Dan hoor jy skielik die woorde, wat soos ’n mes deur jou hart steek op daardie stadium. Lukas 23:34: “Toe sê Jesus vir hulle: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”  Op daardie oomblik bons die ritme van jou hart in jou keel, en jy voel die knop in jou keel, jy voel die droogheid op jou lippe, en die naar en hol kol op jou maag. Dis asof jy ’n klein deeltjie van Sy pyn ervaar, maar ook Sy liefde. Jou oë brand in hul oogkaste, en jy kan die trane nie meer keer nie, dit vloei onophoudelik oor jou gesig. Dis asof iets in jou oopgeskeur het. Flitse van jou lewe jaag soos ’n stoomtrein deur jou brein. Jy sien hoe jy ander seer gemaak het, hoe jy ander geklap het, hoe jy ander verskree het uit al jou pyn en frustrasie.

 Skielik voel jy baie moeg, en dit voel vir jou of jy die wêreld se laste op jou skouers dra, jy voel jou knieë in mekaar sak onder jou. Dan laat sak jy jou kop in skaamte en val mismoedig voor Hom neer op die kruis. Jy voel hoe jou hart oopskeur, en jy huil onbedaarlik. Jou longe brand in jou en tussendeur jou snikke gee jy jouself oor aan Sy liefde. Jy stort jou lewe uit voor Hom en jy vra vergifnis vir al jou swakhede.

Jy kyk weer op na hierdie liefdevolle man, en jy sien steeds die uitdrukking van liefde en passie en omgee vir jou in Hom. Die kyk in Sy oë droog die trane op in jou en jy sien hoe Sy gesig straal van liefde vir jou. Daar verskyn ’n sagte glimlag op Sy verwronge gesig, maar vir jou is dit die mooiste glimlag wat jy ooit gesien het. ’n Glimlag wat die verwoede storm in jou stilmaak, die barste en krake in jou kom genees,  en jy voel ’n verligting van lewende waters deur jou spoel.

Dan raak alles pikdonker, en jy kyk verskrik om, maar word gou weer terug geroep na die werklikheid van Sy liefde, wanneer jy hoor hoe Hy die laaste asem uitblaas en met soveel liefde uitroep: “Dit is volbring” (Johannes 19:30). Dis dan wanneer die snikke weer in jou oopbars, want toe besef jy, Hy het ook vir jou gesterf, vir jou swakhede, jy wat so geslaan was in jou lewe, jy wat so mishandel was, jy wat so alleen was, jy wat so gemolesteer was, jy wat soveel verwerping ervaar het, jy wat geen gevoel van liefde en sekuriteit gehad het nie.
En op daardie oomblik in die stikdonkerte, gaan Sy lig vir jou op. Sy lig van liefde wat Hy na die wêreld gebring het en wat alle duisternisse in jou en in die wêreld verdryf het. 1 Johannes 1:5: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” Jy sien steeds Sy gesig van liefde in jou  hart, en skielik besef jy wat liefde is en nie net liefde nie, maar onvoorwaardelike liefde.

Dan roep jy dit uit in ’n gebeds kreet, “Here vergewe my vir al die kere wat ek soveel keer mense seergemaak het met my woorde, dade of reaksies. Here vergewe my vir my swakhede, want Here ek is maar een van die stukkende mense ook hier op aarde, met wie U met soveel liefde kom verlos het,  en kom bevry het met U kruisiging. Here, ek verstaan nou wat liefde is. Here leer my om elke dag in U liefde te groei, maar ook my liefde vir ander. Here maak my lewe vol met U liefde. O Jesus , my liefdevolle Heer, ek het U so lief.

Dan sien jy die groot hart wat sigbaar is in die wolke wat deurbreek na die duisternis, en jy straal van blydskap en vreugde, want jy weet Hy het jou lewe kom vol maak met Sy liefde. Jy voel die wind teen jou gesig saggies waai en dis asof jy Sy stem in jou oor saggies hoor fluister: “My geliefde kind, ek is so lief vir jou, ontvang my liefdes geskenk vandag, van nou af en vir ewig.”

Deur: Marieke Zeevaart


No comments:

Post a Comment