13 Oct 2015

Sonde bewustheid lei tot hernude liefde in God




Sonde bewustheid lei tot hernude liefde in God.

Voel jy ook soms die wêreld of mense speel Regter oor jou? Wat bedoel ek met regter speel? Regter speel beteken, jy besluit of iemand reg of verkeerd is, vanuit jou eie insigte. Dit beteken ook jy veroordeel mense op jou maatstawwe. Dit beteken ook dat jy meet mense met jou eie maatstokke af. Dit beteken ook dat vanuit jou eie maatstawwe, bepaal jy of mense goed genoeg is of nie? Ook beteken dit dat, vanuit jou eie oortuigings, of jy mense aanvaar of verstoot. In regter speel wys ons ook die heeltyd ander op hul foute, sondes, en swakheid. Selfs nog meer, ons veroordeel ons medemens vir hul foute, sondes en swakheid. Met ander woorde ons spreek ‘n oordeel oor ons medemens uit. Ons besluit oor die finale woord van iemand se lot. Maar ai, as jy gedink het, hierdie stellinge maak die oë van jou hart opnuut oop, luister dan met jou hart ook na die volgende leerstellinge...

Regter speel, gaan oor hoe ons, ons sondige oë en ore uitleen vir die duiwel. Onthou, hoe wil die duiwel hê, moet ons na mekaar kyk. Hy wil hê ons moet met haat, afguns, nyd en woede na ons medemens kyk, want dit is hoe hy verdeeldheid in ons harte saai oor ons naaste, maar dit is ook hoe hy verwydering en skeiding bring tussen ons en God. Waarom sê ek sondige ore? Want, dikwels wat ons hoor oor ander, eet ons vir soetkoek op, sonder om aan ons naaste se gevoelens te dink. Ons luister met ore en oë van sondige veroordeling. En, onthou in veroordeling plaas ons, onsself op die troontjie. Hierin wil ons wys, ons is beter as ander. Ons wil wys, ons weet beter as ander, en sogenaamd ken ons van beter. Maar,....ken ons werklik beter? Die eerlike antwoord hierin moet nee, wees. Ons moet ook onthou dat in ons regter speel, dat ons eintlik ‘n skuiling soek vir ons eie diepe broosheid.

Wat ons veral ook van regter speel moet onthou, is hoe ons, ons naaste ontvang en behandel, as ons die heeltyd hul op hul foute wys. Hulle voel veroordeeld deur ons, hulle haat ons, want deur ons regter speel, herinner ons hulle voortdurend aan hulle foute en swakhede, asook hul sondige gebrokenheid. Die voortdurende bewusmaking van hul sondes, maak hulle kwaad en opstandig, en dit plant woede in hulle harte, wat ruimte maak sodat haat in hulle harte groei, wat hulle van binne af op eet. Die haat verteer hulle so van binne, dat dit hul harte weg vreet, en geen ruimte vir liefde oorlaat nie.

Nee, sondebewustheid begin by jouself. By jou foute, by jou swakhede en by jou eie sondige gebrokenheid. Ons moet diep in onsself besef dat ons ook sondige mense is, en dat ons nie beter is as hulle nie. Ons moet onsself voortdurend herinner aan ons eie gebrekke en tekortkominge. Ons moet voortdurend onthou van ons eie foute en swakhede. Ons moet bewus bly dat ons van nature sondige mense is. Ons moet weet hoeveel gate en wonde ook in ons is. Ons moet erken dat ons ook onderwerp is daagliks, aan ons eie sondige vlees. Ons moet onthou dat ons sondige begeertes ook soms die oorhand oor ons kry. Ons moet onthou ons struikel ook. Ons moet ook tot diepe besef elke dag in ons harte van vooraf kom, dat ons nie alles weet nie, dat ons nie beter is as ander nie, en dat ons beslis nie volmaak is, in ons mens wees is nie.

Sonde bewustheid bring ons juis by onvolmaaktheid uit. Wat bedoel ek met die begrip onvolmaaktheid? Aan onvolmaaktheid kan ons woorde soos bevlek, besmet, onreinheid, onperfek, half, onvoltooid, onvolledig, leegheid, gebrek, tekortkominge en minder aanheg. Onvolmaaktheid is nie ‘n voltooide prentjie nie. Nee, dis juis ‘n onvolledige prentjie. Onvolmaaktheid is juis ‘n proses wat lei tot ‘n volledige kleurvolle prentjie. Maar, ook hier in ons sonde bewustheid, moet ons onthou ons is onvolledig, en onvolmaak, omdat ons in ‘n sondige wêreld leef. Juis, die begrip van onvolmaaktheid in ons harte, lei ons in diepere afhanklikheid na God. Hoe groter ons begrip vir ons sondige onvolmaaktheid, hoe groter word ons begrip vir God. En, hoe groter ons begrip in God, hoe groter ons sondebewustheid.



Hoe meer ons in geloof en kennis na God groei, hoe meer word ons bewus van ons eie sondes en gebrokenheid. Waarom het ons nodig om in kennis van ons eie sondes en gebrokenheid te groei? Want, alleen in ons eie sonde bewustheid en kennis van ons eie sondes en gebrokenheid, sal ons weet hoe om God te aanbid, God te dien, en God te erken soos Hy dit van ons vra. Maar meer nog, in ons eie sonde bewustheid en kennis van ons eie sondes en gebrokenheid, sal ons ander opreg in egtheid, en in waarheid met God kan bedien. God se liefde kom juis ten sterkste in ons na vore, in ons bewustheid van ons eie sondige menswees.

Sondebewustheid bring ons ook by die woordjie selfverloëning uit. In selfverloëning, skuif jy jou eie sondige gevoelens, jou eie sondige gebrokenheid, en jou eie sondige begeertes opsy, om ander te bedien met God. Selfverloëning beteken ook dit gaan nie oor myself nie. My eie prentjie, my eie doel, my eie sig, en my eie geluk. My eie planne word vervang met naaste liefde, en liefde vir God. In selfverloëning word ek juis gevorm in God se liefde. In selfverloëning word God verheerlik, en nie ek nie. In selfverloëning word God my enigste begeerte, en al my sondige begeertes sterf af. Selfverloëning maak van my ‘n ware dienskneg van God, want alleen daarin besef ek wat diensbaarheid is vir God. Selfverloëning vorm my in opregtheid en egtheid van geloof in God, omdat ek God in die sentrum van alles plaas. Selfverloëning beteken ook God word die ware lig, en ek slegs ‘n ligstraal in Sy hande. In selfverloëning groei ek in my sondige mens wees en in my diepste sondige swakheid, in ‘n groter liefde vir God. In selfverloëning volg ek God se wentelbaan vir my lewe, en daarin ontdek ek dat my sonde bewustheid my ook lei na God se wil, en nie my wil nie.

Sonde bewustheid lei ook tot my eie broosheid, en kragteloosheid. In my sondige weerloosheid besef ek, dat ek niks kan doen of wees, sonder God nie. My eie kragteloosheid lei my in bewustheid van my sondige menswees, in hoe afhanklik ek van God is. In my diepste swakheid en ellende van my sondige gebrokenheid, word ek gelei na my absolute kleinheid voor God. En hoe kleiner stippel ek word in myself, en in my sondige afhanklikheid van God, hoe groter word God in my. In jou eie absolute erkenning van jou eie sondige menswees, word jy gelei om erkenning alleen aan God te gee, vir wie Hy werklik is. En, as ons erkenning gee in ons sonde bewustheid aan wie God is, dan sal ons ook erken en wys dat God, die enigste ware God is.

Maar, hoe moet ons mekaar opbou in liefde van God, in ons eie sonde bewustheid? Die groot vraag is hier, hoe help ons mekaar daarin? Hoe bou ons aan mekaar met God se liefde? Hoe handel ons hierin? Op watter wyse hanteer ons dit, in ons eie harts ondersoeke weer daarin? En, in al hierdie vrae moet ons eie harts ondersoeke daarin, ons lei na die antwoorde van God se liefde. Ons moet mekaar dus opbou in ons sondebewustheid, in God se liefde. Hoe moet ons dus met God se liefde daarin handel? God se liefde moet sigbaar word, in hoe ons optree, en in ons woorde. As ons mekaar wil help in ons eie sonde bewustheid voor God, dan moet ons harte ook vol wees met God se liefde. En, as ons harte ook vol is, met God se liefde dan sal ons monde en dade ook getuig van God se liefde.

In hierdie opbouiïng van mekaar in eie sonde bewustheid, gaan dit veral oor ons woorde. Ons woorde moet sag op ons naaste val. Ons woorde moet reën woorde van vertroosting en bemoediging wees. Ons woorde moet mekaar in God se hoop opvul. Ons woorde moet lig bring vir donker seer harte. Ons woorde moet nuwe inspirasie en motivering bring in God. Ons woorde moet veral spreek van eie sondebewustheids woorde. Ons woorde moet getuig van God se liefde. In ons eie sonde bewustheid moet ons mekaar lei na hernude liefde in God. In sonde bewustheid moet ons ook toeneem in geduld en verdraagsaamheid teenoor mekaar.

Waarom is dit dan so belangrik dat ons mekaar met liefde wys op ons sondes, en dat ons daarin, in absolute eie sonde bewustheid voor mekaar staan? Ons kan nie ander help in hul sondes, as ons nie bewus is van ons eie sondes nie. Ons eie sonde bewustheid lei ons telkens weer in afhanklikheid na God. In ons eie sonde bewustheid erken ons ook dat ons ook sondaars is. In ons eie sonde bewustheid erken ons ook, ons is nie beter as ander nie. Eie sonde bewustheid laat ons steun op God, en nie op ons eie insigte nie. Eie sonde bewustheid spreek God, en nie ons nie.

Sonde bewustheid is dus ‘n volhardende, voortdurende proses om ons eie sondige mens wees in God af te sterf. Sonde bewustheid lei ons ook elke dag opnuut weer na ware vryheid, redding en verlossing in God. Sonde bewustheid reinig en was ons af, in die bloed van Jesus Christus, waarmee Hy volmaak ons sonde skuld betaal het. Sonde bewustheid moet ons lei na vernuwing en verandering in God. Sonde bewustheid gaan oor daaglikste verdieping van jou geloof in God se Woord, wat lei tot diepe harts ondersoeke in jouself. Sonde bewustheid vorm jou in onderskeidings vermoë, van wat goed is, en van wat kwaad is, van wat reg is, en van wat verkeerd is, van wat vals is, en van wat waarheid is, maar veral ook van wat dwaas is vir God, en van wat wys is in God.

Dis belangrik dat sonde bewustheid oor gaan in erkenning, en belydenis van jou eie sondes en gebrokenheid. In jou erkenning van jou sondes, bely jy dat jy God nodig het, en dat jy in afhanklikheid voor Hom staan, om ware vergifnis en verlossing in Hom te vind. Sonde bewustheid lei jou elke keer opnuut na vryheid in God, en dit maak jou elke keer weer vry van die bande van slawerny van sondes.

Sonde bewustheid begin dus altyd eers by jouself. In ons eie sonde bewustheid van ons self word ons gelei na hernude afhanklikheid in God, in diepe harts ondersoeke oor ons self, bewuswording dat ons slegs ‘n instrument in God se hande is. In ons eie sonde bewustheid plaas ons God in beheer van ons harte en woorde. In ons eie sonde bewustheid luister ons na ander se sonde stryd, met ‘n sagte oor. In ons sonde bewustheid toon ons medelyde en begrip vir mekaar se foute en swakhede, soos wat Jesus Christus medelyde en begrip vir ons swakhede het. In ons eie sonde bewustheid bewys ons liefde, genade en barmhartigheid aan mekaar. In ons sonde bewustheid respekteer ons mekaar se gevoelens. In eie sonde bewustheid soek ons begrip in God, vir ons naaste se teerheid en gevoelens. In eie sonde bewustheid motiveer, bemoedig en vertroos ons mekaar in God. In sonde bewustheid span ons, ons harte se ore in om te kan verstaan. In eie sonde bewustheid veroordeel ons nie mekaar nie, verhef ons nie ons self bo God nie, maar ons lei mekaar na God. In ons eie sonde bewustheid staan ons terug vir ons eie emosies en begeertes. In ons sonde bewustheid verbind ons mekaar, elke keer weer opnuut aan God. In ons sonde bewustheid soek ons die beste vir ons naaste op. In ons sonde bewustheid kyk ons na ons naaste, deur Jesus se oë. In ons sonde bewustheid gaan dit oor ons naaste, en nie oor ons self nie. In ons sonde bewustheid leer ons ook by ons naaste, en laat ons ook ons onderrig deur ons naaste. In ons sonde bewustheid stel ons, ons self daagliks oop om by God te leer, deur Hom onderrig en toe gerus te word. In ons sonde bewustheid verheerlik ons God.

In sonde bewustheid plaas ons God op die regter stoel. God is die Een wat ware Regter is, omdat Hy regverdig in alles is, omdat Hy vir geregtigheid staan, en omdat Hy reg geskied in alles wat Hy doen. In ons eie sonde bewustheid voor God, klim ons van ons eie troontjies af, en verbind ons, ons self aan God as ware Regter en Heerser. In sonde bewustheid verbind ons, ons self aan God se Regspraak en Veroordeling, dit beteken dat ons die oordeel en geregtigheid aan God oorlaat. Dit beteken ook dat ons God erken as enigste en ware Regter. In God se regspraak vind ons ook Sy regverdige en veroordelende liefde.

Veral lei ons sonde bewustheid ons na Christus. En met kersfees herdenk ons nie die krip, nie die herders nie, nie die wyse manne, of die persente nie. Nee, ons herdenk Christus in Sy volle glorie. Christus lei ons na ons sonde bewustheid, na ons sonde skuld, na die prys op ons sonde skuld, en na ons noodroep van verlossing in Christus, maar ook versoening met God. Christus lei ons na bewustheid, van dat Hy ons sondes met Sy bloed kom afwas en reinig het. Christus herinner ons dat Hy die volmaakte offerlam en volmaakte prys vir ons sondes betaal het.



Met die aanbreek en koms van nog ‘n nuwe jaar, mag ons eie sonde bewustheid ons lei na nuwe lewe, vreugde en vrede in God. Mag ons weet, al is ons sondige en gebroke mense, ons behoort aan God, ons is Sy eiendom deur Christus, en daarom kan ons elke dag nuwe vryheid in God vind, maar ook nuwe vryheid in God, elke dag vir ons naaste gee. Mag ons eie sonde bewustheid ons veral vorm in ‘n nuwe, groter en toenemende liefde vir God, en mag die liefde wat ons in God vind daagliks, ‘n nuwe en groter liefde vir ons naaste in ons harte plaas.

Deur: Marieke Zeevaart



No comments:

Post a Comment