Word deel van God se plan vir jou?
Jy rig jou oё na die hemel en jou oё word verlig deur die kleurvolle vuurwerke, wat soos sterre verrys uit die hemelse uitspansel. Die vuurwerke kondig ‘n nuwe jaar aan. Weer het ‘n nuwe jaar aangebreek, met nuwe uitdagings, nuwe perspektiewe, nuwe betekenisse, maar ook nuwe geleenthede.
‘n Nuwe jaar is vir my soos ‘n nuwe begin, nog ‘n kans of selfs nog meer geleenthede? Elke dag is vir God kosbaar, en elke dag is ‘n geskenk van God, wat jy daarmee doen is jou geskenk aan Hom. So as elke dag ‘n geskenk van Hom is, hoe sien jy nou die nuwe jaar in?
Daar kom ‘n dag of ‘n jaar, wat God se plan vir elke mens in werking tree. Moenie my verkeerd verstaan nie, natuurlik was God altyd besig om die plan uit te voer vir jou lewe. Maar, daar kom ‘n dag, wat Hy jou deel van Sy plan wil maak, Sy verlossings plan! Wanneer jy begin wandel in hierdie plan, word jy ‘n soldaat vir Sy koninkryk. Word ‘n medewerker van Sy koninkryk?
Hoe pas jy in God se plan in, of nog meer leef jy al God se plan vir jou lewe uit? Dalk in hierdie nuwe jaar wil God jou deel maak van Sy wonderlike plan vir jou. God het natuurlik ‘n plan met elkeen van ons. God was van die begin af daar, selfs toe jy maar nog net ‘n enkele sel was, in die moederskoot. Psalm 139:13: “U het my gevorm, my aanmekaar geweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep.” Hoor jy die psalm digter se woorde, God het jou wonderbaarlik geskep. Van dag een af wat jou hartjie begin klop het, het jou Skepper Sy oog op jou.
Maar hoe kan God ‘n plan hê met my, ek doen dan soveel dinge verkeerd, ek is so swak in my geloof in Hom, ek het soveel foute. Onthou, Jesus verstaan ons swakheid, en Hy het medelye met ons swakheid want Hy self was aan versoekinge onderwerp. (Hebreёrs 5:15).
Om deel te word van God se plan vir jou, is om in daardie swakheid te erken, jy het Hom nodig. “Here, ek is maar ‘n geringe klein saadjie in U hande. ‘n Saadjie wat breek, wat seerkry, wat deur die stormwinde van die lewe opgepik word en saam gesleur word. ‘n Saadjie wat van tyd tot tyd uitdroog, wat verlang daarna om U lewendige waters in te drenk, en ‘n saadjie wat smag om geestelik deur U gevoed te word.”
God het vir jou as ‘n klein saadjie gevat, Hy het gesien hoe jy in die grond vertrap was, Hy het gesien hoe jy uitgedroog was. Hy het jou geneem in Sy liefdevolle hande, Hy het jou weer geplant, en Hy het jou versorg. Hy was jou skuiling teen die hael in jou lewe, Hy het vir jou skaduwee gegee wanneer nodig. God het nie verander nie, God verander nooit. Hy is steeds jou God, en Hy wil jou deel maak van die plan wat Hy het vir jou lewe.
Onthou net, God se plan hou nie altyd net mooi dinge in nie, dit vra ‘n opregte geloof, dit vra baie liefde en geduld, dit vra volharding. Maar as jy kan volhard in die moeilike en swaar tye, sal jy as ‘n klein saadjie ontpop in ‘n asemrowende sonneblom, wat baie saadjies oplewer vir God se koninkryk, en jy sal verewig skitter met groot vreugde in Hom.
Jy, brose mens, jy het God se genade nodig, om in God se plan te wandel. Ons as mense is maar baie klein, gering en as ons, ons nie bind aan God se genade nie, kan ons nie deel word van God se plan vir ons nie. Hoe word ons deel van Sy genade?
Ons moet opreg glo, dat God Sy volmaakte liefde aan ons geopenbaar het, toe Hy Sy seun Jesus Christus gestuur het, as versoening vir ons sondes. God is liefde, en wie in Hom glo het Sy liefde in hul harte. Steek ‘n hand van liefde uit na God, en glo in Sy genade, wat deur Jesus Christus se opofferinge aan ons gegee is, en word deel van die plan wat Hy vir jou het.
Voordat jy hierdie nuwe jaar so besig raak, raak stil voor jou God, luister na Sy stem in die wind, sien die saadjies in die blomme in jou tuin en onthou wie jy is in Sy groot hande. Asem die vars lug in, en besin in diepe verwondering, oor hoe jy ‘n beter mens kan word vir God, hoe kan jy deel word van God se wonderlike plan vir jou? Hoe kan jy geestelik ryk word in Hom?
En wanneer jy met jou vingers deur die bladsye van jou bybel blaai opsoek voordurend na antwoorde in Hom, en die voёls se liedere hoor sing vir hul Skepper, sien dan in jou geestes oog, hoe God jou as ‘n geringe, klein en broos saadjie optel, en in die winde jou wegvoer na Sy plan met jou.
En as jy al wandel in Sy plan vir jou, en jy ‘n instrument in Sy hande is, en jy word gebruik vir Sy koninkryk, maar jy voel dalk moeg, moedeloos, verstrooid en alleen. Dinge het dalk vir jou te veel geword, dan het ons ook die wonderlike troos van God se genade en liefde, dat Hy ons telkemale weer nuwe perspektief, nuwe hoop en nuwe betekenis in ons lewens kan gee. Roep dit ook in dankbaarheid uit in jou hart teenoor Hom, want al voel ons, ons vergaan letterlik in ons self, is God besig om ons te vernuwe in Hom, is Hy altyd nog besig om Sy plan uit te voer met elkeen van ons.
Deur: Marieke Zeevaart
No comments:
Post a Comment