24 Jun 2011

Neem Jesus se juk op jul, en wees vry!

Mattheus 11:29: “Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir jul gemoed. My juk is sag, en my las is lig.”

 Jy voel dalk diep binne in jou, dat  jou siel opgevreet word deur die bekommernisse, siekte of pyn in jou lewe. Elke dag kam jy jou hare, sit jou brilraam op jou neus, maar dan, sien jy skielik die refleksie van jou gesig in die spieël. Jou vingers trek ‘n borsel nader, in ‘n stewige klem hou jy vas aan die borsel. Dis asof jy voel as jy die spieël stukkend kan gooi met die borsel, sal die prentjie dalk verander, sal jou siel dalk vry wees. Jy sien hierdie mure voor jou, en jy wens jy kan ‘n weg vind om deur hierdie mure te breek. “Here, ek het so baie pyn en seer in my!”

Jy droom daarvan om op gras groen velde vrylik rond te hardloop, omring met kleurvolle vlinders, voëltjies wat vrolik om jou fladder. Bo jou verrys die pragtige skoon blou hemel, en dis half, asof jy vir ‘n oomblik in die goue bal wat helder skyn, die heerlikheid van Sy koninkryk sien. Jy gaan lê plat in die groen gras, en jy asem die vars lug in, jou siel borrel van blydskap en vreugde in Hom. ‘n Blydskap wat jou hart so verwarm, en wat jou so spesiaal laat voel. Jy plaas jou hande oor jou hart, want jy wil vasgryp aan hierdie oomblikke, maar dan,....dan val jou brilraam grond toe en breek in skerwe. Die skerwe ruk jou terug na die werklikheid.

Jy sak op jou knieë neer op die koue teëls van die badkamervloer. Die vloer is amper so koud, soos wat jou siel in jou is. Jy trek jou bene op, want jy voel jy is weggegooi, jy voel niemand sien jou stryd raak nie. Hierdie laste in jou siel, hierdie juk om jou nek, is besig om jou te versmoor. Jy tel jou stukkende brilraam op, en ‘n skerf sny diep in jou vinger in, die bloed vloei vrylik uit jou vinger. Vinnig klem jy die bloeiende vinger vas met ‘n stukkie toilet papier.  In jou siel het iets losgebreek, jy gee vrye teuels aan jou snikke. Jy kyk af na jou voete en steek hulle dan vinnig onder jou romp weg, want jy is skaam oor jouself, jy voel nie goed oor jouself nie.  Jou siel skreeu dit uit; “Here, waarom is my laste so groot, Here waarom al die pyn?” Here, ek het so ‘n moeilike lewe, ek wil vlieg soos ‘n vlinder vir U, maar die meulsteen om my nek is te swaar vir my.” Terwyl jou siel al jou pyn oop kloof in jou, en jou trane rol soos watervalle oor jou jong vel, merk jy die rooi vlek van bloed op jou romp. Dan kry jy hoendervleis in jou, en jy voel ‘n sagte aanraking op jou hand.  Jou oë soek weer tussen die sonneblomme op jou romp na die bloedvlek. Toe jou oog dit raak sien, kan jy die brandende begeerte nie verhelp, om met jou kop die bloedvlek aan te raak nie, asof die antwoord is in die bloed. En dan, voel jy Hy neem Hy jou hand in Syne en lei jou die werklike waarheid in. ‘n Waarheid wat bevryding vir jou siel inhou....

Jy staan tussen ‘n klomp skare mense.  Die gedrom van al die mense maak jou benoud. Bo jou kop ruis duisende stemme. Jy span jou oor in, om te hoor wat die mense sê. “Jesus, my kind lê op sterwe, Jesus my dogter is baie siek, Jesus ek is blind, Jesus ek is verlam, Jesus help...!” Iets in jou oog begin brand, vinnig vee jy die onwelkome traan weg. Jy beur tussen die mense deur, om net ‘n blik van Jesus te kry, maar helaas jy kry nie ‘n geleentheid nie. “Bevryding,” roep jou siel dit hard in jou uit. Jy gaan sit op ‘n klip, misnoeë, en jy sug. Jou siel herinner jou nog ‘n keer aan jou pyn en laste. Jou oë staar stip na al die mense. Skielik sien jy die vrou raak. Die vrou beweeg baie stadig en sleepvoetend deur die skare, haar skouers is krom getrek, kort-kort vertrek haar gesig van pyn in haar, maar sy hou nie op met loop nie, iets dryf haar vorentoe. Sy steek haar hand voortdurend uit, so asof sy na iets gryp, of iets soek.  Skielik gryp haar hand die soom van Jesus se klere vas. Jy  sien die glimlag wat om haar mondhoeke verskyn, dit lyk soos ‘n glimlag wat spreek van blydskap. Maar dan,  gaan Jesus skielik doodstil staan vir ‘n oomblik, die skare raak stil en hou senuweeagtig die prentjie wat voor hul afspeel dop. Jesus vra; “Wie het my aangeraak, want Ek kon voel dat daar krag uit my gaan?” Die vrou raak bang en probeer om die hoek skuiling vind. Jy lees die vrou se benoudheid op haar gesig. Toe, val die vrou beangs voor Sy voete neer, en vertel Jesus waarom sy Hom aangeraak het, en dat sy onmiddellik gesond geword het. (Lukas 8:47)

Jesus het met verwondering na die vrou se verhaal geluister. Sy oë was sag, vriendelik, vol liefde en deernis vir hierdie vrou. Hy het die glans en lig in haar dowwe oë gesien, die lig en glans wat haar geloof en liefde vir Hom verklap het.  Die vrou het vertel dat sy al vir twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, ‘n siekte wat permanent vir haar pyn en ongemak veroorsaak het. “Ek het gehoor dat u ‘n man van God is. Ek het geweet en vas geglo in my hart, dat as ek net aan die soom van U klere kan raak, ek gesond sal word,” het sy by Jesus gepleit op haar knieë, en haar trane het op die grondpad gedrup. Toe gebeur iets wat niemand verwag het nie. Jesus het diep in haar oë gekyk, en gesê: “Dogter, jou geloof het  jou gered. Gaan in vrede.” (Lukas 8:48).

 In daardie oomblik het jou  hart verstyf in jou, en jou trane pers weer uit jou oë uit. Jy kan nie help om uit kleingelowigheid die vraag te vra, wat jou opvreet in jou binneste; “Weet Hy ook van my juk, van my pyn?”  Dit gons in jou ore, toe jy die diep woorde uit jou hart aanhoor.  “Hoe weet ek, hoe kan ek seker weet Here?, so bepeins jy dit in jou hart. En toe, bo jou kop, sien jy die pragtige voëls in die blou lug, en jy sien alles rondom jou, en jy sien deur Sy wonderskone skepping hoe Hy jou ook versorg met soveel liefde.  “God se liefde versterk my innerlik. Efesiërs 3:16: “Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van Sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik versterk te word, en dat Christus deur die geloof in jul harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.”  En dít, is genoeg vir my. Hy sorg dan vir my daagliks, Hy voorsien elke dag vir my, Hy omhels my elke dag in Sy liefde vir my.  As ek net kan weet hoe groot Jesus se liefde is vir my, sal ek ook weet, dat Hy weet van my juk, my pyn, my swaarkry, my siekte”, brand die woorde in jou hart. Dan sal ek weet hoe ver, hoe wyd, hoe hoog en hoe diep Sy liefde is, dan sal ek Sy liefde begryp.  

Dit roer jou hart, en dit raak jou diep aan.  Jy kyk met nuwe verwondering op na die hemelse blou lug en die voëls wat nou in ‘n swerm voor jou oog verby sweef. Lukas 12:28: “As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges.”

God het net my geloof in Hom nodig, dis genoeg vir Hom.  Efesiërs 2:8: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof.”  Om my juk vir Jesus te gee vat ook baie geloof van my, en Jesus self weet dit ook, maar Hy glo in my. ‘n Opgewondenheid bars deur jou are, want jy besef van vooraf,  jy het iemand wat in jou glo, en dit is Jesus. Die gedagtes maal deur jou kop. As ek maar net die vrymoedigheid het om op my  knieë te val voor Hom, soos die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, haar hande uit gestrek het na Hom. Hy sal my ook help en my juk sal sagter word en my laste sal ligter word. “Ai, Jesus hoe kan ek vergeet, U het nie  net ons versoen met U Vader nie,  maar ook het U vir ons ‘n nuwe lewe gegee.  ‘n Nuwe lewe in U, wat lewendig word,  as ek vasgryp aan U verlossing vir my”.  Efesiërs 2:5: “Deur Sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings , saam met Christus lewend gemaak.”

Skielik voel jy prikkels in jou vinger wat jy oop gekerf het met die skerf, jy bekyk die wond, en sien dat die bloed opgedroog het.  Die wond is nog daar, maar die bloed het opgedroog, genesing het plaasgevind en daar is nuwe lewe in die vinger. Toe maal dit in jou kop, want jy besef dis die boodskap waarmee Jesus jou hart kom versterk het.  Jy staan op van die badkamer vloer af, en kyk weer na jouself in die spieël. Die keer sien jy ‘n ander prentjie van jouself in die spieël. Die gesig wat na jou toe terugstaar in die spieël, is een waarin daar weer ‘n glinster in jou oë verskyn het, ‘n gesig gevul met nuwe hoop en verwagting in God, nuwe lewe. Nou kan God se heling proses in jou eers werklik begin, want jy het geleer om jou jukke en laste vir Hom te gee. Jy het geleer hoe nodig jy Hom het.

Miskien sal die donkerte, die pyn, die siekte, nie genees word nie, maar omdat jy in geloof aan Hom vasgryp, sal jy weet hoe om daardie juk en laste te dra. Die oomblik wat jy vasgryp aan Hom, sal jou knieë nie meer knak onder die gewig van jou juk nie, sal die meulsteen om jou nek jou nie meer versmoor nie, maar sal jy kan opstaan, regop loop vir Hom.  Jy self sal voel, hoe lig jou laste is in Hom, en hoe sag Hy jou juk maak., want jy sal floreer in Sy liefde, Sy liefde sal jou dra, elke stap vorentoe. Jy sal miskien die laste en die juk nog hê, maar jy sal vry wees in jou gees, want jy sal nie meer in jou siel in kettings gebind wees aan hulle nie, en dít is vryheid in jou gees. Om vry te wees in jou gees, beteken om te glo dat Jesus Christus jou verlos het, om Sy kind te wees. Glo in Hom, glo in Sy liefde vir jou, want Hy het die hoogste prys ook vir jou betaal. En as jy vry is in jou gees, kan God jou gebruik om ander na Hom te lei, ander in Hom te bemoedig sodat hulle ook die gawe in Hom mag ontdek, om vry te wees in hul siel en gees van al hul pyn, en bekommernisse.

En as ek vry is in my gees van al my pyn en bekommernisse, kan ek dan ook die woorde in geloof en liefde uitspreek na hulle wat my seer gemaak het; “Ek vergewe jou, ontvang Sy liefde, want Hy het my met Sy liefde kom vol maak.”

7 Jun 2011

God is vol vreugde oor jou!

Sefanja 3:17: “Die Here jou God is by jou, Hy die krygsman wat red, Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil tevrede in Sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.”

Wat beteken dit vir jou om te weet dat God, vol vreugde is oor jou. Miskien dink jy in jou hart, hoe kan God vol vreugde wees oor my? Ek beteken dan niks vir hierdie wêreld nie. Ek het nie baie vriende of vriendinne nie, ek staan nie eerste in my klas, ek is nie ‘n top atleet nie, ek is nie eers mooi nie. 

Hoeveel van ons voel so, oor ons self. Voel jy ook so oor jouself? Sien jy nie meer jouself raak deur die oë van jou Skepper nie. Ten spyte van hierdie gevoelens wil ek jou op nog iets wys. 
Miskien is jy nie ‘n top atleet nie, maar jy kan loop. 
Miskien is jy nie ‘n model nie, maar jou gesig straal elke dag vir Hom. 
Miskien is jy nie die slimste in die klas nie, maar jy het wysheid en kennis in God. 
Miskien het jy nie baie vriende of vriendinne nie? 
Het jy al gedink wie is ware en opregte vriendinne en vriende vir jou? 
Hulle wat in jou glo, hulle wat jou bemoedig deur moeilike tye, hulle op wie se skouers jy kan snik, hulle wat jou liefhet vir wie jy is. 
Psalm 4:8: “U het my reeds groter vreugde laat belewe, as wat daar is by mense wat koring en wyn in oorvloed het.”

Jy sien, so dikwels kyk ons verby die dinge wat God in ons raaksien, en konsentreer te veel op wat die wêreld van ons dink, of selfs nog meer, wat mense van ons dink. Vir God is dit nie belangrik hoe jy lyk en wie jy is nie. Hy kyk baie dieper, Hy kyk na jou hart. Hy sien dwarsdeur jou. 

Liefde vir God vind jy net in jou hart, daarmee saam liefde vir jou medemens. As jy nie God ken met jou hart nie, sal jy nie verstaan wat dit is om liefde te gee of, te ontvang nie. Dit is ook waarom Jesus sê, dat die heel grootste gebod is die liefde. Markus 12:30: “Jy moet die Here jou God liefhê, met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag. Die tweede is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” En waar is die wortel van liefde gesetel in jou? 

In jou hart. Met jou hart dien jy die Here, met jou hart soek jy troos by die Here, met jou hart het jy Hom onvoorwaardelik lief, in jou hart is Sy vreugde, vrede en blydskap. Dis waarom die Here sê, Hy kyk na jou hart, want Hy weet dis waar jou hele menswees gesetel is, en dis daar waar Hy jou elke dag wil aanraak. Mattheus 6:21: “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” Jy sien God ken jou pyn, jou eensaamheid, jou verdriet, maar Hy sien ook jou hart raak wat brand van liefde vir Hom.  

Kom ons gaan delf ‘n bietjie dieper. Ek wil vandag vir jou wys, waarom is jou Skepper en Here vol vreugde oor jou. Hoe sien jou Skepper jou deur Sy liefdevolle oë?

Sien die volgende prentjie voor jou geestesoog afspeel. Jy kan jou oë toemaak, en laat Sy gees vir jou hierdie toneel openbaar, laat Sy gees jou kom aanraak nou, raak stil voor Hom. 

Jy is by ‘n skool en loop op die terrein rond. Terwyl jy so loop, sien jy ‘n dogtertjie raak onder ‘n boom, afgesonder en alleen. Sy sit eenkant en gesels  met niemand nie. Haar koppie hang, en haar skouertjies toon die indruk van baie mismoedigheid. Jy merk dat sy vir ‘n oomblik opkyk, en wanneer sy jou sien, gooi sy vinnig haar vaalbruin lang slierte voor haar gesig, jy sien die traantjies wat in haar oë blink. Jou hart word gevul vol met ontsag vir hierdie stukkende dogtertjie. Jy stap na haar toe en neem sitplek langs haar in. Sy vlieg verskrik op, maar dan neem jy haar vuil verweerde handjie in joune, ... en dan skielik voel sy so broos, dat iets in haar oopbreek. Sy begin onbedaarlik te snik. Jy hou haar vas, en vir ‘n rukkie is daar doodse stilte.  ‘n Sagte wind dwarrel deur jul hare, en in hierdie sagte wind, hoor jy Sy stem, saggies, teer, en vol liefde; “My kind jy het my vreugde vir hierdie dogtertjie gebring, jy het haar kom aanraak met My liefde vandag. Sy was verlore en bitterlik seer gemaak, maar jy het haar terug gebring na my. Jy het nie uit selfsug of eie belang na haar toe uitgereik nie, maar in jou brandende liefde vir My. ” En dan die woorde van jou Skepper wat soos lewendige golwe in jou druis;  “My kind, Ek is vol vreugde oor jou, Ek is stil tevrede in My liefde vir jou.” Jy hoor hierdie woorde van God se stem in die wind herhaaldelik. Hierdie kosbare woorde van jou liefdevolle God, weerklink soos ‘n eggo in jou binneste. “My kind, Ek is vol vreugde oor jou, Ek is stil tevrede in My liefde vir jou.”


Verstaan jy nou, waarom jou Here vol vreugde is oor jou? Hy is vol vreugde oor jou, omdat jy Sy kind is, want jy het Hom verkies bo al die ander dinge van die wêreld. Hy is vol vreugde oor jou, omdat jou gesig elke dag straal vir Hom. Hy is vol vreugde oor jou, omdat jy so lief is vir Hom, dat jy nie skaam is om dit te wys nie, jy straal elke dag vir Hom.  Hy is vol vreugde oor jou omdat jy glo in Hom. 

Maar om te glo in God, beteken ook om in jouself te glo as mens. Onthou, Hy het ‘n baie mooi prentjie gesien, wat soos ‘n skildery voor Hom afgespeel het, ‘n ware “Picasso”, kosbaar en dierbaar, toe Hy jou in jou moeder se skoot aanmekaar geweef het en geskep het. 

Dalk brand daar nog ‘n splinter in jou oog, wat baie pyn in jou hart veroorsaak. Daardie splinter veroorsaak dat jy geestelik blind is, gevolglik kan jy nie sien hoe mooi jy is in Sy oë nie.  Kom kniel voor jou Here neer, laat sak jou kop op sy skoot en huil jou hart uit. Stort jou kwellinge en bekommernisse voor Hom uit, vra genesing en vergifnis vir jou swakhede. 
Psalm 142: 2-4: “Ek stort my klagte uit voor sy aangesig, ek maak voor Sy aangesig my nood bekend. As my gees in my versmag, dan ken U my pad.”  

En terwyl jy so huil, voel jy Sy teder en sagte hande vryf jou pragtige hare sagkens, en jy hoor hoe Hy oor en oor vir jou sê; “My kind jy is so mooi vir My.” Dan lig jy jou kop op, en jou rooi behuilde gesig sien Hom raak, waar Hy vir jou sagkens glimlag, met ‘n liefde wat niemand eens kan beskryf nie.  Maar jy, jy voel daardie warm en opregte liefde in jou hart van Hom. Meteens verdwyn die dowwe blik in jou oë en jy sien jouself in Sy oë raak. Golwe van tevredenheid, vergenoegdheid, voldaanheid en ware geluk spoel oor jou, en jy gryp Sy hande in jou hande vas. Op daardie oomblik herinner Hy jou uit Sy woord aan Psalm 112: “Die regverdige sal nooit wankel nie, maar sal altyd onthou word.”

Hoor jy die woorde? Hy sal jou altyd onthou. Begin vandag en sien jouself deur Sy oë raak, want jy is pragtig, mooi, goed genoeg en aanneemlik vir Hom. Efesiërs 1:18: “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop Sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot Sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.”

Jy wat blind is in jouself, sien jouself vandag in Sy oë raak.
Jy wat verbitterd en verhard is, strek jou hande uit na Hom, sodat Hy jou kan kom om jou aan te raak, dan sal alle bitterheid en haat in jou smelt, en jy sal Hom raaksien, en jy sal jouself raaksien deur Hom.
Jy wat seer het, laat Hom toe om die seer te verwyder.
Jy wat twyfel in jouself, glo in Hom, want Hy glo in jou.
Jy wat nie liefde in jou lewe ervaar het nie, ontvang Sy ewigdurende liefde vir jou.

Mag julle elke dag van Sy ewigdurende liefde leer. Mag julle groei in Sy wysheid, wat kosbaarder is as goud of silwer. En die heel belangrikste, mag elkeen van julle weet in julle harte, mag dit gebrandmerk wees in julle harte,.. dat julle iemand het, wat in julle glo.  Julle het iemand wat lief is vir julle, en julle het iemand wat julle aanvaar met al jul gebreke en swakhede. En hierdie iemand is niemand anders, as jul Skepper, Vader en Here Jesus nie.

En elke keer as jy bedroef, verstoot of niksseggend voel, onthou dan die woorde in Sefanja.

Sefanja 3:17: “Die Here jou God is by jou, Hy die krygsman wat red, Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil tevrede in Sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.”






1 Jun 2011

Jy as vrou, word geroep om jou skoene vol te staan vir God!

Ester

Hoe sien jy jouself as vrou van God? Dink jy, as jy nou voor die troon van God moet verskyn, jy as waardig geag sal word? Hoeveel waarde heg jy aan jou geloof in Hom?  Twyfel jy enigsins oor jou waardigheid as vrou en instrument van God? Dan, luister bietjie hierna, want jy is as ‘n vrou vir Hom waardig, net omdat jy al die keuse gemaak het om in Hom te glo, en om ‘n kind van Hom te wees. God wil vandag vir jou deur Ester se oë kom wys, hoe waardig jy as vrou vir Hom is. Onthou waardigheid is ook iets waarin ons moet groei elke dag. Dit beteken nie as jy jou waarde in God gevind het, dat jy al die wysheid in Hom het nie. Spreuke 3:7: “Moenie dink jy het die wysheid in pag nie.”

Wat beteken dit dan, om waardig te voel oor myself voor My Skepper? As jy besef hoe nodig jy Hom het, en dat jy sonder Sy genade en liefde, eintlik niks verdien nie, staan jy reeds waardig voor Hom as vrou. Mattheus 5:3: “ Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Kom ons gaan kyk eers na Ester se agtergrond. Sy was ‘n Joodse meisie en haar oorspronklike naam was “Hadassa”. Haar naam is waarskynlik verander na Ester om haar identiteit as Joodse meisie te beskerm.  Hadassa beteken “mirte”. Die  HAT woordeboek verwys na mirte as ‘n altyd groen struik wat wit en blou bessies gedra het. Dit verwys ook na ‘n boom, ‘n bos of ‘n krans. Hierdie is vir my ‘n mooi beskrywing, vir haar, juis omdat sy na God gegroei het. Ons almal is bekend met struike, dit begin klein, daarna sprei die takke ver en wyd uit, en die struik verkry dan ook hoogte. Heel laaste kom die glansryke vrugte, die wit en blou bessies in hierdie geval. So baie kere verwys God ons in Sy woord, dat ons soos bome is wat groei na Hom toe in ons geloof. Ook in haar roeping vir God moes Ester gegroei het. Ester was ook gevorm as vrou van God, in haar omstandighede. Psalm 92:14 beskryf dit vir my so mooi.  “Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon. Hulle vind hulle krag in die huis van die Here, en groei op in die tempel van ons God. Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees.”

Kom ons gaan kyk hoe Ester na die Here gegroei het. Beide Ester se ouers is waarskynlik dood met die ballingskap waaronder Nebukadnesar hulle na Babel weggevoer het. As klein dogtertjie word Ester deur haar oom Mordegai aangeneem. As ons na die verloop van Ester se geskiedenis terug kyk, dan is dit duidelik dat Mordegai ‘n godvresende man was, ‘n man wat baie ontsag vir God gehad het, ‘n man wat God passievol lief gehad het, en die heel belangrikste, ‘n man wat in God geglo het, in alles.

Omdat Mordegai die opvoeder van Ester geword het, en hy haar groot gemaak het, het sy alles geleer van die Here, by hom. Dus is sy ook groot gemaak in die vrese van die Here se naam.  As jy so groei na God elke dag, begin jy ook die vrugte van die gees te toon, en mense sien dit raak in jou, al voel jy nie dalk so in jou binneste nie. Ester het so in haar liefde en geloof vir God gegroei, dat dinge soos die mooi klere en weelde in die paleis, nie vir haar belangrik was nie. Daar staan geskrywe; Ester 2:15: “Toe die beurt van Ester, die dogter van Abigail, die oom van Mordegai, wat haar as sy dogter aangeneem het, kom om in te gaan na die koning, het sy niks verlang nie, behalwe wat Hegai, die hofdienaar van die koning wat die vroue bewaak, gesê het; en Ester het guns gevind in die oë van almal wat haar gesien het.” As jy so in jou verhouding na God kan groei soos wat Ester elke dag gegroei  het na God, sal jy ook later na niks anders verlang, sal God vir jou ook alles wees. Jy sal ook oorloop van vreugde en vrede en liefde in Hom, soos wat Ester oorgeloop het  in Hom.

In Ester 2:7 lees ons dat Ester ‘n baie mooi meisie was, maar gaan kyk mooi wat het Ester ‘n besondere vrou gemaak. Wat het haar anders gemaak as al die ander vroue? Wat maak jou anderste as ander vroue? Ester het innerlike skoonheid in haar gehad, haar gesig het gestraal en haar oë het geblink vir Hom, haar enigste en dierbare God. So miskien het jy nie skoonheid nie, maar jy het ‘n innerlike skoonheid in God, wat jou laat uitstyg bo alles en almal. Iemand wat God waardig ag! God sien jou innerlike skoonheid raak, al sien ander dit nie raak nie. In jou brandende liefde, passie en toegewydheid vir Hom, skyn daar ‘n skoonheid in jou deur, wat so helder en duidelik is dat jy letterlik straal vir Hom.

Maar hoe staan ons, ons skoene as vroue van Hom vol, elke dag.  Beklee ons, ons elke dag met Sy skoene? Of trek ons daardie  duursame en eksklusiewe skoene aan? Baie vroue vind hul waardigheid in hulself, deur hul mooi en duursame skoene, maar jy as kind van God loop met verslete skoene. Hoe stroop dit? Die vraag is hier, wil jy hê mense moet jou raaksien vir jou “smart skoene” wat jy aanhet,  of wil jy hê God en Sy koninkryk moet jou raaksien en waardeer.

Dis natuurlik nie maklik om God se skoene aan te trek, elke dag nie, die pad wat jy loop met Sy skoene aan, is vol dorings en distels. Ja, sekerlik breek daar nou en dan ‘n hak van die skoen af, maar jy loop steeds voort. Of dalk verloor jy ‘n skoen langs die pad, maar jy vind weer ‘n ander een, soos wat Hy vir jou nuwe deure oopmaak. Of dalk begin die skoene jou te druk, soos wat jou omstandighede jou druk, en jy voel, jy kan nie meer hierdie skoene aantrek vir God nie.



Maar nou, wil ek jou op ‘n interessante feit wys. Alhoewel die skoene wat jy vir God aantrek elke dag verslete is, en jou dalk druk, sien jy steeds jou weg oop om elke dag hierdie skoene aan te trek vir God. En dit,....is hoe jy as vrou jou waardigheid vind in God elke dag.  Omdat jy nie skaam voel om elke dag Sy skoene aan te trek nie, jy staan nie terug vir jou geloof en liefde vir God nie.
Elke dag poets jy weer daardie skoene op, sodat hulle God se lig elke dag kan uitstraal. God sê nie verniet, in Efesiërs 6:14-17:  “Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om jou heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brand pyle van die bose kan afweer. Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.” Hoor mooi, God sê trek die skoene aan, om My evangelie te verkondig, My waarheid, en My kosbare woord.

Watse skoene moes Ester aangetrek het vir God? Nadat Ester koningin geword het, deur as bruid haar te verbind aan koning Ahasveros, moes sy opkom vir God se kinders. Daar het ‘n wet oor haar mense se koppe gehang, om al die Jode uit te wis.

Haman was as ‘n baie dapper man beskou deur die koning, en het daarvoor ook ‘n hoë pos beklee in die paleis. Hy was in so mate vereer deur die koning, dat die koning almal beveel het om voor hom neer te kniel en te buig. Mordegai die stiefpa van Ester, het geweier om voor Haman te buig. Dit het Haman baie vies gemaak, en hy het besluit om ondersoek in te stel. Hy bevind toe dat Mordegai ‘n jood is en dat die Jode se tradisies en gewoontes, en selfs hul godsdiens verskil met die van koning Ahasveros se regering. Dit was die deurbraak vir Haman, en so het hy op ‘n slinkse manier die koning oortuig, om ‘n wet uit te vaardig,  waarin geproklameer is  dat al die Jode, klein of groot, oud of jonk uitgeroei moes word op ‘n sekere datum.

Julle kan net dink, hoe die Jode gevoel het. Ester 4:3: “Daar was groot smart onder die Jode. Hulle het gevas, gehuil en gekerm. Hulle het rouklere aangetrek en in die as gaan lê.”  Ja, hulle het gerou en gekerm, maar hulle het ook gevas. Om te vas, beteken om jouself af te sonder vir God, sodat God jou kan versterk in jou omstandighede. Mordegai het hier as ‘n godvresende man, ‘n baie belangrike rol gespeel om die Jode aan te moedig, en te ondersteun in hul geloof in God. Mordegai het besluit om sy geloof skoene, aan te trek en hom te wend na Ester. Hy het Ester gevra om vir God se volk in te tree by die koning.

Toe Ester hierdie versoek van Mordegai aanhoor, was sy eers bang en het haar geloof skoene in God, vir eers in die kas gesit.  Haar vrese het haar oorweldig en sy het getwyfel. Sy het vir Mordegai daarop gewys daar is ‘n wet dat jy nie sommer voor die koning mag verskyn as jy nie ontbied is nie, oortreding op hierdie wet kan jou lewe beteken. Daar is net een uitsondering, en dit is as die koning sy goue septer na jou toe uitsteek. Mordegai het steeds vasgeklou aan Sy geloof in God en het steeds Ester aangemoedig in haar geloof.  Ester 4:13: “Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie, dat jy koningin geword het.”  Mordegai het Ester herinner, dat as koningin het God haar geroep om vir Sy volk op te kom.

Wat eintlik hier gebeur het is dat Mordegai het Ester geleer van die Here, maar toe die vrese haar oorweldig het, wou sy nie vasklou aan haar geloof in God nie. Die vrese was te veel vir haar. Dit het van haar gevat dat sy haar kinds skoene weer moes gaan aantrek het, om as ‘n kind voor God neer te kniel en te mag weet Hy sal haar beskerm. God sê in Sy woord in Mattheus 18:4: “Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so ‘n kindjie in My naam ontvang, ontvang My.” God wou vir Ester wys, dat om haar skoene vol te staan vir Hom, moes sy weer soos ‘n kindjie word in haar geloof, klein, broos, nederig en afhanklik voor Hom. Partykeer vat dit van ons ook om te gaan kniel voor ons Skepper, om eers ons kinder skoene vir God aan te trek, en te weet Hy is in beheer van alles, om te weet ons het Hom nodig, voor ons weer ons skoene kan volstaan vir Hom.

Nadat Ester die opdrag verstaan het wat God van haar vra, het sy ‘n daadwerklike besluit weer gemaak om haar geloof skoene aan te trek, en om voor die koning te verskyn. Die koning was haar genadiglik, en het sy goue septer na Ester uitgesteek. Ester het versoek om ‘n maaltyd saam met die koning en Haman te geniet, sodat sy haar versoek voor die koning kon neerlê. Intussen het Haman ‘n galg van drie en twintig meter hoog laat oprig, met die idee om Mordegai daaraan op te hang.

Tydens die tweede maaltyd het Ester haar versoek aan die koning voorgelê. Ester 7:3: “As die koning my goedgesind is, en die koning dit goedvind, laat my en my volk toe om te bly lewe.”  So het Ester vir God se volk gesmeek en gepleit.  Ester sou dit nie kon doen, as sy dit nie gewaag het om net weer haar vertroue in God te stel, om weer haar geloof skoene in God af te poets nie. Waag jy dit om elke dag die skoene wat God jou gee om Sy pad mee te loop, om dit met dapperheid aan te trek? Miskien is jou skoene vol gate, vol van pyn en hartseer in jou lewe, iemand het jou dalk baie seergemaak, of maak jou dalk nog steeds seer, en dit, maak dit vir jou moeilik om elke dag die skoene aan te trek, wat God jou gee. Dit keer ook dat jy nie in jou verhouding met God kan groei nie. Dan is dit dalk tyd vir nuwe skoene, skoene van geloof in Hom. Gee jou seer vir Hom, en raak so ontslae van die ou skoene, en trek die nuwe skoene aan wat Hy vir jou gee en laat Hy jou lei op Sy pad. Psalm 25:8: “Die Here is goed en regverdig, Hy wys selfs vir sondaars die pad aan, Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle Sy pad.”



Die koning was Ester goedgesind, omdat God haar goedgesind was. Daar is ‘n nuwe wet uitgevaardig wat die Jode die reg gegee het om hulself te verdedig en te beskerm teen hul vyande. Die Jode het die Purimfees ingestel na aanleiding daarvan, om God te loof en te eer en te dank, vir Sy goedheid en getrouheid. God het deur Ester Sy volk beskerm, en so het die Jode behoue gebly.
Mordegai het ook die koning beskerm toe hy van ‘n komplot gehoor het wat die koning se lewe bedreig het, en God het hom beloon op die regte tyd. Ook Mordegai is in sy eer herstel vir God, hy het tweede in rang onder koning Ahasveros geregeer, omdat hy bly vasstaan het in Sy geloof skoene vir God.

Koningin Ester het as bruid van die koning, ‘n simbool geword van die bruid van God, God se volk.  Ester het aan die bruid van God nuwe hoop verleen. Sy volk is gered van ondergang, Sy kudde is bewaar, sodat die ware verlosser Jesus Christus kon kom,  sodat nie net meer Jode Sy kinders kan wees en Hom dien en liefhê nie, maar ook elkeen wat in Hom glo!

Ester se skoene is vervang met bruids skoene in God, skoene wat spierwit is, en blink vir haar geliefde God. Skoene in God wat opnuut weer die begeerte gekry het, om weer die pad te loop saam met God, want uit ervaring weet sy, God bly getrou. Jy vrou van God, jy word ook geroep om jou geloof skoene in God af te poets, of om jou stukkende skoene weg te gooi, of om jou skoene te herstel in Hom. Jou skoene is net ‘n voorstelling van die pad wat jy saam met God loop, en jou skoene maak deel uit van die wapenrusting wat jy elke dag moet aantrek vir Hom. As jy as vrou van God, innerlike skoonheid in Hom uitstraal, as die glimlag om jou mondhoeke jou liefde en blydskap vir jou Skepper verraai en as jy dapper elke dag Sy skoene aantrek wat Hy vir jou gee, dan het ek vir jou goeie nuus: “Jy vrou, staan jou skoene vol vir God elke dag, en al gaan dit met pyne en skete gepaard,  as jy volhard sal jou skoene net soos Ester s’n, ook eendag vervang word met “blink en wit skoene” in Hom. Skoene wat nooit weer sal breek of jou sal seermaak nie.