16 Apr 2012

Die regverdige het die moed van ‘n leeu.

Ek is seker elkeen van ons, het al ‘n stadium bereik in ons eie lewens, dat ons gevoel het, ons is op moedverlore se vlakte. Ons kan nie meer nie, of dinge het net te veel vir ons geword.

Die vraag wat elkeen dan in ons harte mee worstel is, hoe om weer nuwe moed en krag en selfs hoop in daardie omstandighede te kry. Elke gelowige kind van God weet, dat God is die een wat ons telkens weer nuwe hoop en moed kan gee in daardie omstandighede, maar tog sukkel ons om in geloof daaraan vas te gryp. Klaagliedere 3:25-26:”Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na Sy wil vra, dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.”

Dis nie verkeerd om foute te maak of om met jou eie swakheid innerlik te worstel nie. Jesus wat ons Hoëpriester van verlossing geword het, het medelye  met ons swakheid, omdat Hy self aan swakheid onderwerp was. Hebreërs 4:15: “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie. Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.” Jesus self, was blootgestel aan versoekinge, beproewinge en baie lyding. Maar Jesus self het gegroei in Sy lydingsproses in volmaaktheid, en daardeur het Hy die bron geword van ons saligheid en redding.

Net soos Jesus ‘n lydingsproses ondergaan het en gegroei het in volmaaktheid, ervaar ons ook in ons geloofslewe en ons verhouding met God, lyding tot verdieping in ons verhouding met God. Hierdie lyding kom in die vorm van beproewinge, storms, swaarkry en seer in ons lewens, maar die uiteinde daarvan is altyd groei nader aan God. As jy terugkyk op jou eie lewe, wanneer het jy die meeste gegroei na God? Of wanneer het jou verhouding met God  verdiep in Hom? Jy sal merk, dat dit juis in jou swaar tye, jou pyn, jou lyding en jou seer wat jy die meeste gesoek het na God, en ook gegroei het na God.

Selfs om die regte dinge te doen, moet jy lyding en seer verdra, want die gebroke wêreld leer ons van valsheid, leuens, korrupsie, opstand, magsug en geweld. Wat leer God ons, die waarheid….van liefde, geloof en vertroue in Hom. Om op te kom vir wat reg is, in ‘n misvormende wêreld is baie swaar. Elkeen van ons verlang aanvaarding, liefde en sekuriteit in ons lewens, en ons soek dit in die wêreld. En die dinge wat die wêreld ons bied, is geld, mag en besittings. Maak hierdie dinge ons werklik gelukkig? God weet, wat maak ons gelukkig, en dit is nie materiële dinge, of menslike dinge nie. God bied ons vryheid, ‘n oorvloed in Hom, onvoorwaardelike liefde en onvoorwaardelike aanvaarding en sekuriteit in Hom.

Die waarheid is, dat in jou groei na God, begin jy al hoe meer die behoefte ontwikkel om te doen wat reg is, want ons God staan vir reg en waarheid. In jou geestelike groei na God, ontdek jy die waarde van opregtheid en waarheid.

Wat maak jou as gelowige, regverdig? Kan ons enigsins regverdig wees voor God, met soveel gebrokenheid in ons. Hier kom God se onvoorwaardelike liefde en genade vir die mens na vore. Ons word regverdig verklaar voor God, deur Jesus Christus se volmaakte offer vir ons.

Wat beteken dit om regverdig te wees? Hoe tree iemand op wat regverdig handel?
‘n Regverdige is ‘n persoon wat in sy opregte optredes, dade en woorde daagliks groei na God. ‘n Regverdige is ook iemand wat volhard om die regte dinge te doen. ‘n Regverdige persoon is betroubaar, lojaal en standhoudend in sy verhouding met God. ‘n Regverdige soek nie sy eie eer of voordeel op, maar bly nederig in alles. ‘n Regverdige straal warmte, liefde en respek uit na ander. ‘n Regverdige sien om na Sy naaste in liefde.

Ek glo in my hart, as ons na bogenoemde kyk van die eienskappe van ‘n regverdige, ontbreek ons almal, ook ek in hierdie eienskappe. Dis waarom dit so belangrik is om te verstaan, dat om te groei na God is ‘n proses. Om as ‘n regverdige na God te groei, is ook ‘n proses, een wat met volharding en swaarkry gepaard gaan, maar waarvan jy die vrugte sal pluk as jy volhard in hierdie groei proses. Die woorde waarmee God jou wil bemoedig in hierdie skrywe is, dat as jy kies om as ‘n regverdige kind na Hom te groei in geloof en liefde, jy die moed van ‘n leeu in jou het (Spreuke 28:1).

Kom ons gaan kyk na die diepere prentjie. ‘n Leeu is kragtig, sterk en majestieus. ‘n Leeu gee nie op om sy prooi te jag nie, maar met deursettings vermoë jag hy tot hy iets gevang het, hy gee nie moed op nie. Sien vir ‘n oomblik ‘n leeu waar hy in die lang geel grasse lê. Vir ‘n oomblik gaan staan hy botstil. Jy hou jou asem op, in verwagting wat sy volgende reaksie gaan wees. Hy rek sy groot bek, en toe laat hy sy harde brulstem hoor, alles sidder en beef met die aanhoor van hierdie klanke digby jou. Dan staan hy op en gaan staan op sy sterk pote. Toe die leeu begin hardloop deur die gras, volg jou oë sy groot geel glansende liggaam deur die grasse. Jy verwonder jou met hoeveel kragtige hale hy deur die grasse beweeg, dan verdwyn hy tussen die skaduryke bome.

Jy dink na oor die prentjie. Die beeld van die prentjie slaan so jou asem weg oor die grootheid van hierdie dier. Die beeld van die grootheid, laat jou dink aan die Grootheid van God. Hy is ons Koning, en met Mag, Krag en met soveel majesteit regeer Hy oor die mens en oor Sy skepping. Die aarde sidder, vol van die Almag van ons God. Hy is ‘n Barmhartige en Regverdige Koning, ‘n God wat nie moed opgee met ons nie. Jesus Christus wat met soveel deursettings vermoë aan die kruis, oorwinning behaal het, en vir ons verlossing gebring het. Met reg en geregtigheid regeer Hy!

Waarom sal jy bang wees om die regte dinge te doen? Of waarom sal ons bang wees om regverdig op te tree? As Hy jou dan as ‘n regverdige kind van Hom, die moed, die dapperheid, die veglus en die krag gee om die regte dinge te doen. Jesaja 51:12:”Hoe is dit dan dat jy bang is vir ‘n sterflike mens, vir ‘n mens wat so maklik vergaan soos gras!”

Sekerlik gaan die gebroke wêreld met al sy valsheid, regstaan om jou te vertrap, sodra jy opstaan vir God om die regte dinge te doen, maar dan is dit belangrik om jouself te herinner aan Sy suiwere en kragtige Woord: “Die Regverdige het die moed van ‘n leeu” (Spreuke 28:1). En as jy so dink aan hierdie woorde, onthou ook dat Jesus Christus self, het die leeu van Juda geword, om Sy mense te lei na bevryding en verlossing uit die gebrokenheid en afvalligheid van die wêreld. Onthou dan ook deur dat God die wêreld oorwin het met liefde en regverdigheid, kan jy ook alles oorwin in Hom met Sy liefde en regverdigheid in jou.

Sefanja 2:3;    “Vra na die wil van die Here, alle nederiges in die land,
almal wat doen wat die Here wil,
Streef na geregtigheid, na nederigheid.”

No comments:

Post a Comment