Jy stap langs die see, jou voete
maak voetspore in die klam sand. Jy kan nie help om te wonder waarheen die
voetspore jou lei. Die wit golfies spoel vrolik oor jou tone. Die magtige
ruising van die see kom raak jou siel aan, dit bring ’n gevoel van kalmte en
rus in jou. Jy staar uit oor die vlaktes van die diep blou see. Die see is
geheimsinnig vir jou. Watse geheimenisse skuil alles daaronder in die kelders
van die see? Jy droom daarvan om tussen die reёnboog van helderkleurige visse
en swaaiende see plante deur te swem. Jou oё verwonder hul telkens aan die
werke van jou Skepper, as jy hierdie skouspel van glans en kleur bewonder. Dis
soos ’n sprokie wat voor jou geestesoog afspeel, en die harmonie daarvan streel
jou gemoed.
’n Groot wit golf klots hard teen
jou knieё, en dit bring jou terug na die werklikheid. Versigtig deins jy ’n
bietjie terug, na die strand se kant toe met jou voete. Jou oё gewaar dan die
wonder van al die skulpies wat op die see sand uitgespoel lê. Sommige van die
skulpe blink so in die helder sonlig, dat dit jou oё verblind. Jy buk af, en
jou vingers vroetel in die sand rond. Jy grawe ’n ronde skulpie uit. Die ronde
skulpie vind ’n plekkie in jou hand, jy lig dit hoog op, om die skulpie van
hoek tot kant te bekyk. Jy merk die fyn sirkels wat al om die skulpie se
voorkant trek. Die fyn sirkels laat jou dink aan die kringe en siklusse van die
lewe. Jy kan nie help om te wonder, wanneer die kringloop dan voltooi is nie.
“Wanneer het die skulpie dan volmaaktheid en perfeksie bereik?” Is dit werklik
die vraag wat jy moet vra? Is dit waarheen die kringe van die lewe jou na lei?
Na volmaaktheid en perfeksie. “Maar, Here hoe kan ek ooit volmaak of perfek
voor U staan, as daar soveel gebrokenheid in hierdie wêreld is? As ek so vol
swakheid is, en so vol foute is?” Dan herinner God jou aan uit Sy woord; “Ek
het medelye met jou swakheid en jou foute.” Hierdie gedagtes troos jou, en jy
bêre die skulpie in jou baadjie se sak.
Dan loer ’n nuwe skulpie vir jou.
Opgewonde grawe jy die skulpie uit onder die sand. Hierdie skulpie het jou
geroep met ’n helder pienk glans. Ook hierdie skulpie bestudeer jou oё
noukeurig. Die pienk glans in die skulpie herinner jou aan die mooi van die
lewe. Sagte pienk rose, blomme met pienk spatsels, jou gunsteling pienk rok,
sagte pienk pêrels. Die pienk glans grawe die mooiste skatte uit die kamers van
jou hart op. Die sagte pienk kleur laat jou ook dink aan God se liefde. God se
liefde en aanraking in jou lewe is ook so teer en sag en groot in glans, soos
hierdie sagte pienk kleur. Vir ’n oomblik druk jy die skulpie teen jou hart
vas, want God se liefde vir jou is so kosbaar en so spesiaal. Jy besluit om die
skulpie in jou baadjie se sak te plaas, want dit sal jou altyd herinner aan God
se ewige liefde vir jou.
Dan sien jou oё die skulpie raak met
’n snaakse vorm. Toe jy die skulpie in jou hand vashou, voel jou vingers
onmiddelik dat die buitekant van die
skulpie ’n growwe en harde tekstuur het, maar van binne is dit seep glad. Die
kontras van die hardheid en growwigheid, teenoor die sagtheid en gladheid,
prikkel jou baie. Terwyl jy daar uitstaan en uitkyk oor die see, met die
eienaardige skulpie in jou hand, swem jou gedagtes met jou voort, die diep blou
see in. Die hardheid en die growwigheid van die skulpie laat jou dink aan die
lewe. Die lewe is ook hard en grof soms, en selfs ongenaakbaar koud en leeg.
Maar die sagtheid en gladde tekstuur aan die ander kant laat jou weer dink aan
jou verhouding met God. Ten spyte van die harde en growwe lewe soms, het ons ’n
God wat ons van binne omskep in ’n sagte, gladde en lieflike mens vir Hom. Met
hierdie sagtheid van God in ons, kan ons die harde en growwe tye in ons lewens
ook oorkom. Die boodskap van hierdie skulpie is so kosbaar, dat jy ook hierdie
een in jou sak sit. Jou vingers omklem die skulpie stewig in jou sak, voordat
jy dit los.
Terwyl jy nog so staar na die
klotsende branders, merk jou oё die liggaam van ’n walvis op, wat uit die blou
waters op rys. Jy kyk met verwondering na hierdie massiewe vis, hoe dit opspring
in die lug, en met ’n groot plons terugsak in die waters. Die aksie van die
walvis se sprong verstom jou. ’n Glimlag verskyn om jou mondhoeke, want ook dit
laat jou dink aan die grootheid en almag van God. God is in beheer van Sy
skepping.
Jou tone kriewel in die nat sand, en
dan trek nog ’n skulpie jou aandag. Jy buk af en tel die skulpie op. Dit is ’n
ovaalvormige skulpie, wat heeltemaal toegerol is. Die toegerolde voue van die
skulpie laat jou dink aan God se beskerming en Sy ewigdurende liefde. Vir ’n
oomblik maak jy jou oё toe, en jy laat die wind toe, om jou te dryf na die
liefdevolle arms van jou God. Toegevou in Sy arms voel jy so tuis, so geliefd,
so gewaardeerd en so veilig. ’n Traan rol oor jou wang, want jy verlang om in
Sy arms te wees. In die sagte wind wat waai, is dit asof jy God se stem kan
hoor. “My kind, Ek is so lief vir jou, en Ek wil net die beste vir jou gee.”
’n Golfie verfris jou tone weer, en
spoel ’n spierwit skulpie uit. Jy gaan hurk in die sand om die skulpie van
nader te bekyk. Die groot spierwit skulp, rus op jou hand. Die besondere wit
glans van die skulp, praat met jou tot diep in jou siel. Die witheid laat jou
dink aan God, Sy reinheid, Sy heiligheid en Sy ongelooflike vrede. Jy kan nie
help om die begeerte uit jou hart te spreek van ’n intense verlange na God se
ewigdurende vrede, vir hierdie gebroke wêreld nie. Ook die skulpie klingel in
jou sak.
Meteens gewaar jy ’n baie klein
skulpie, terwyl dit blink in die son. Vinnig tel jy dit op. Dis so fyn en
klein, dat jy dit versigtig vashou in jou vingers, bang dat die skulpie mag
breek. ’n Nuwe glans verhelder jou oё op daardie oomblik, want jy besef so
klein en gering soos hierdie skulpie is, so klein en gering is elkeen van ons
in hierdie wêreld. Miskien is ons klein en gering in hierdie wêreld, maar in
God se hande is ons groot, is ons alles en nog meer. Al is ons harte klein in
swakheid, in God kan ons ’n groot hart hê, wat oorloop van vreugde en blydskap.
Versigtig plaas jy ook die skulpie in jou sak.
Jy staan op uit die sand en skud die
sand van jou klere af. Jou vingers omklem al die skulpies in jou baadjie se
sak. Al hierdie skulpies is so kosbaar, want elkeen bring ’n ander boodskap van
nuwe hoop, vrede, blydskap en liefde in Hom. Jy besluit dat al hierdie skulpies
in ’n mooi glas bottel hul plekkie sal vind in jou badkamer venster, en dat
elke keer as jy na hulle kyk, jy God se boodskappies in elkeen sal onthou.
Jy staar uit oor die blink waters,
en verbly jou aan die gedagte om te weet, God het vandag so spesiaal jou kom
aanraak met die skulpe op die strand. Partykeer kyk ons so vas teen die dinge
van die gebroke wêreld, dat ons nie eers meer die tyd neem om God se grootheid
en liefde, selfs in die geringste dingetjies om ons raak te sien nie, soos
onder andere skulpies nie.
Deur:
Marieke Zeevaart
No comments:
Post a Comment