Die wind waai deur murg en been. Jy stap voort, jou voete los voetspore in die sand. Kort-kort moet jy jou gesig bedek teen die venynige sand wat teen jou gesig opwaai. Jou vel voel droog en uitgeteer. Jou bene voel lam, asof hulle jou nie meer kan dra nie. Jou skouers is terneergeboë, dit voel vir jou of die laste op jou skouers te groot geword het. Jy kyk op na die bloedige son, wat jou brand met sy strale. “Here, is die son nie veronderstel om my te herinner aan U lig, in my lewe nie? Waarom sien ek net donkerte?” Dan gaan staan jy vir ‘n oomblik stil, en staar voor jou uit. Jy kan nie help om die vraag te vra, wat jou hart deurboor nie. “Here, waarheen lei hierdie pad my?” Om jou, sien jy net dorings en distels raak. Jou gedagtes voer jou na Moses, toe hy in die woestyn was. Dalk is hier ook ‘n brandende doringbos hier êrens, waar jou God is, waarna jy so verlang, maar wat jy net nie in hierdie woestyn kan vind nie. Jy onthou Moses se verwondering toe hy die verskynsel van die brandende doringbos aanskou het. Moses het gevoel hy moet nader gaan, om dit te gaan bekyk. Toe Moses nader gekom het aan die doringbos, het ‘n engel vanuit ‘n vlam uit die doringbos tot hom gespreek. Eksodus 3:5: “Die Here sê toe vir hom: “Moenie nog nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” Weer kruip die donkerte in jou hart op. “Hoe kan hierdie woestyn gewyde grond wees, Here? Hoe kan ek in verwondering wees oor U soos wat Moses was, terwyl ek diep in my voel, of ek wegkwyn in hierdie woestyn.” Dan ruk ‘n opstandige wind jou van jou voete af, en jy val neer op die warm sand. Al wat daar uit jou hart kom op daardie oomblik is ‘n lang diep sug. Jy dink weer aan Moses in die woestyn. “Hier is nie eers ‘n Rooi See nie, waardeur ek dalk my weg kan vind nie?” Jy sien voor jou geestesoog die prentjie van Moses en Sy volk, hoe hulle met vrees die gevaar, van Farao en sy manne met hul verwoede ry tuie sien aankom het. Honderde van sy soldate pyl op hulle af. En dan Moses wat sy staf oplig, en die waters van die Rooi See wat ‘n droë pad oopbreek vir hulle. “Ek weet Here, daar het U gesorg vir U volk, waarom sorg U nie vir my in hierdie woestyn nie?” roep jou dorstige stem dit uit oor die vlaktes.
Een ding wat jy eintlik nie verstaan is, hoe het jy eintlik in hierdie woestyn te lande gekom? En toe brand dit in jou borskas met die wete, toe jy na God begin soek het in jou lewe, het dit jou gelei na hierdie woestyn toe. “Waarom, Here, ek verstaan nie. Is daar hoop vir my in hierdie woestyn Here, want al wat ek sien is droogte, dors, en dorings wat diep in my hart steek.” Terwyl jy nog so mismoedig op die warm sand sit, gewaar jou oog skielik doer in die vêrtes ‘n klip, met ‘n klein oorhangende takkie. Jou bene kan jou nie vinnig genoeg soontoe dra nie. Met jou asem hortend en hygend gaan sit jy op die klip. Jy kyk boontoe na die oorhangende takkie, in jou hart is jy dankbaar vir die bietjie skaduwee wat jy gevind het, teen die weerbarstige son. Jou keel brand en jou lippe het barste in van droogheid. Sjoe, hoe verlang jy nie, maar net na ‘n bietjie water nie, al is dit maar net om jou keel nat te maak. Dan maak jy jou oë toe vir ‘n oomblik, en luister na die woestyn geluide om jou, maar al wat jy hoor is die wind wat hard in jou ore suis. “Here, ek verlang so na U lewendige waters. Wat het van die fonteine geword, wat altyd in my hart vir U geborrel het?” Hees, roep jou stem dit uit: “Here, as daar dan nie water in hierdie woestyn is nie, kom maak U my vol met U lewendige waters. Here, ek dors na U!” Die takkie sus in die wind, en dan gewaar jy dit, daar is ‘n dun straaltjie water onder by die stammetjie van die boom waaruit die takkie groei. Opgewonde spring jy op, en skep die bietjie water op en bring dit met groot dankbaarheid na jou verdroogde mond toe. Die water is net genoeg om jou keel nat te maak, maar jy is ongelooflik dankbaar. Dis asof hierdie bietjie water genoeg was, om jou gees in jou weer aan te wakker, jou gees in God wat so moeg en verslae geword het, in hierdie woestyn. Dit herinner jou aan die vers in die bybel wat sê, Jesaja 26:19 “Soos die dou lewe gee, gee U krag lewe, Here.” Nuwe hoop vlam weer op in jou, en dis asof jy die wonder van die brandende doringbos en God se heerlikheid in jou voel opspring.
Jy skep weer nuwe moed. “Here, wat moet ek doen om U te vind in hierdie woestyn?” Jou oë soek na ‘n pad uit die woestyn uit. Jy hoor God se stem in jou hart opbruis. “Ek vra geloof in My, jou geloof is kosbaarder as enige iets vir My.” “Here, maar ek glo in U!” roep jou stem dit terug. God kom raak jou saggies in jou gemoed weer aan. “Ek betoon My getrou, aan die getroue, opreg teenoor die opregte, rein teenoor die reine. As jy getrou bly aan My woord, en op my vertrou ten alle tye, ook in hierdie woestyn van jou lewe, sal jy My vind. Wie op My vertrou, word nie teleurgestel nie (Jesaja 49:23).” Jy bepeins die woorde. “Ag, Here ek weet ek het mismoedig geraak in hierdie woestyn, ek weet my hart het baie swaar na U gesoek, en soms het ek selfs getwyfel in U? Here, vergewe my daarvoor, want ek is vol gebreke en swakheid omring my.” ‘n Innige en diep hongerte stoot op in jou liggaam. ‘n Hongerte wat jy voel, net God jou mee kan versadig maak. ‘n Hongerte van verlange om in Sy arms te wees, ‘n hongerte van oorgawe in Hom. Dan antwoord God die hongerte in jou met die woorde uit Jesaja 49:10. “Hulle sal nie honger of dors kry nie, die woestynhitte en die son sal hulle nie brand nie, want Hy wat Hom oor hulle ontferm het, sal hulle onder Sy sorg neem.” Dan skielik, merk jy die klein vruggie aan die geringe boompie, wat se takkie vir jou bietjie skaduwee verleen. Jou hande reik uit daarna en pluk dit af. Jy beskou eers die vruggie met jou oë. Jou gees herinner jou daaraan, dat net soos wat die boompie vrugte dra, so moet jou geloof in God ook vrugte dra. “Maar hoe kan ek in hierdie woestyn vrugte dra, vir U Here?” Die vraag veroorsaak ‘n brand sensasie op jou lippe. Jy voel asof jou hart deur die bladsye van jou bybel blaai, opsoek na Hom. Skielik tref die antwoord jou, diep in jou binneste.
“Soek My in My woord, in jou bybel. Moenie ophou om na My te soek nie, want al jou vrae word daarin beantwoord. My Woord kan vir jou ‘n pad oopbreek uit hierdie woestyn uit.” Dan sien jy jou bybel raak, waar dit in die sand lê, terwyl die wind die bladsye telkens verwoed omblaai. Vinnig staan jy op en grawe dit uit die sand uit, jy stof die ergste sand af. Weer sink dit diep in jou hart, want jy besef in hierdie woestyn het jy dit moeilik gevind om na God te soek in Sy woord. Jy het vergeet hoe kosbaar jou bybel vir jou is. Steeds het jy gesoek na antwoorde in hierdie woestyn, en die antwoorde was altyd hier by jou. God was altyd hier by jou. Dan tref die gedagte jou, dat die oomblik wat jy God begin soek het in hierdie woestyn, jy Hom gevind het. Meer nog, Hy het vir jou in die woestyn gesorg, jy het nuwe krag ontvang in Hom. Toe jy God gesmeek het, om jou vreeslike dors te les, het Hy jou na die dun straaltjie water gelei. Toe jy die hongerte in jou ervaar het na Hom, het Hy jou kom aanmoedig en vertroos in jou gees. Jy onthou van die klein vruggie wat jy van die boom afgepluk het. Jou hand vind dit weer op die klip. Geesdriftig breek jy die vruggie oop, jy merk die saadjies in die vruggie aan weerskante. Weer kom God se stem na jou. “Jy sien geloof in My, begin met ‘n klein saadjie. Soms hael dit in jou lewe om die saadjie, soms verdroog die grond rondom die saadjie, in die woestyn van jou lewe. En soms, reën dit op die saadjie, en lei weer tot nuwe groei in jou lewe. Wanneer jy dan begin groei na My, begin jy die saadjies uitdeel vir ander, plant jy saadjies van My liefde in ander, en so groei jy tot ‘n pragtige boom, wat vrugte dra van ware geloof in My.” Steeds verstom, staar jy na die wonder van die vruggie in jou hand.
Dan rol die trane in jou gemoed, want jy voel op daardie oomblik, jy het God gevind in die woestyn van jou lewe. Saggies in jou hart praat jy met God. “Here, ek besef nou dat in hierdie woestyn maak U my lewe rein vir U. In hierdie tyd vorm U my tot die groot ryklike doel wat U met my in my lewe het. Here, wys my wat moet ek leer uit die woestyn deel van my lewe?” Sy sagte hand raak jou gebrande gesig sagkens aan en dan hoor jy Sy kosbare woorde. “My dierbare kind, in die woestyn van jou lewe, bevry Ek jou van al jou pyn. Ek vlek al jou pyn oop, tot in die vêrste dieptes van jou gebeentes en vlees. Ek breek deur die toe geslote deure van jou hart, sodat jy instaat kan wees om jou pyn vir my te gee. Ek leer jou om die wat jou so verskriklik pyn aangedoen het, van harte te vergewe. Ek leer jou om te vergeet, en nie weer terug te kyk na jou pyn toe nie. Ek leer jou om alles voor My neer te lê in jou lewe, sodat Ek alles vir jou sal word, want alleen dan sal jy volkome My liefde vir jou verstaan. Ek leer jou om jouself raak te sien, deur My liefdevolle oë, want jy is so mooi en aanneemlik vir My. Ek vernuwe jou gedagtes, jou hart, jou gees en jou liggaam, sodat alles in jou as een vir My kan funksioneer.” Met elke woord van God is dit asof daar weer nuwe lewe in jou gees ingeblaas word. Jou siel gryp vas aan elke asemteug van God. Die son se strale roep na jou in die wolke en jy draai jou kop na die son toe. God se warm sonstrale verwarm jou hart weer van voor af. Maleagi 4:2: “Maar vir julle wat eerbied het vir My Naam, sal die son van redding skyn, met genesing in Sy strale.” Jy besef dat daar letterlik genesing in God se lig is, Sy lig kan jou uit die donker woestyn uitlei, Sy lig kan vir jou genesing en heling beteken, Sy lig kan jou lei na uitkoms toe. Maar jy moet soek na Sy lig in jou woestyn deel van jou lewe, en jyself sal sien hoe die lig vir jou opgaan en steeds ondergaan nes die son, maar dat daar niks tekort kom aan Sy gloed nie. Jy staar stip na die son, en raak bewus van God se grootheid en almag, van vooraf.
Weer brand die vraag in jou hart. “Here, ek verstaan nou dat in hierdie woestyn van my lewe ek moes groei tot ‘n groter geloof in U, maar hoe behou ek die groot geloof in U, as ek dit eers gevind het?” God antwoord jou, uit Maleagi 3:10: “Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie. Ek sal die sprinkane keer, dat hulle nie die oes op julle land vernietig nie, en dat julle wingerde nie sonder vrugte is nie.” Hierdie woorde is vir jou so mooi, dat jy opgewonde opstaan, met nuwe moed in jou hart en gees, opsoek na ‘n pad uit die woestyn deel van jou lewe.
Miskien ervaar jy die woestyn in jou lewe, in die vorm van ‘n siekte, miskien ervaar jy dit in jou verlede as kind, miskien ervaar jy dit in jou ma of in jou pa, miskien in die vorm van vreeslike verwerping. Hoe dit ook al sy, as jy mooi oor jou lewe gaan besin, sal jy besef dat in hierdie woestyn deel van jou lewe, het jy die meeste gegroei na God toe. In die woestyn word ons weer geroep tot ons nederige afhanklikheid van God, tot ons liefde vir God, maar die heel belangrikste, God se liefde vir jou. Elke kind van God loop eers deur ‘n woestyn, voor ons Sy beloofde land vir ons kan binne gaan. Maar dis in hierdie woestyn wat ons leer om alles neer te lê vir Hom, ons het net 'n bietjie water, net 'n bietjie kos, maar ons het geloof en as ons geloof het, al is dit so gering soos 'n mosterdsaadjie kan ons uit die woestyn uitkom. Dan sal Hy vir ons ‘n pad oopbreek uit die woestyn uit, ‘n pad belaai met Sy vrugte, Sy seëninge, Sy goedheid. En om jou, sal jy nie meer dorings en distels en droogte sien nie, maar ‘n weelde van helderkleurige blomme, groen grasvelde, en boomryke lanings. Jesaja 43:19: “Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.”
No comments:
Post a Comment