Sefanja 3:17: “Die Here jou God is by jou, Hy die krygsman wat red, Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil tevrede in Sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.”
Wat beteken dit vir jou om te weet dat God, vol vreugde is oor jou. Miskien dink jy in jou hart, hoe kan God vol vreugde wees oor my? Ek beteken dan niks vir hierdie wêreld nie. Ek het nie baie vriende of vriendinne nie, ek staan nie eerste in my klas, ek is nie ‘n top atleet nie, ek is nie eers mooi nie.
Hoeveel van ons voel so, oor ons self. Voel jy ook so oor jouself? Sien jy nie meer jouself raak deur die oë van jou Skepper nie. Ten spyte van hierdie gevoelens wil ek jou op nog iets wys.
Miskien is jy nie ‘n top atleet nie, maar jy kan loop.
Miskien is jy nie ‘n model nie, maar jou gesig straal elke dag vir Hom.
Miskien is jy nie die slimste in die klas nie, maar jy het wysheid en kennis in God.
Miskien het jy nie baie vriende of vriendinne nie?
Het jy al gedink wie is ware en opregte vriendinne en vriende vir jou?
Hulle wat in jou glo, hulle wat jou bemoedig deur moeilike tye, hulle op wie se skouers jy kan snik, hulle wat jou liefhet vir wie jy is.
Psalm 4:8: “U het my reeds groter vreugde laat belewe, as wat daar is by mense wat koring en wyn in oorvloed het.”
Jy sien, so dikwels kyk ons verby die dinge wat God in ons raaksien, en konsentreer te veel op wat die wêreld van ons dink, of selfs nog meer, wat mense van ons dink. Vir God is dit nie belangrik hoe jy lyk en wie jy is nie. Hy kyk baie dieper, Hy kyk na jou hart. Hy sien dwarsdeur jou.
Liefde vir God vind jy net in jou hart, daarmee saam liefde vir jou medemens. As jy nie God ken met jou hart nie, sal jy nie verstaan wat dit is om liefde te gee of, te ontvang nie. Dit is ook waarom Jesus sê, dat die heel grootste gebod is die liefde. Markus 12:30: “Jy moet die Here jou God liefhê, met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag. Die tweede is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” En waar is die wortel van liefde gesetel in jou?
In jou hart. Met jou hart dien jy die Here, met jou hart soek jy troos by die Here, met jou hart het jy Hom onvoorwaardelik lief, in jou hart is Sy vreugde, vrede en blydskap. Dis waarom die Here sê, Hy kyk na jou hart, want Hy weet dis waar jou hele menswees gesetel is, en dis daar waar Hy jou elke dag wil aanraak. Mattheus 6:21: “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” Jy sien God ken jou pyn, jou eensaamheid, jou verdriet, maar Hy sien ook jou hart raak wat brand van liefde vir Hom.
Kom ons gaan delf ‘n bietjie dieper. Ek wil vandag vir jou wys, waarom is jou Skepper en Here vol vreugde oor jou. Hoe sien jou Skepper jou deur Sy liefdevolle oë?
Sien die volgende prentjie voor jou geestesoog afspeel. Jy kan jou oë toemaak, en laat Sy gees vir jou hierdie toneel openbaar, laat Sy gees jou kom aanraak nou, raak stil voor Hom.
Jy is by ‘n skool en loop op die terrein rond. Terwyl jy so loop, sien jy ‘n dogtertjie raak onder ‘n boom, afgesonder en alleen. Sy sit eenkant en gesels met niemand nie. Haar koppie hang, en haar skouertjies toon die indruk van baie mismoedigheid. Jy merk dat sy vir ‘n oomblik opkyk, en wanneer sy jou sien, gooi sy vinnig haar vaalbruin lang slierte voor haar gesig, jy sien die traantjies wat in haar oë blink. Jou hart word gevul vol met ontsag vir hierdie stukkende dogtertjie. Jy stap na haar toe en neem sitplek langs haar in. Sy vlieg verskrik op, maar dan neem jy haar vuil verweerde handjie in joune, ... en dan skielik voel sy so broos, dat iets in haar oopbreek. Sy begin onbedaarlik te snik. Jy hou haar vas, en vir ‘n rukkie is daar doodse stilte. ‘n Sagte wind dwarrel deur jul hare, en in hierdie sagte wind, hoor jy Sy stem, saggies, teer, en vol liefde; “My kind jy het my vreugde vir hierdie dogtertjie gebring, jy het haar kom aanraak met My liefde vandag. Sy was verlore en bitterlik seer gemaak, maar jy het haar terug gebring na my. Jy het nie uit selfsug of eie belang na haar toe uitgereik nie, maar in jou brandende liefde vir My. ” En dan die woorde van jou Skepper wat soos lewendige golwe in jou druis; “My kind, Ek is vol vreugde oor jou, Ek is stil tevrede in My liefde vir jou.” Jy hoor hierdie woorde van God se stem in die wind herhaaldelik. Hierdie kosbare woorde van jou liefdevolle God, weerklink soos ‘n eggo in jou binneste. “My kind, Ek is vol vreugde oor jou, Ek is stil tevrede in My liefde vir jou.”
Verstaan jy nou, waarom jou Here vol vreugde is oor jou? Hy is vol vreugde oor jou, omdat jy Sy kind is, want jy het Hom verkies bo al die ander dinge van die wêreld. Hy is vol vreugde oor jou, omdat jou gesig elke dag straal vir Hom. Hy is vol vreugde oor jou, omdat jy so lief is vir Hom, dat jy nie skaam is om dit te wys nie, jy straal elke dag vir Hom. Hy is vol vreugde oor jou omdat jy glo in Hom.
Maar om te glo in God, beteken ook om in jouself te glo as mens. Onthou, Hy het ‘n baie mooi prentjie gesien, wat soos ‘n skildery voor Hom afgespeel het, ‘n ware “Picasso”, kosbaar en dierbaar, toe Hy jou in jou moeder se skoot aanmekaar geweef het en geskep het.
Dalk brand daar nog ‘n splinter in jou oog, wat baie pyn in jou hart veroorsaak. Daardie splinter veroorsaak dat jy geestelik blind is, gevolglik kan jy nie sien hoe mooi jy is in Sy oë nie. Kom kniel voor jou Here neer, laat sak jou kop op sy skoot en huil jou hart uit. Stort jou kwellinge en bekommernisse voor Hom uit, vra genesing en vergifnis vir jou swakhede.
Psalm 142: 2-4: “Ek stort my klagte uit voor sy aangesig, ek maak voor Sy aangesig my nood bekend. As my gees in my versmag, dan ken U my pad.”
En terwyl jy so huil, voel jy Sy teder en sagte hande vryf jou pragtige hare sagkens, en jy hoor hoe Hy oor en oor vir jou sê; “My kind jy is so mooi vir My.” Dan lig jy jou kop op, en jou rooi behuilde gesig sien Hom raak, waar Hy vir jou sagkens glimlag, met ‘n liefde wat niemand eens kan beskryf nie. Maar jy, jy voel daardie warm en opregte liefde in jou hart van Hom. Meteens verdwyn die dowwe blik in jou oë en jy sien jouself in Sy oë raak. Golwe van tevredenheid, vergenoegdheid, voldaanheid en ware geluk spoel oor jou, en jy gryp Sy hande in jou hande vas. Op daardie oomblik herinner Hy jou uit Sy woord aan Psalm 112: “Die regverdige sal nooit wankel nie, maar sal altyd onthou word.”
Hoor jy die woorde? Hy sal jou altyd onthou. Begin vandag en sien jouself deur Sy oë raak, want jy is pragtig, mooi, goed genoeg en aanneemlik vir Hom. Efesiërs 1:18: “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop Sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot Sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.”
Jy wat blind is in jouself, sien jouself vandag in Sy oë raak.
Jy wat verbitterd en verhard is, strek jou hande uit na Hom, sodat Hy jou kan kom om jou aan te raak, dan sal alle bitterheid en haat in jou smelt, en jy sal Hom raaksien, en jy sal jouself raaksien deur Hom.
Jy wat seer het, laat Hom toe om die seer te verwyder.
Jy wat twyfel in jouself, glo in Hom, want Hy glo in jou.
Jy wat nie liefde in jou lewe ervaar het nie, ontvang Sy ewigdurende liefde vir jou.
Mag julle elke dag van Sy ewigdurende liefde leer. Mag julle groei in Sy wysheid, wat kosbaarder is as goud of silwer. En die heel belangrikste, mag elkeen van julle weet in julle harte, mag dit gebrandmerk wees in julle harte,.. dat julle iemand het, wat in julle glo. Julle het iemand wat lief is vir julle, en julle het iemand wat julle aanvaar met al jul gebreke en swakhede. En hierdie iemand is niemand anders, as jul Skepper, Vader en Here Jesus nie.
En elke keer as jy bedroef, verstoot of niksseggend voel, onthou dan die woorde in Sefanja.
Sefanja 3:17: “Die Here jou God is by jou, Hy die krygsman wat red, Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil tevrede in Sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.”
No comments:
Post a Comment