Gebed.
Nehemia ontvang die boodskap dat die Judeërs uit die ballingskap vrygelaat is, maar dat daar groot ellende en smaad onder hulle is, omdat die mure van Jerusalem plat lê in puin, en dat die stadspoorte verbrand is. Dit raak Nehemia se hart baie diep, en hy voel ontroerd daaroor. Hy gaan sit op ‘n koppie, en hy raak stil voor God. Nehemia laat sak sy kop en huil en treur bitterlik voor God. In sy hart voel hy so diep bedroef, asof hy God se pyn en genade in hom kan voel. God se stem weerklink in sy hart; “Ek treur oor My volk oor My kinders.” Nehemia besef met die woorde dat soos wat hy rou, rou God ook. Hy kan die pyn van God voel, hoe dit deur hom steek. Sy trane brand op sy wange, miskien omdat hy brandend in homself ‘n antwoord by God soek. In hierdie omstandighede raak hy bewus, hoe nodig hy God het, en hoe diep afhanklik hy is van God, daarom stort hy sy hart uit, in ‘n ernstige gebed, teenoor sy God. Nehemia 1:5: “Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God, wat U verbond en U troue liefde handhaaf, teenoor die wat vir U liefhet en U gebooie gehoorsaam, luister tog, gee tog ag op die gebed wat ek, U dienaar, sonder ophou tot U bid.”
In gebed spreek Nehemia sy hart uit in versugtinge voor God. Dis juis in hierdie gebed, wat Nehemia naby aan God voel. “GEBED” is die heel belangrikste bousteen in die geloof, omdat dit die grondslag vorm van ons verhouding met God. Juis in ons gebede ondersoek ons, onsself voor God, word ons gelei tot intense dieper nadenke in God. In ons gebed, kom ons in aanraking met ons eie hart en siel voor God. Ons gebede lei tot ‘n dieper geestelike groei na God. Nehemia wat ‘n goeie verhouding met God gehad het, het geweet dat hy nie God se roeping vir hom, om Jerusalem se mure te herbou te gehoorsaam, sonder dat hy eers in smekinge en pleit voor God gaan staan het, in ‘n diep afhanklike gebed. Gebed is deel van die rypwording proses in die geloof. God kan die saadjies in ons harte plant, maar as die saadjie nie bewus is daarvan, dat Hy God nodig het vir water en lig om te kan groei nie, dan kan die saadjie nie groei tot God. Dis waarom dit so belangrik is dat ons steeds in gebed, sal groei tot ryper volwassenheid in ons liefde vir Hom. Gebed skep ruimte vir God in jou lewe, ‘n ruimte om te kan groei, ‘n ruimte om God te kan vind, ‘n ruimte om my eie identiteit in Hom te soek. Gebed is onbaatsugtig, dit beteken ek soek nie my eie belange op nie, maar die van God s’n. Jou gebedslewe kan met ‘n weegskaal vergelyk word. God is bo in alles, en ek kantel na onder toe. Dis belangrik om te onthou dat jou innerlike en diep gebed woorde, moet spreek van opregte woorde. Woorde wat getuig van nederigheid, afhanklikheid, diepe verwondering voor God, dankbaarheid en lof vir God. Jou gebed met God, omsluit jou harts oortuiging in Hom. Dit getuig van jou liefde vir Hom, en jou toegewydheid aan Hom. Gebed berei die grond voor vir God. Dis in jou gebed wat God die grond om jou kan omspit, en as die grond vrugbaar is, kan nuwe groei eers plaasvind. Daarom is dit so belangrik dat ons gebed die fondasie vorm, van waarop ons bou.
Wat vra God van ons, in ons gebed? Word ons gebede sommer net beantwoord? Nee, gebed leer ons om geduldig op God se antwoord te wag. Gebed skep ruimte om te kan groei na God. En hoe geduldiger ons wag op God se antwoord, hoeveel te meer groei ons, in ons liefde vir Hom. Hoe geduldig was Nehemia nie, in sy gebede tot God. So geduldig, dat hy vir vier maande lank hom afgesonder het vir God, om te wag vir God se antwoord, God se leiding. Jy sien, as jy geduld leer in jou gebede, skep dit geleentheid vir God, om aan jou te skaaf as mens vir Hom. Terwyl jy so geduldig wag vir God, is God besig om aan jou te skaaf en te beitel vir Hom. Dink maar aan ‘n stuk hout. Voor jy begin skaaf het aan die hout, was die hout grof en stomp, maar toe jy die skaaf deur die hout velle trek, het die hout begin vorm aanneem. En hoe meer jy geskaaf het, hoe meer het die hout die perfekte vorm aangeneem, wat jy in gedagte gehad het om te maak daarvan. So vorm God jou ook, in jou gebed.
Gebed moet deel uit van maak van ons daaglikse wandel met God. Ons moet so groei na God, dat ons gebedslewe, nie maar net as ‘n ritueel beskou word nie, maar ‘n harts verlange en begeerte, om innig en diep gesprekke met God te kan voer. God moet vir jou letterlik soos ‘n “Vaderfiguur” word, iemand op wie se skouer jy altyd kan huil, iemand wat jou verstaan, iemand wat jou drome ken, iemand wat altyd luister na jou. God is iemand wat jou nooit sal wegwys nie, maak nie saak watter foute jy begaan het nie, Hy is daar vir jou en Hy vergewe.
Dis juis in ons gebed ook, wat ons God se liefdevolle karakter leer ken. Met hoeveel geduld luister God nie na ons gebede en smekinge nie. Hoe verdraagsaam is ons God nie met ons nie? Met hoeveel deernis, liefde en genade, kyk ons God nie na ons nie?
Beantwoord ons Sy liefde en deernis vir ons, met dieselfde liefde en ontsag? Spreek ons gebedslewe van ‘n innerlike en liefdevolle verhouding met God?
Waarom skuif ons nie die eie – ek opsy, en begin meer ruimte en plek te maak vir God se werking in ons lewens nie? Begin met, “Ek, Here Jesus, staan skuldig voor U, en is nie werd om U kind genoem te word nie. Ek is vol swakhede en foute, maar U genade dra my elke dag. Vergewe my Here, dat ek U nie meer raak sien in My lewe nie.” As ons so voor ons God kom kniel, in bittere nederige afhanklikheid en ‘n brandende liefde vir Hom, sal Hy Hom, weer oor ons ontferm.
Mag jy elke dag in jou gebedslewe God se werklike liefde vir jou ontdek!