Belydenis.
Dis snerpend koud op die berg en jou voete wil-wil gly onder jou uit. Dis glad en ysig. Walms verskyn om jou mondhoeke, soos wat jy die koue lug inasem. Jy vryf jou hande teen mekaar, om bietjie hitte te verkry. Met elke tree wat jy gee, is jy onseker, bang en benoud. Wat as ek die volgende vashou plek, misgryp? Wat as ek val? En tog is daar hierdie innerlike krag in jou, wat jou elke tree vorentoe dra. ‘n Arend maak ‘n draai oor die ys berg. Jy staar met verwondering na die arend. So ‘n majestueuse asemrowende voël. Met kragtige hale weerklink sy vlerke bo jou. Jou gedagtes voer jou terug na God se woord. “Julle sal hardloop met arendsvlerke sonder dat julle moeg sal word.” Weer en weer prik dit in jou gedagtes soos ‘n naald. “Klim, bly klim. Moenie afkyk grond toe nie, moenie bang word nie.” Maar dis asof jou siel dit wil uitskreeu; “Waaraan kan ek vasklou of vasgryp Here, sodat ek nie sal uitsak of val nie. Ek hoor hoe lag die mense daar onder my uit, hulle wag dat ek moet val, gly....” Dan vat jou hand die growwe tou vas wat om jou lyf gespan is, jou vingers omklem die knope. Hierdie tou bind jou aan die berg wat jy klim, dit hou jou vas, en as jy val is dit die tou wat jou sekuriteit en vastrap plek verleen. Jy is met jou lewe gebind aan hierdie tou. Die gekrys van die arend weerklink, weer bo jou in die wolke, en God vestig weer jou aandag op die tou. “Bind jou aan My, my kind, dan sal jy nie val. Jy het My nodig!” Toe kom God se boodskap jou aanraak in jou hart. Hierdie tou is ‘n simbool van jou verbintenis met God. As jy jouself bind aan God, herken jy, jy het Hom nodig. Daardeur herken jy, jy is swak, vol foute en gate in jou siel, alleen en afhanklik van Hom...
Jy sien hoe die grou wolke bo jou verrys, maar jy sien ook die son se helder goue strale skiet deur die donker wolke. Hierdie skilderagtige prentjie inspireer jou, omdat jy voel al is dit grys om jou, is daar ‘n helder lig wat skyn, Sy lig. Maar om Sy lig in jou lewe te waardeer, moet jy dit raaksien deur die donkertes van die kelders van jou hart en van die wêreld. Jy moet vasgryp aan daardie tou, wat jou bind aan Hom. Om jouself te bind aan God, vereis oorgawe van jou kant af. Hierdie oorgawe is gewortel diep in jou hart. Dit is die wortel van belydenis. Belydenis is om my gevoelens op sy te skuif, my seer vir God te gee, ook my skuld en sondes in Sy hande te kan gee. Belydenis gaan oor, ek doen weg met die eie “ek” in my, en maak ruimte vir God se werke in my. Belydenis is om jou hande op te lig na die hemel, met trane en passie in jou oë en dit uit jou hart uit te skreeu; “Here, ek doen so baie verkeerde dinge. Here, ek maak so baie mense seer, ek vertrap mense ook so ver as wat ek gaan!”
Belydenis is om begrip te hê vir God se genade. Genade is al waarop ons kan staan op die ou end van die dag, maar dis genoeg, al die ander dinge het ons nie nodig nie. Waar begin God se genade? Besef jy werklik wat Hy gedoen het, toe Hy daardie tou uit die hemel laat daal het, en dit om jou lyf gespan het. Daardie tou wat keer dat jy val, daardie tou wat jou vashou elke tree vorentoe. Daardie tou wys na Jesus Christus. Jesus het jou gevang, toe jy wou val, Jesus het jou bevry toe jy die ysige dood in die gesig gestaar het, Jesus het jou genees van al jou pyn, wat soos naalde in jou, in gepen was. Met Sy lyding, kruisiging en dood, het Hy elke naald wat vir jou pyn veroorsaak het, het Hy kom verwyder, een vir een, totdat alles verwyder was. Tot jy as persoon heel was vir Hom.
Hierdie genade tou, het vir jou redding gebring op alle vlakke in hierdie gebroke wêreld. God se boodskap sink diep in jou hart in, terwyl jy teen die berghange hang aan die tou. Jy kyk weer op na die lug, en die son verblind jou sig met sy skerpheid. Hoe groot is God se werke en liefde nie? Hy het selfs Sy enigste Seun vir jou gegee, om daardie hoogste prys vir elkeen van ons te betaal. Jy kan vry wees van die gebrokenheid van hierdie wêreld, en al die ander dinge wat jou gees bind aan sondes, foute en vuilheid in jou.
Jy slaan nog ‘n pen in die ys piek, maar jy kan nie help om te wonder, hoe moet ek nou verder. Jy het die geestelike toerusting, en jy het God se tou gevind, maar wat nou? Hoe maak jy Jesus se tou om jou lyf, jou eie? Hoe word jy as mens een met hierdie tou? ‘n Ysige wind suis in jou ore, en jy voel van balans af, maar gryp gou vas aan die tou. Dan is dit asof God jou vuriglik verwarm in jou hart, dit is in kontras met die ysige koue wat jy ervaar op hierdie ysberg. “Bind jou aan Jesus Christus. Leer van Sy liefde, Sy trou, Sy barmhartigheid, Sy genade, Sy troos. As jy jouself so bind aan Christus, sal jy weet hoe om Sy tou van redding te gebruik. Sal jy weet hoe afhanklik jy is van Hom. Sal jy weet hoe lief Hy jou het.”
Nehemia laat sak sy kop, in diepe afhanklikheid van God en weet dat hy God nodig het vir die roeping waarvoor hy hom bestem het. Nie so seer om die mure te gaan herbou van Jerusalem nie, maar om Sy volk te lei, en te bemoedig in Hom. In sy intense gebed tot God, raak hy van vooraf bewus van sy verbondenheid met God. Hoe is ons verbind aan God? Om gebind tot iets te wees, is soos om ‘n tou om jou lyf te hê, terwyl jy berg klim. Jy weet jy kan nie klim sonder daardie tou nie, want daardie tou hou jou vas en lei jou na groter hoogtes toe op die berg. So is dit ook met jou geloof in God. As jy sê jy glo in God, dan bind jy jouself aan God.