7 Oct 2012

Skulpies

Jy stap langs die see, jou voete maak voetspore in die klam sand. Jy kan nie help om te wonder waarheen die voetspore jou lei. Die wit golfies spoel vrolik oor jou tone. Die magtige ruising van die see kom raak jou siel aan, dit bring ’n gevoel van kalmte en rus in jou. Jy staar uit oor die vlaktes van die diep blou see. Die see is geheimsinnig vir jou. Watse geheimenisse skuil alles daaronder in die kelders van die see? Jy droom daarvan om tussen die reёnboog van helderkleurige visse en swaaiende see plante deur te swem. Jou oё verwonder hul telkens aan die werke van jou Skepper, as jy hierdie skouspel van glans en kleur bewonder. Dis soos ’n sprokie wat voor jou geestesoog afspeel, en die harmonie daarvan streel jou gemoed.

’n Groot wit golf klots hard teen jou knieё, en dit bring jou terug na die werklikheid. Versigtig deins jy ’n bietjie terug, na die strand se kant toe met jou voete. Jou oё gewaar dan die wonder van al die skulpies wat op die see sand uitgespoel lê. Sommige van die skulpe blink so in die helder sonlig, dat dit jou oё verblind. Jy buk af, en jou vingers vroetel in die sand rond. Jy grawe ’n ronde skulpie uit. Die ronde skulpie vind ’n plekkie in jou hand, jy lig dit hoog op, om die skulpie van hoek tot kant te bekyk. Jy merk die fyn sirkels wat al om die skulpie se voorkant trek. Die fyn sirkels laat jou dink aan die kringe en siklusse van die lewe. Jy kan nie help om te wonder, wanneer die kringloop dan voltooi is nie. “Wanneer het die skulpie dan volmaaktheid en perfeksie bereik?” Is dit werklik die vraag wat jy moet vra? Is dit waarheen die kringe van die lewe jou na lei? Na volmaaktheid en perfeksie. “Maar, Here hoe kan ek ooit volmaak of perfek voor U staan, as daar soveel gebrokenheid in hierdie wêreld is? As ek so vol swakheid is, en so vol foute is?” Dan herinner God jou aan uit Sy woord; “Ek het medelye met jou swakheid en jou foute.” Hierdie gedagtes troos jou, en jy bêre die skulpie in jou baadjie se sak.

Dan loer ’n nuwe skulpie vir jou. Opgewonde grawe jy die skulpie uit onder die sand. Hierdie skulpie het jou geroep met ’n helder pienk glans. Ook hierdie skulpie bestudeer jou oё noukeurig. Die pienk glans in die skulpie herinner jou aan die mooi van die lewe. Sagte pienk rose, blomme met pienk spatsels, jou gunsteling pienk rok, sagte pienk pêrels. Die pienk glans grawe die mooiste skatte uit die kamers van jou hart op. Die sagte pienk kleur laat jou ook dink aan God se liefde. God se liefde en aanraking in jou lewe is ook so teer en sag en groot in glans, soos hierdie sagte pienk kleur. Vir ’n oomblik druk jy die skulpie teen jou hart vas, want God se liefde vir jou is so kosbaar en so spesiaal. Jy besluit om die skulpie in jou baadjie se sak te plaas, want dit sal jou altyd herinner aan God se ewige liefde vir jou.

Dan sien jou oё die skulpie raak met ’n snaakse vorm. Toe jy die skulpie in jou hand vashou, voel jou vingers onmiddelik  dat die buitekant van die skulpie ’n growwe en harde tekstuur het, maar van binne is dit seep glad. Die kontras van die hardheid en growwigheid, teenoor die sagtheid en gladheid, prikkel jou baie. Terwyl jy daar uitstaan en uitkyk oor die see, met die eienaardige skulpie in jou hand, swem jou gedagtes met jou voort, die diep blou see in. Die hardheid en die growwigheid van die skulpie laat jou dink aan die lewe. Die lewe is ook hard en grof soms, en selfs ongenaakbaar koud en leeg. Maar die sagtheid en gladde tekstuur aan die ander kant laat jou weer dink aan jou verhouding met God. Ten spyte van die harde en growwe lewe soms, het ons ’n God wat ons van binne omskep in ’n sagte, gladde en lieflike mens vir Hom. Met hierdie sagtheid van God in ons, kan ons die harde en growwe tye in ons lewens ook oorkom. Die boodskap van hierdie skulpie is so kosbaar, dat jy ook hierdie een in jou sak sit. Jou vingers omklem die skulpie stewig in jou sak, voordat jy dit los.

Terwyl jy nog so staar na die klotsende branders, merk jou oё die liggaam van ’n walvis op, wat uit die blou waters op rys. Jy kyk met verwondering na hierdie massiewe vis, hoe dit opspring in die lug, en met ’n groot plons terugsak in die waters. Die aksie van die walvis se sprong verstom jou. ’n Glimlag verskyn om jou mondhoeke, want ook dit laat jou dink aan die grootheid en almag van God. God is in beheer van Sy skepping.

Jou tone kriewel in die nat sand, en dan trek nog ’n skulpie jou aandag. Jy buk af en tel die skulpie op. Dit is ’n ovaalvormige skulpie, wat heeltemaal toegerol is. Die toegerolde voue van die skulpie laat jou dink aan God se beskerming en Sy ewigdurende liefde. Vir ’n oomblik maak jy jou oё toe, en jy laat die wind toe, om jou te dryf na die liefdevolle arms van jou God. Toegevou in Sy arms voel jy so tuis, so geliefd, so gewaardeerd en so veilig. ’n Traan rol oor jou wang, want jy verlang om in Sy arms te wees. In die sagte wind wat waai, is dit asof jy God se stem kan hoor. “My kind, Ek is so lief vir jou, en Ek wil net die beste vir jou gee.”

’n Golfie verfris jou tone weer, en spoel ’n spierwit skulpie uit. Jy gaan hurk in die sand om die skulpie van nader te bekyk. Die groot spierwit skulp, rus op jou hand. Die besondere wit glans van die skulp, praat met jou tot diep in jou siel. Die witheid laat jou dink aan God, Sy reinheid, Sy heiligheid en Sy ongelooflike vrede. Jy kan nie help om die begeerte uit jou hart te spreek van ’n intense verlange na God se ewigdurende vrede, vir hierdie gebroke wêreld nie. Ook die skulpie klingel in jou sak.

Meteens gewaar jy ’n baie klein skulpie, terwyl dit blink in die son. Vinnig tel jy dit op. Dis so fyn en klein, dat jy dit versigtig vashou in jou vingers, bang dat die skulpie mag breek. ’n Nuwe glans verhelder jou oё op daardie oomblik, want jy besef so klein en gering soos hierdie skulpie is, so klein en gering is elkeen van ons in hierdie wêreld. Miskien is ons klein en gering in hierdie wêreld, maar in God se hande is ons groot, is ons alles en nog meer. Al is ons harte klein in swakheid, in God kan ons ’n groot hart hê, wat oorloop van vreugde en blydskap. Versigtig plaas jy ook die skulpie in jou sak.

Jy staan op uit die sand en skud die sand van jou klere af. Jou vingers omklem al die skulpies in jou baadjie se sak. Al hierdie skulpies is so kosbaar, want elkeen bring ’n ander boodskap van nuwe hoop, vrede, blydskap en liefde in Hom. Jy besluit dat al hierdie skulpies in ’n mooi glas bottel hul plekkie sal vind in jou badkamer venster, en dat elke keer as jy na hulle kyk, jy God se boodskappies in elkeen sal onthou.
Jy staar uit oor die blink waters, en verbly jou aan die gedagte om te weet, God het vandag so spesiaal jou kom aanraak met die skulpe op die strand. Partykeer kyk ons so vas teen die dinge van die gebroke wêreld, dat ons nie eers meer die tyd neem om God se grootheid en liefde, selfs in die geringste dingetjies om ons raak te sien nie, soos onder andere skulpies nie.


Deur: Marieke Zeevaart




16 Apr 2012

Die regverdige het die moed van ‘n leeu.

Ek is seker elkeen van ons, het al ‘n stadium bereik in ons eie lewens, dat ons gevoel het, ons is op moedverlore se vlakte. Ons kan nie meer nie, of dinge het net te veel vir ons geword.

Die vraag wat elkeen dan in ons harte mee worstel is, hoe om weer nuwe moed en krag en selfs hoop in daardie omstandighede te kry. Elke gelowige kind van God weet, dat God is die een wat ons telkens weer nuwe hoop en moed kan gee in daardie omstandighede, maar tog sukkel ons om in geloof daaraan vas te gryp. Klaagliedere 3:25-26:”Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na Sy wil vra, dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.”

Dis nie verkeerd om foute te maak of om met jou eie swakheid innerlik te worstel nie. Jesus wat ons Hoëpriester van verlossing geword het, het medelye  met ons swakheid, omdat Hy self aan swakheid onderwerp was. Hebreërs 4:15: “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie. Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.” Jesus self, was blootgestel aan versoekinge, beproewinge en baie lyding. Maar Jesus self het gegroei in Sy lydingsproses in volmaaktheid, en daardeur het Hy die bron geword van ons saligheid en redding.

Net soos Jesus ‘n lydingsproses ondergaan het en gegroei het in volmaaktheid, ervaar ons ook in ons geloofslewe en ons verhouding met God, lyding tot verdieping in ons verhouding met God. Hierdie lyding kom in die vorm van beproewinge, storms, swaarkry en seer in ons lewens, maar die uiteinde daarvan is altyd groei nader aan God. As jy terugkyk op jou eie lewe, wanneer het jy die meeste gegroei na God? Of wanneer het jou verhouding met God  verdiep in Hom? Jy sal merk, dat dit juis in jou swaar tye, jou pyn, jou lyding en jou seer wat jy die meeste gesoek het na God, en ook gegroei het na God.

Selfs om die regte dinge te doen, moet jy lyding en seer verdra, want die gebroke wêreld leer ons van valsheid, leuens, korrupsie, opstand, magsug en geweld. Wat leer God ons, die waarheid….van liefde, geloof en vertroue in Hom. Om op te kom vir wat reg is, in ‘n misvormende wêreld is baie swaar. Elkeen van ons verlang aanvaarding, liefde en sekuriteit in ons lewens, en ons soek dit in die wêreld. En die dinge wat die wêreld ons bied, is geld, mag en besittings. Maak hierdie dinge ons werklik gelukkig? God weet, wat maak ons gelukkig, en dit is nie materiële dinge, of menslike dinge nie. God bied ons vryheid, ‘n oorvloed in Hom, onvoorwaardelike liefde en onvoorwaardelike aanvaarding en sekuriteit in Hom.

Die waarheid is, dat in jou groei na God, begin jy al hoe meer die behoefte ontwikkel om te doen wat reg is, want ons God staan vir reg en waarheid. In jou geestelike groei na God, ontdek jy die waarde van opregtheid en waarheid.

Wat maak jou as gelowige, regverdig? Kan ons enigsins regverdig wees voor God, met soveel gebrokenheid in ons. Hier kom God se onvoorwaardelike liefde en genade vir die mens na vore. Ons word regverdig verklaar voor God, deur Jesus Christus se volmaakte offer vir ons.

Wat beteken dit om regverdig te wees? Hoe tree iemand op wat regverdig handel?
‘n Regverdige is ‘n persoon wat in sy opregte optredes, dade en woorde daagliks groei na God. ‘n Regverdige is ook iemand wat volhard om die regte dinge te doen. ‘n Regverdige persoon is betroubaar, lojaal en standhoudend in sy verhouding met God. ‘n Regverdige soek nie sy eie eer of voordeel op, maar bly nederig in alles. ‘n Regverdige straal warmte, liefde en respek uit na ander. ‘n Regverdige sien om na Sy naaste in liefde.

Ek glo in my hart, as ons na bogenoemde kyk van die eienskappe van ‘n regverdige, ontbreek ons almal, ook ek in hierdie eienskappe. Dis waarom dit so belangrik is om te verstaan, dat om te groei na God is ‘n proses. Om as ‘n regverdige na God te groei, is ook ‘n proses, een wat met volharding en swaarkry gepaard gaan, maar waarvan jy die vrugte sal pluk as jy volhard in hierdie groei proses. Die woorde waarmee God jou wil bemoedig in hierdie skrywe is, dat as jy kies om as ‘n regverdige kind na Hom te groei in geloof en liefde, jy die moed van ‘n leeu in jou het (Spreuke 28:1).

Kom ons gaan kyk na die diepere prentjie. ‘n Leeu is kragtig, sterk en majestieus. ‘n Leeu gee nie op om sy prooi te jag nie, maar met deursettings vermoë jag hy tot hy iets gevang het, hy gee nie moed op nie. Sien vir ‘n oomblik ‘n leeu waar hy in die lang geel grasse lê. Vir ‘n oomblik gaan staan hy botstil. Jy hou jou asem op, in verwagting wat sy volgende reaksie gaan wees. Hy rek sy groot bek, en toe laat hy sy harde brulstem hoor, alles sidder en beef met die aanhoor van hierdie klanke digby jou. Dan staan hy op en gaan staan op sy sterk pote. Toe die leeu begin hardloop deur die gras, volg jou oë sy groot geel glansende liggaam deur die grasse. Jy verwonder jou met hoeveel kragtige hale hy deur die grasse beweeg, dan verdwyn hy tussen die skaduryke bome.

Jy dink na oor die prentjie. Die beeld van die prentjie slaan so jou asem weg oor die grootheid van hierdie dier. Die beeld van die grootheid, laat jou dink aan die Grootheid van God. Hy is ons Koning, en met Mag, Krag en met soveel majesteit regeer Hy oor die mens en oor Sy skepping. Die aarde sidder, vol van die Almag van ons God. Hy is ‘n Barmhartige en Regverdige Koning, ‘n God wat nie moed opgee met ons nie. Jesus Christus wat met soveel deursettings vermoë aan die kruis, oorwinning behaal het, en vir ons verlossing gebring het. Met reg en geregtigheid regeer Hy!

Waarom sal jy bang wees om die regte dinge te doen? Of waarom sal ons bang wees om regverdig op te tree? As Hy jou dan as ‘n regverdige kind van Hom, die moed, die dapperheid, die veglus en die krag gee om die regte dinge te doen. Jesaja 51:12:”Hoe is dit dan dat jy bang is vir ‘n sterflike mens, vir ‘n mens wat so maklik vergaan soos gras!”

Sekerlik gaan die gebroke wêreld met al sy valsheid, regstaan om jou te vertrap, sodra jy opstaan vir God om die regte dinge te doen, maar dan is dit belangrik om jouself te herinner aan Sy suiwere en kragtige Woord: “Die Regverdige het die moed van ‘n leeu” (Spreuke 28:1). En as jy so dink aan hierdie woorde, onthou ook dat Jesus Christus self, het die leeu van Juda geword, om Sy mense te lei na bevryding en verlossing uit die gebrokenheid en afvalligheid van die wêreld. Onthou dan ook deur dat God die wêreld oorwin het met liefde en regverdigheid, kan jy ook alles oorwin in Hom met Sy liefde en regverdigheid in jou.

Sefanja 2:3;    “Vra na die wil van die Here, alle nederiges in die land,
almal wat doen wat die Here wil,
Streef na geregtigheid, na nederigheid.”

14 Mar 2012

Bou met ‘n vaste hoop.

 Jy kyk op hierdie lente oggend deur jou vensterraam na buite. Jy verwonder jou aan die son wat met soveel krag sy strale deur die hemelse koepel steek. Die lug is helderblou, dit laat jou dink aan die see met sy druisende golwe. Vir ‘n oomblik maak jy jou oë toe, en soek jy in jou siel na die ruisende geluide van die see. Dis half asof jy in die see, God se magtige stem hoor. Die aanhoor van Sy stem bring soveel kalmte en bedaring in jou siel vir jou. God se stem kalmeer jou gemoed, want diep in jou vlam nuwe hoop weer op in jou. Daardie hoop gee aan jou lewe telkens ‘n nuwe en ryker betekenis. Om te glo in God is om seker te wees van die dinge wat ons hoop.

Waarop vestig ons, ons hoop? Is hoop gesetel in hierdie wêreld, met al sy gebrokenheid? Hoe kan ons hoop hê, in ‘n wêreld vol van aborsies, egskeidings, moord en korrupsie? Dis half asof die wêreld in vlamme aan die brand is, en dit  verswelg in hierdie omstandighede. God se skepping roep dit uit in sy barensnood. Plante en bome sug onder besoedeling, die diere word uitgemoor en selfs die visse vrek in besoedelde waters. Mense baklei onder mekaar, onderlinge verdeeldheid en onenigheid veroorsaak skeuringe orals. Wat is die mens dan, dat U aan hom dink, Here? Hoe kan ons nog hoop hê, in al hierdie omstandighede? Dit voel vir ons of die aarde stadig maar seker ingesluk word in hierdie omstandighede, en al wat leef en beef word saam ingetrek in die aardkors in. Ons weet nie eers meer wat hoop is? Om te hoop is om ‘n vaste vertroue te hê in God. Hoop is om ‘n vaste fondasie te hê, al tuimel die gebou in mekaar, die fondasie bly stewig staan. Hoop is ook om nie moed op te gee nie, maar om te volhard in God, al val daar ‘n paar stene af en breek in stukke. Hoop beteken jy kan elke keer nuwe moed skep om die stukkende boustene op te tel, en dit weer aanmekaar te plak, en weer daarmee te bou vir God. Hoop is ‘n belangrike bousteen in ons geloof en verhouding met God.

Kan jy jou ‘n wêreld voorstel sonder hoop? Sonder hoop is ons lewens nutteloos en total leeg. Hoe kan ons steeds seker wees van hoop in hierdie wêreld? Hoop vind jy in die seisoene van jou lewe. Party dae waai die wind hard in jou, ander dae ruk ‘n storm jou uitmekaar en ander dae skyn die son, en bring dit weer lig daar waar duisternis was in jou lewe. Soms breek die takkies af in jou, en soms vind daar nuwe groei in jou plaas.

Jy sien jy is soos ‘n boom vir God, en so groei jy elke dag na Hom. As klein boompie weet Hy van al jou seer en al jou pyn, voortdurend spit Hy die grond om en berei dit voor, sodat die grond vrugbaar kan word. Watter hoop het jy as boom dan, hoe weet jy daar is hoop in God, dat jy kan groei na God? Hierdie boom sal altyd hoop hê? Waarom? Omdat Jesus Christus jou Verlosser, die penwortel is van die boom in jou. Die penwortel is die belangrikste wortel van enige boom. En bring dit nie vir jou soveel hoop en blydskap om te weet dat Jesus Christus Homself opgeoffer het, aan die kruis om te sterf vir al jou sondes en swakheid, maar veral ook vir jou pyn en seer nie.

Miskien voel jy nou koud en leeg in jouself, miskien wil die winde nie ophou waai in jou.
Maar juis wanneer jy in hierdie omstandighede is, en jy kan net jou takke uitsteek na God toe, as ‘n teken dat jy Hom nodig het, verskyn daar weer nuwe hoop op die horison. Dan is dit asof die bietjie water in die grond, deur die storm opgesuig word, en daardie bietjie water bring weer nuwe lewe in al wat ‘n tak of blaar is in jou.

Selfs in daardie diepste storms is daar ook hoop. As jy jou oë kan toemaak vir ‘n oomblik, net in die stilte aandagtig luister na die geluide om jou. Dan sal jy agterkom, dat skielik in hierdie stilte hoor jou hart ander geluide. Dis nie meer geluide van storms en onrustigheid nie, maar rustige en kalmerende geluide. En dis hoe God, jou onstuimige hart in die storms van jou lewe kan stilmaak, want in die stilte verlang jy na God, na Sy kalmte en na Sy liefde en juis in die stilte vind jy weer God, en nuwe hoop in Hom.

So waar vind ons telkens weer hoop in ons lewens? Ons moet na die hoop in ons lewens gaan soek. Hoop is om die negatiewe met die positiewe te vervang in ons lewens. Nuwe hoop en inspirasie vind jy ook daagliks om jou. Kyk weg van die stad se rumoer, die besoedeling en die donker wolke, die hael en die weerlig in jou lewe. Open jou oë vir die mooi rondom jou, vir God se prag en praal in Sy skepping. Laat God toe om jou lewe te versier met bloeisels van nuwe hoop en lewe elke dag. Wanneer jy na die mooi rondom jou begin soek, is wanneer jy as ‘n verlepte blommetjie weer nuwe lewe en hoop in jou kry. Dis dan wanneer jy opgewonde raak in jou, as jy die eerste groen blaartjies merk aan ‘n boom, na ‘n lang yskoue winter. Of wanneer die eerste lente bloeisels hul koppies begin uitsteek. Dan kyk jy verby die onkruid en bossies in jou tuin, en jou oog  merk daardie helderkleurige vlinder op een van jou pienk rose. En soos wat jy elke dag groei, lei jou ontdekkingstogte jou na opwindende nuwe helder kleure van hoop, na helder goue sonstrale, na nuwe lig, God
se lig.

Soek weer die kind in jouself op, voor jy blootgestel was aan al die seer en duisternisse van die wêreld. Gaan lê plat in die groen gras, op jou rug, asem die vars lug in en kyk op na die helder blou wolke, wat vrolik hul arms uitsteek na jou en jou uitnooi om saam te kom speel. En terwyl jy so vrolik speel tussen die blou wolke aanskou Sy Helder lig van redding, en sy ope arms vol van liefde vir jou. Laat Hom toe om jou trane van mismoedigheid en donkerte, te vervang met trane van blydskap en hoop in Hom.