Waarop vestig ons, ons hoop? Is hoop gesetel in hierdie wêreld, met al sy gebrokenheid? Hoe kan ons hoop hê, in ‘n wêreld vol van aborsies, egskeidings, moord en korrupsie? Dis half asof die wêreld in vlamme aan die brand is, en dit verswelg in hierdie omstandighede. God se skepping roep dit uit in sy barensnood. Plante en bome sug onder besoedeling, die diere word uitgemoor en selfs die visse vrek in besoedelde waters. Mense baklei onder mekaar, onderlinge verdeeldheid en onenigheid veroorsaak skeuringe orals. Wat is die mens dan, dat U aan hom dink, Here? Hoe kan ons nog hoop hê, in al hierdie omstandighede? Dit voel vir ons of die aarde stadig maar seker ingesluk word in hierdie omstandighede, en al wat leef en beef word saam ingetrek in die aardkors in. Ons weet nie eers meer wat hoop is? Om te hoop is om ‘n vaste vertroue te hê in God. Hoop is om ‘n vaste fondasie te hê, al tuimel die gebou in mekaar, die fondasie bly stewig staan. Hoop is ook om nie moed op te gee nie, maar om te volhard in God, al val daar ‘n paar stene af en breek in stukke. Hoop beteken jy kan elke keer nuwe moed skep om die stukkende boustene op te tel, en dit weer aanmekaar te plak, en weer daarmee te bou vir God. Hoop is ‘n belangrike bousteen in ons geloof en verhouding met God.
Kan jy jou ‘n wêreld voorstel sonder hoop? Sonder hoop is ons lewens nutteloos en total leeg. Hoe kan ons steeds seker wees van hoop in hierdie wêreld? Hoop vind jy in die seisoene van jou lewe. Party dae waai die wind hard in jou, ander dae ruk ‘n storm jou uitmekaar en ander dae skyn die son, en bring dit weer lig daar waar duisternis was in jou lewe. Soms breek die takkies af in jou, en soms vind daar nuwe groei in jou plaas.
Jy sien jy is soos ‘n boom vir God, en so groei jy elke dag na Hom. As klein boompie weet Hy van al jou seer en al jou pyn, voortdurend spit Hy die grond om en berei dit voor, sodat die grond vrugbaar kan word. Watter hoop het jy as boom dan, hoe weet jy daar is hoop in God, dat jy kan groei na God? Hierdie boom sal altyd hoop hê? Waarom? Omdat Jesus Christus jou Verlosser, die penwortel is van die boom in jou. Die penwortel is die belangrikste wortel van enige boom. En bring dit nie vir jou soveel hoop en blydskap om te weet dat Jesus Christus Homself opgeoffer het, aan die kruis om te sterf vir al jou sondes en swakheid, maar veral ook vir jou pyn en seer nie.
Miskien voel jy nou koud en leeg in jouself, miskien wil die winde nie ophou waai in jou.
Maar juis wanneer jy in hierdie omstandighede is, en jy kan net jou takke uitsteek na God toe, as ‘n teken dat jy Hom nodig het, verskyn daar weer nuwe hoop op die horison. Dan is dit asof die bietjie water in die grond, deur die storm opgesuig word, en daardie bietjie water bring weer nuwe lewe in al wat ‘n tak of blaar is in jou.
Selfs in daardie diepste storms is daar ook hoop. As jy jou oë kan toemaak vir ‘n oomblik, net in die stilte aandagtig luister na die geluide om jou. Dan sal jy agterkom, dat skielik in hierdie stilte hoor jou hart ander geluide. Dis nie meer geluide van storms en onrustigheid nie, maar rustige en kalmerende geluide. En dis hoe God, jou onstuimige hart in die storms van jou lewe kan stilmaak, want in die stilte verlang jy na God, na Sy kalmte en na Sy liefde en juis in die stilte vind jy weer God, en nuwe hoop in Hom.
So waar vind ons telkens weer hoop in ons lewens? Ons moet na die hoop in ons lewens gaan soek. Hoop is om die negatiewe met die positiewe te vervang in ons lewens. Nuwe hoop en inspirasie vind jy ook daagliks om jou. Kyk weg van die stad se rumoer, die besoedeling en die donker wolke, die hael en die weerlig in jou lewe. Open jou oë vir die mooi rondom jou, vir God se prag en praal in Sy skepping. Laat God toe om jou lewe te versier met bloeisels van nuwe hoop en lewe elke dag. Wanneer jy na die mooi rondom jou begin soek, is wanneer jy as ‘n verlepte blommetjie weer nuwe lewe en hoop in jou kry. Dis dan wanneer jy opgewonde raak in jou, as jy die eerste groen blaartjies merk aan ‘n boom, na ‘n lang yskoue winter. Of wanneer die eerste lente bloeisels hul koppies begin uitsteek. Dan kyk jy verby die onkruid en bossies in jou tuin, en jou oog merk daardie helderkleurige vlinder op een van jou pienk rose. En soos wat jy elke dag groei, lei jou ontdekkingstogte jou na opwindende nuwe helder kleure van hoop, na helder goue sonstrale, na nuwe lig, God
se lig.
Soek weer die kind in jouself op, voor jy blootgestel was aan al die seer en duisternisse van die wêreld. Gaan lê plat in die groen gras, op jou rug, asem die vars lug in en kyk op na die helder blou wolke, wat vrolik hul arms uitsteek na jou en jou uitnooi om saam te kom speel. En terwyl jy so vrolik speel tussen die blou wolke aanskou Sy Helder lig van redding, en sy ope arms vol van liefde vir jou. Laat Hom toe om jou trane van mismoedigheid en donkerte, te vervang met trane van blydskap en hoop in Hom.