Kersfees ‘n dankbaarheids fees.
Wat beteken kersfees vir meeste van ons? Beteken dit
familie tyd, vreugde tyd, of vakansie tyd? As ons kyk na die woord kersfees,
staan een gedeelte pertinent vir my uit. Die woordjie “kers” staan vir my uit.
As ek aan daardie woordjie dink, dink ek aan die lig van ‘n kers. Die kers wat
flikker met al sy vlamme spel, die kers wat ‘n helder lig is in enige donker
ruimte of situasie. As ek so na die flikkerende vlam staar, en ek word in my
gedagtes deur God meegevoer na Sy helder lig, dan onthou ek my God. Wie is die
een wat letterlik ‘n kers opgesteek het vir die wêreld en sy mense? Wie is die
een wat steeds die ganse hemelruim verlig met Sy wonderbare en asemrowende lig?
My gedagtes blaai deur die psalmboek na Skrifberyming 3
vers 2. Luister net na hierdie woorde....
“ ‘n Lig het opgegaan,
‘n helder stralebaan,
skiet deur die donker wolke.
Dit is Immanuel,
Die Vors van Israel,
die Lig van alle volke”
Wie se lig het verewig vir ons opgegaan, en vir ewig ons
kom verlos van die donkertes en duisternisse van die wêreld? God het Sy enig
gebore Seun, Jesus Christus vir ons opgeoffer met soveel liefde en genade aan
die kruis, om ons te verlos van die bande en smarte van die sondige wêreld. Hy,
Jesus het in daardie donkertes gegaan, en vir ons die ewige lig gebring, Sy
lig!
Hierdie kersfees het my net van vooraf weer laat besef,
dat ons soveel dinge het om voor dankbaar te wees. Die boodskap van kersfees
herinner ons ook daaraan. Wat het Christus vir elkeen van ons gedoen? Dink aan
die donkertes en duisternisse en pyn van jou eie lewe, Hy het gekom om jou
daarvan te verlos. Hy het gekom om jou uit daardie doodsvalleie en angste uit
te lei, na waters waar rus is, daar waar Sy ewige lig vir jou skyn.
As jy in Sy lig wandel, in die lig van Sy ewige en
standhoudende Woord sal jy verby die donkertes kan kyk, en net die vreugde,
vrede en liefde van Sy ewige lig ervaar.
Dalk is dit tyd dat ons daardie “kers” weer opsoek in ons
lewens. Gaan steek ‘n kers aan tot ere van Sy Groot en Heilige Naam, en laat
Hom toe om jou aan te raak met Sy lig in jou. Lees weer met soveel passie en
liefde en begeerte vir Hom, Sy wonderlike Woord! Dit laat my dink aan die
voortrekkers wat so begerig die ou hollandse staten bybel gelees het, terwyl
die kers langs hul brand.
En terwyl jy langs daardie kers sit, laat sak jou hoof in
diepe dankbare erkentenis voor Hom, en dink na oor alles waarvoor jy dankbaar
is in jou lewe teenoor Hom. Blaai deur die gedagtes van hierdie jaar, en sien
hoe getrou God bly teenoor jou in alle omstandighede.
En wanneer jy so terugkyk na hierdie jaar in jou lewe,
sal jy oomblikke van val en opstaan beleef, oomblikke van pyn en hartseer, maar
ook oomblikke van redding, lig en diepe vertroosting en dankbaarheid in Hom.
Dan sal jou hart vol van beroering gaan, want jy het
besef hoe groot is God se lig, wat in jou werk. Ek hoop elkeen van julle mag
hierdie kersfees weer van vooraf in verwondering en dankbaarheid Sy lig, Jesus
se ewige lig in jou lewe sien en waardeer.
Deur: Marieke Zeevaart
No comments:
Post a Comment