13 Oct 2015

Ware liefde vir God


Vandag wil ek jul terug neem na die landstreek Moria toe, om in die geloof vir God, in die lewe van Abraham te gaan kyk. In hierdie reis, wil ek nie hê jy moet Abraham raaksien, of wat Abraham gedoen het nie, of wie Abraham is nie. Nee, ek wil hê jy moet in hierdie reis die ware liefde vir God in soek, en raaksien, en dít, as ‘n skat in jou hart bewaar. Om ware liefde vir God te ontdek, is inderdaad ‘n skat, omdat God se liefde is ware liefde. Ons kan alleen net waar, eg en suiwer wees in ons geloof, as ons groei in ‘n ware en opregte liefde vir God.

Jy moet ook verstaan dat om ware liefde vir God in jou hart te hê, is nie goedkoop, of wêrelds, of selfgesentreerd nie. Ware liefde vir God is geanker en gesetel in jou hart. Ons is nie lief vir God, omdat dit van ons verwag word nie, of omdat Sy Woord so sê nie, of omdat ons wil nie. Ware liefde vir God word slegs deur God self, in ons harte geplant as ons na Hom soek, en as ons na Hom vra, en as ons Sy wil en eer bo ons eie sondige begeertes en behoeftes plaas. Om ‘n ware liefde vir God in ons harte te hê, is genade alleen.

Maar, ‘n ware liefde vir God, vra ‘n diepe en innige verhouding met God. Dit vra ‘n hegte verbindtenis met God. Dit vra oorgawe vir Hom. Dit vra ‘n groeiende kennis in God. Hoe kan ons vir God lief hê, as ons Hom nie werklik ken, vanuit Sy Woord daagliks? Met ander woorde om God te ken, en te ontdek lei jou om ‘n ware liefde vir God in jou hart te hê.

Waarom is dit so belangrik dat jy ware liefde vir God verstaan? Onthou dat ware liefde vir God in jou hart alleen, lei jou tot ‘n groter gehoorsaamheid aan Hom, ‘n ware aanbidding vir Hom, ware dienswerk vir Hom, maar ook tot ‘n egte geloof in Hom.

En dit is wat Abraham gevind het in God, in sy opregte verhouding met God. Maar God wou seker maak van die egtheid van Abraham se hart en liefde vir Hom, daarom het Hy besluit om hom te toets. Jy sien, as God ons toets kyk Hy nie na ons sondes, swakhede of foute nie, maar na ons harte. Ons harte bepaal ons geloof in God, maar ook ons liefde vir Hom, en ons gesindheid.

Die toets waarin God Abraham wou toets was baie swaar. Die toets was in Isak, Abraham se seun geleë. God het gevra dat Abraham sy enigste en geliefde seun Isak, aan Hom moet offer. Met ander woorde Abraham moes vir Isak aan die dood afstaan, maar ook moes hy, sy seun slag soos wat hul ‘n dier geslag het, as hul hom offer aan die Here.

Ook is dit belangrik dat jy die agtergrond van Isak, Abraham se seun verstaan. Isak was nie net ‘n seun van Abraham nie, maar dit was sy enigste seun, deur Sara sy vrou vir hom gebaar. Daarom was Isak dus ook Abraham se geliefde seun. Isak was ook God se vervulling van Sy beloftes teenoor Abraham. Isak was ook díe seun, waarin Abraham ‘n groot nageslag in God sou verkry. In Isak het God se seëninge vir Abraham gelê. Nou, kan jy verstaan hoe swaar God se toets hierin vir Abraham was.

Maar, hoe het Abraham gereageer op God se sware opdrag vir hom, om sy enigste en geliefde seun te gaan offer? Het hy getwyfel aan God se wil hierin? Het hy geaarsel om die opdrag uit te voer? Het hy God se wil daarin bevraagteken? Het hy met God getwis, oor Sy opdrag vir hom?

Nee, Abraham was gehoorsaam aan God ook hierin. Genesis 22:3: “Vroeg die volgende môre, het Abraham ‘n donkie op gesaal, en hout gekap vir die brandoffer. Hy het twee slawe saam gevat, en ook sy seun Isak.”
Nou vra ek jou: “Wat spreek jou die meeste aan, van sy geloof in God hierin?” Natuurlik sy absolute gehoorsaamheid aan God hierin, maar veral die keuse wat Abraham in hierdie sware toets maak, om aan God gehoorsaam te bly. Jy sien, Abraham moes hier ‘n daadwerklike keuse maak vir God. Onthou, Abraham was in God se toets vir hom, ten diepste gekonfronteer met sy liefde vir sy eniggebore seun, en sy liefde vir God. Dis belangrik dat ons moet verstaan, wat dryf en motiveer ons om gehoorsaam te wees aan God se wil. Hier, kom die brandpunt van ons harte vir God na vore. Is ons liefde vir God groter as ons kinders, ons besittings, ons prestasies, ons werk of ons geld? Wat dryf en motiveer ons harte, om te doen wat ons doen? Is God daadwerklik die draaipunt en keerpunt van ons lewens, daagliks? Is God werklik die Een wat ons harte bewaar en beheer? Ken ons God in alles wat ons doen? Is ons liefde vir God, so groot dat ons Sy eer sal soek in alles wat ons doen en sê, of soek ons steeds na ons eie kollig in die wêreld?

Kom ons gaan doen ondersoek in Abraham se liefde vir God, in die sware opdrag en toets, wat God hom gegee het. Natuurlik moet ons ook vra: “Was Abraham se liefde groter vir God, as vir Isak sy eniggebore seun?” Ja, Abraham se liefde was groter vir God, as vir Isak sy geliefde en enigste seun. Waaruit weet ons dit? En, dit is hier waar jy in jou hart begrip moet vind, hierin by God. Begrip vir werklike, ware en opregte liefde vir Hom. Eerstens sien ons in, Abraham se absolute gehoorsaamheid aan God hierin, dat Sy liefde tog groter was vir God, as vir Isak sy geliefde seun. Verder moet ons onthou, dat Abraham nie getwyfel of getwis het met God, oor Sy opdrag vir hom. Abraham het dadelik gehoor gegee aan God se opdrag vir hom. Omdat Abraham nie God se wil, in Sy opdrag vir hom bevraagteken het nie, wys vir ons hoe Abraham God vertrou het, in die opdrag.

Dit bring my by die punt uit, dat ons ware liefde vir God moet verstaan. Ons moet verstaan dat God se liefde elke dag deur Sy Woord, in ons harte geplant, gesaai en versorg moet word. En, hoe meer God se liefde in ons harte geplant en gevestig word, hoe groter groei ons liefde vir Hom.

Ons groeiende liefde vir God versterk ons harte in God. Dis belangrik dat ons moet verstaan: “Waarom is dit so belangrik om in God se liefde te groei, en gevorm te word.” Ons groeiende liefde vir God, vanuit Sy Woord daagliks motiveer ons om te volhard vir God. God se groeiende liefde in ons, bemoedig, vertroos, en versterk ons in God. God se liefde inspireer ons, om opofferings te maak vir God. God se liefde lei ons, om ware offergawes vir God te bring. God se liefde in ons harte leer ons lydsaamheid in God. God se ware en opregte liefde vorm ons, in geloofsvertroue in God. God se liefde motiveer ons, om in ‘n heilige eenheid met God te lewe. God se ware liefde, verbind ons elke keer weer opnuut met Hom, ons Verbonds God. God se liefde in ons, moedig ons aan om getrou te bly aan Hom. God se egte, groeiende liefde, in ons harte skep die begeerte, en opgewondenheid in ons harte, om elke dag van God te leer, deur Sy Woord.

Om in ‘n ware liefde vir God te leef, is ‘n daadwerklike keuse wat ons moet maak. Selfs toe Isak vir Abraham gevra het, waar is die lam om te offer, was Abraham weereens ten diepste gekonfronteer met sy gevoelens. Gevoelens waarin hy gekonfronteer was, tussen sy liefde vir sy seun Isak, of tussen sy liefde vir God. Ook in Isak se vraag na die offerlam, was Abraham gekonfronteer met sy werklike en opregte liefde vir God? Ook hierin was Abraham gestel om ‘n keuse te maak. Hier is dit ook belangrik om te verstaan wat ons laat struikel, om uit liefde vir God, ‘n keuse te maak om gehoorsaam te wees aan God? Ons sondige emosies, sondige gevoelens, en sondige begeertes, laat ons struikel, om in God se ware en opregte liefde te leef?
Mismoedigheid en moegheid in onsself, wanneer dinge te swaar word vir ons, laat ons ook struikel. Wanneer sal ons moeg word? Is wanneer ons nie elke dag in God se Woord versterk word nie.

So hoe was Abraham dan, ten spyte van die moeilike en swaar opdrag van God, instaat om in sy liefde vir God te volhard, en om te kies om gehoorsaam te wees aan God? Weereens moet ons onthou wat vorm ons in ‘n opregte liefde vir God? Want, onthou ware en opregte liefde vir God lei en vorm ons, in ‘n groter gehoorsaamheid aan God. Abraham het elke dag die daadwerklike keuse gemaak, om homself elke dag opnuut aan God te verbind. Deur God elke dag te soek in alles in sy lewe, het Abraham in ‘n noue verbindtenis en verhouding met God geleef. Deur daagliks in ‘n groter geloof in God te groei. ‘n Groter geloof in God, vorm ons in ‘n groter liefde vir God, en ‘n groter liefde vir God, vorm ons in ‘n groter gehoorsaamheid aan God.

Gehoorsaamheid aan God vra opregte liefde, want God is liefde in alles. Gehoorsaamheid aan God, gaan hand aan hand met ‘n liefde en verwondering vir God. Hoe meer ons deur God se Woord in Sy liefde gevorm word, hoe meer sal ons gehoorsaam kan wees aan God, en hoe meer sal ons Sy liefde uitleef in ons lewens. Hoe groter ons liefde, verwondering en ontsag oor God se Grootheid en Heiligheid, hoe groter word ons in ons harte aangespreek en gemotiveer deur God se liefde. God se groeiende liefde in ons harte, moet ons dryfveer wees, tot gehoorsaamheid aan God.

Gehoorsaamheid aan God bring ons by God se wil uit. Dis reg, dit gaan nie om my wil of ons eie wil nie, maar om die wil van ons Almagtige God. Soms vra ons God se wil en gehoorsaamheid aan Hom so baie van ons, maar dan moet ons onthou, dat God alles vir ons gee. Hoe het Hy nie alles vir ons gegee, deur Sy eniggebore seun Jesus Christus, in ons plek te laat sterwe aan die kruis nie. En, juis hierin dink ons aan God se oorvloedige liefde wat Hy vir ons uit gestort het, in Jesus Christus. Juis, daardie gedagte moet ons motiveer om in daardie selfde liefde vir God, in gehoorsaamheid na God te bly groei.

God se liefde waarin ons daagliks deur Sy Woord gevorm word, moet so diep ons harte deurgrond, dat dit ons sal lei, om die wil in ons harte te hê, om gehoorsaam te wees aan God.

Ons gehoorsaamheid aan God, spreek van ons wil en begeerte na God. Groter liefde is daar nie, as in ons God nie. En daarom bring ons liefde vir God, ons ook uit by ons begeertes. Waarna begeer en verlang ons harte werklik? Het ons vergeet dat God se liefde bedek alles, hoop alles, en verdra alles? Het ons vergeet dat God se liefde in Jesus Christus vir ons, is onvoorwaardelik.

Abraham was bereid om al sy seëninge, en sy geliefde seun Isak, op te offer vir God. God het al Sy liefde en genade in Jesus Christus vir ons uit gestort aan die kruis, om ons vry te maak van ons sondes, en sondige gebrokenheid.

God het Sy seun Jesus Christus die volmaakte offer en lam gemaak, vir ons sondeskuld. God het dat, Jesus Christus die offer word in ons plek, wat die volkome prys vir al ons sondes betaal het. Deur Jesus Christus het ons nou toegang tot God se liefde. Niemand kan ons van God se liefde nou skei nie, want God het dit vir ons gegee, deur Sy seun Jesus Christus. Groter liefde is daar nie, as een wat sy lewe op offer vir ‘n ander.


Nou vra ek jou: “Hoe groot is jou liefde vir God? Hoeveel is jy bereid om op te offer, sodat ander God kan vind? Is jou liefde vir God so groot, dat jy Hom sal gehoorsaam, ten spyte van swaarkry of lyding? Lydsaamheid vir God, wek ‘n groter liefde vir God in jou op. Om te ly vir God en Sy Koninkryk, is ware en opregte liefde. In lyding word God se liefde tot ‘n vervulling gelei, in ons leë, sondige harte. As jy mooi die prentjie van jou eie lewensbaan gaan bestudeer, dan sal jy sien, dat dit lyding en swaarkry is, wat jou gevorm het, in ‘n groter liefde vir God. Ons gehoorsaamheid daarin aan God, spreek van ons eie liefde, en heilige ontsag vir God.

Mag jy deur die lees van hierdie artikel, die begeerte in jou hart opnuut vind, om alles te doen, en om op offerings te maak, om in God se ware en opregte liefde as mens vir Hom gevorm te word, deur Sy onverganklike Woord.

Mag God se ware liefde, so elke dag deur Sy Woord, in jou hart geplant, gesaai en ge-oes word, dat Sy liefde jou dryfveer en motivering vir alles in jou lewe word.

Deur: Marieke Zeevaart



No comments:

Post a Comment