Die sluier van skaamte, is vrese.
Kom ons gaan
staan vandag voor die spieël, van ons eie spieëlbeeld. Hoe voel jy as jy na
jouself kyk in die spieël? Voel jy selfbewus? Soek jy na al die voorkoms foute?
Veroordeel jy jouself? Is jy hard op jouself? Wil jy liewers nie kyk nie?
Ek wil julle
aandag vestig op die woordjie: “selfbewus.” Wat beteken dit om “selfbewus” te
wees? Kom ons breek die woordjie in twee dele op, self en bewus. Die woordjie
“self”, is ingestel en gerig op jouself. “Self” gaan oor jou, en oor alles van
jou en wie jy is. “Self”, dring deur tot jou diepste wese. Die woordjie “bewus”
verwys na jou gewete, en jou gewete is waarheidskennis oor jou, wat sentreer
in jou gedagtes, vanuit jou hart. Jou bewustheid of bewuswording van jouself,
lei tot ‘n diepe ondersoek van jouself, en dit lei tot jou gevoelens. Hoe
“voel” ek oor myself? Nog meer, wat dink ek van myself? Weereens vorm jou
gedagtes en gevoelens, die sentrale punt waar rondom jy draai.
Neem ‘n oomblik,
en teken ‘n prentjie van jouself, in jou kop. Die prentjie wat jy geteken het,
kan jou oë oopmaak vir jouself, en hoe jy jouself sien, met verrassende
gevolge. Hoe lyk jou prentjie? Lyk jy oorgewig, of is jy rietskraal? Lyk jy vol
plooie? Lyk jy groot, of lyk jy klein? Het jy al jou swak eienskappe by
geteken, of het jy juis dit verbloem met jou kuns talent? Het jy ‘n “colgate”
glimlag, of is jou glimlag slegs ‘n enkele streep? Staan jy plat op die grond
met jou voete, of sweef jy op jou tone in die lug?
Baie van hierdie
dinge wat ek nou genoem het, het jy seker nog nooit besef nie? Sommige dinge
prikkel jou lag spiere, maar ander laat jou voel jy wil daardie papier vat, en
dit in ‘n duisend stukkies opskeur, dit weggooi en daarvan vergeet...,want
miskien voel jy vergete in die wêreld, en voel jy skaam vir jouself...
Hoe voel iemand
wat skaam is vir homself? Weer wil ek jou hart prik met die woordjie
“selfbewus”. Skaamte gaan ook gepaard met woorde soos; miskenning,
identiteitsloos, minderwaardigheid, swak
selfbeeld, verwerping en vrese.
Kom ons ontbloot
“skaamte” nog meer. Hoe tree iemand op wat skaam voel oor homself? Hy onttrek
hom van almal, hy gaan sit eenkant in ‘n hoek, en hy verberg homself liewer.
Hoe voel ‘n persoon wat skaam voel? Hy voel miskien verneder, hy voel dalk ‘n
bespotting, hy voel verwerp of verstoot. Waarom sal ‘n persoon wat skaam voel
oor homself, hom heeltemaal onttrek? Die diepere antwoord hierin, lê in die
persoon se eie hart op gesluit. Die persoon trek homself terug en onttrek hom,
juis omdat hy skaam is vir homself. Waarom sal hy dan skaam wees vir homself?
En nou prik ons die speld reg in die middel van so persoon se wese. Die skaam
persoon is bang! Waarom word ‘n skaam persoon dan bang, of wat is sy vrese dan?
Juis onttrek die persoon homself, want die situasie oor homself het iets geprik
in hom, wat hy nie wil wys nie, en wat hy liewers wil verberg. En uit vrese van
ontbloting van homself, ontrek die persoon hom dan. Waarom maak ontbloting van
onsself, ons so bang!
Trek jou bybel
nader en blaai weer terug na Genesis toe. Genesis 2:25 sê: “ Hulle twee, die
mens en sy vrou was kaal, maar hulle was nie skaam nie.” Dis interesant, want
voor die sondeval in die wêreld gekom het, was alles baie goed en uniek, en die
heel belangrikste is, dat daar nie “skaamte” was nie. Nou is jou volgende vraag
vir my: “Waarom was die mens dan nie skaam om naak te wees, voor die sondeval
nie?” Die antwoorde hierin lê in God se unieke skepping en Sy skeppingswerke op
gesluit.
Eerstens die
mens se oë het nog nie oop gegaan vir sondes nie, en die mens het geen begrip
en kennis van die sondes, en naaktheid gehad nie. Die mens het dit nie nodig geag om hulself te
bedek, of dat hul dit nodig gehad het om iets of dinge weg te steek nie. Alles
was oop en bloot, rein, mooi en heilig na God se ewebeeld. Dit was die manier
hoe God hul geskep het, en dit was vir hul mooi, net soos wat hulle vir God
mooi is. Ook het hulle na mekaar gekyk, deur die oë van God se volmaakte
skepping.
Kom ons laat val
die swart sluier van die sondeval oor die wêreld. Wat beteken dit dan, om na
die sondeval skaam te wees? Na die sondeval voel ons in ons skaamte vir onsself
ontbloot, ons voel onwaardig, ons voel innerlik naak, ons voel onbekwaam, en
ons voel onbevoegd. Ons voel ook nie goed oor onsself nie, en ons voel
minderwaardig in alles. Een woordjie staan vir my uit hier, en dit is
“minderwaardigheid”. Skaamte vir jouself, is minderwaardigheid in jouself. Kom
ons doen die letterlike som hierin. Skaamte is gelyk aan minderwaardigheid. Nog
‘n diepere betekenis vir skaamte, is dat skaamte vir jouself ‘n sondige
minderwaardigheids gevoel is. Hoekom sê ek, sondige minderwaardigheid? Laat ons
bietjie dieper delf in die wortels of oorsake van minderwaardigheid.
Minderwaardigheid
is gesetel in verwerping, molestasie, emosionele mishandeling, fisiese
mishandeling, verkragtings, aanrandings, geweld, leuens en so voorts. Kan jy
sien hoe die vrese van minderwaardigheid en skaamte in jou setel, as gevolg van
sondes of sondige gebrokenheid. Een van die grootste sondes in skaamte vir
jouself, is verwerping. Verwerping plant skaamte vrese in jou.
Hoe tree ons op,
as ons skaamte vrese in onsself ons oorval. Ons wil ons bedek, ons wil
wegkruip, ons wil onsself wegsteek, ons trek ons self terug van mense, ons wil
onsself verbloem, ons gooi onsself toe onder werk, ons onttrek ons van die samelewing
van mense. Kan jy sien hoe die vrese van skaamte, jou sondige gedrag ook
bepaal?
Nou wil ek die
oë van jou hart, nog groter oopmaak vir jouself. Jou skaamte vrese steel ook by
jou. Hoe so...? Deurdat jy te bang is om uiting te gee aan jou unieke talente
en gawes wat God in jou geplant het. Dit lei ook daartoe, dat jy nie jou volle
potensiaal in God kan uitleef nie. Jy kan ook nie in jou unieke identiteit na
God toe groei nie, want jou gedrag word bepaal deur die skaamte vrese in jou.
Kom ons bring God
se lig weer, oor hierdie sluier van skaamte. Waarom is dit sonde vir God, om
minderwaardig of skaam te voel oor jouself? Eerstens, moet jy onthou, dat God
het jou baie goed en mooi geskep, Hy sê dit self in Sy woord. Genesis 1:31:
“Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.” God het
ons uniek na Sy beeld en gelykenis geskep. Ons het geen tekortkominge in God.
Alles wat God skep, is mooi, uniek en heilig, want ons God is uniek en heilig
bo alle dinge, wesens en skepsels. God is die Skepper van alle dinge, en nog
meer God is in beheer van Sy skepping. God is ook jou Skepper, en God is ook in
beheer van jou.
As ons
minderwaardig en skaam voel oor onsself, bevraagteken ons God se skepping in
ons. Ons bevraagteken ook God se skeppingswerke in ons. In ons skaamte ag ons,
onsself nie waardig nie, en daarom ag ons, onsself ook nie waardig in God nie.
Elkeen van ons is na God se beeld geskape, en as ons, onsself nie waardig ag
nie, verwerp ons die beeld wat God in ons geskape het. Genesis 1:26: “Toe het
God gesê: “Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy
kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die
wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”” Ons is na God se beeld
geskape, en as ons minderwaardig of skaam voel oor onsself is dit sonde, omdat
ons God se beeld en skepping in ons skaad.
Waar lê die hoop
in God agter die sluier van ons skaamte. Ons moet deur God se woord in kennis,
geloof en vertroue groei na God toe, dat God die sluier van van ons skaamte en
vrese sal verwyder. Ons sal nie meer bang wees vir mense, as ons in vertroue na
God toe groei, want ons sal weet wie Hy is vanuit Sy woord. Ons sal nie meer
bang en skaam voel om identiteitsloos te voel nie, want ons het ‘n unieke
identiteit in God. Ons sal nie meer vrese en skaamte van minderwaardigheid in
ons hê nie, want ons is waardig in God, omdat ons Sy skeppingswerke is. Ons
vrese van skaamte sal vervang word, met ons liefde vir God. Ons sal nie meer
bang en onbekwaam voel in onsself nie, want ons groei deur God se woord
daagliks, in ons unieke talente en gawes na God. Ons sal nie meer skaamte van
onbevoegdheid hê nie, want deur God se woord ontdek en ontwikkel ons, in ons
volle potensiaal vir God. Ons sal nie meer naak en leeg voel in die wêreld nie,
want deur God se woord groei ons in reinheid en heiligheid na God.
En wanneer ons
in al hierdie dinge na God toe gegroei het, word ons sluier van skaamte en
sondige vrese, vervang met ‘n wit deurglansde, rein, bruids sluier in Hom.
Deur:
Marieke Zeevaart
No comments:
Post a Comment