24 Apr 2014

Vrese lei tot sondes



Almal van ons ken die woordjie “vrese”. En ek is seker almal van ons is bekend daarmee. Ons almal was een of ander tyd in ons lewens, in ‘n situasie waar ons bang en bevrees geraak het. Hoe voel ons, as ons met daardie vrese in kontak kom? Ek wil hê jy moet weer daardie berg klim van vrese in jou lewe, sodat wanneer jy die hoogtes uit klim, deur die lees van hierdie artikel, dat jy as jy die top bereik van die berg, rus en vrede by God kan vind.

Maar kom ons begin by die begin. Die eerste keer waar ons in die bybel lees van vrese, is na die sondeval van Adam en Eva, in die tuin van Eden. Genesis 3:10: “Ek het U hoor wandel in die tuin, en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.”  Waarom het die mens bang geword, nadat hul van die boom van kennis van goed en kwaad se vrugte geëet het? Ons moet onthou dat Adam en Eva ongehoorsaam was aan God deur van die vrugte te eet. God se bevel was dat hul nie van die boom se vrugte mag eet nie. Deur Adam en Eva se ongehoorsaamheid aan God, het die sondes in die wêreld gekom. So waar het die wêreld se oë oop gegaan vir sondes? In die paradys na die sondeval. En hoe het Adam en Eva gevoel nadat hul gesondig het? Hul was bang en het gaan wegkruip. Toe die sondes en dood begin heers het in die wêreld, het vrese en bangheid ook in die wêreld gekom? Die vrese gaan dus saam met sondes gepaard. Kom vrese van God af? Nee, want God het self gesê na die voltooiïng van Sy Skepping, dat alles baie goed was. Daar was nie donkertes, duisternisse en vrese nie. En hoe weet ons nog, dat vrese nie van God af kom nie, want Adam en Eva was nie bang en skaam om “naak” te wees nie.

Ek is seker dat jou oë nou ook oop gegaan het, in die verstaan van waar ons vrese vandaan kom. Ons sondes is dus gesetel in vrese, maar ook die blootstelling aan sondes lei tot verdere vrese en sondes in ons, in hierdie gebroke wêreld. Omdat die sonde en dood in die wêreld begin heers het, as gevolg van die sondeval, word ons lewens nou ook oorheers deur vrese.

En hoe voel ons, as ons bevrees of bang voel? Ons voel benoud, ons hartklop versnel, ons liggame krimp in-een, ons gesigte verbleek, ons tonge word droog en plak teen ons verhemelte vas, ons keel trek op ‘n knop en ons sukkel om te sluk, ons voel asof ons versmoor, ons liggame ruk en bewe, ons knieë word lam en ons kan nie beweeg nie. Die vrese stoot ons stres vlakke so op, dat ons liggame dit nie kan beheer nie, dan maak dit ons siek... Dis asof alles in jou, tot ‘n dooie stilstand kom. Maar kom ons klim die berg nog ‘n bietjie hoër uit. Nou voel jy vas gevang, alleen, onder jou roep die donker duisternisse van jou gebroke lewe jou, en jy ruik die bloed vergieting en dood van die aarde.

Ons vrese ontlont gevoelens in ons. En ons gevoelens kom vanuit ons harte. Ons gevoelens bepaal hoe ons dink, hoe ons praat, en hoe ons optree. Onthou, ons gevoelens word oorheers en beheer, deur ons diepste vrese.

Om jou vrese te verstaan, moet ons dieper in jou hart gaan delf. Waar kom jy vandaan in hierdie gebroke wêreld? Wie is jy? Watter gebroke omstandighede in hierdie sondige wêreld, het jou as mens gevorm vir wie jy vandag is. Het jy al ooit stil gestaan by alles wat jou bang maak? Is jy bewus van jou diepste vrese in jou hart? ‘n Duistere feit is, dat daar soveel dinge in hierdie gebroke wêreld is, wat ons bang maak. As gevolg van ons natuurlike sondige menswees, het ons almal vrese. Neem bietjie tyd, en dink bietjie mooi oor wat maak jou bang? Natuurlik onthou jy dinge soos donkertes, hoogtes, siektes, vuur, doolhowe, oorlog, armoede, misdaad en moord. Maar het jy al daaraan gedink, dat dinge soos verwerping, molestasie, fisiese mishandeling en emosionele mishandeling ook vrese in jou inplant? Kom ons trek die vergroot glas van begrip oor hierdie dinge.

Kom ons gaan kyk eers na verwerping. Watse vrese ervaar iemand wat die pyn van verwerping ervaar het? Miskenning, ontkenning, identiteitsloos, verlore, skaam, swak selfbeeld, lompheid, vergeetagtigheid, verstrooidheid, bang vir mense, bang vir verdere verwerping, onsekerheid en alleenheid. Na watse sondige reaksies sal al hierdie vrese die verwerpte persoon heen lei? Veroordeling van mense, wantroue van mense, gebrek aan naaste liefde, gebrek aan liefde vir haarself, selfsugtigheid, ander verwerp, onwaardigheid, haarself blameer, of selfs selfmoord gedagtes. Kan jy duidelik sien hoe die vrese van die verwerpte persoon haar lei tot verskillende sondes?

Kom ons kyk na iemand wat fisies mishandel is. Ons moet onthou dat ‘n persoon wat fisies mishandel is, is hardhandig hanteer, onnodig pakslae gegee, geslaan met enige iets wat mens in die hande kan kry, geslaan dat iets breek of blou kneuswonde agter gelaat het, of selfs hospitalisasie as gevolg van al die beserings daarin. Wat is dan so persoon se sondige reaksies, in sy vrese van fisiese mishandeling? So persoon is vol woede in homself, hy word gou kwaad, hy het geen selfbeheersing, hy vloek, skel en skreeu op ander, hy skop en slaan ander, hy breek ander, hy is rebels, opstandig en bakleierig. Word die dowwe prentjie van ons vrese, vir jou nog duideliker?

En wat van iemand wat emosionele mishandeling ervaar het in sy lewe? Dis belangrik om te weet, dat ‘n persoon wat emosionele mishandeling ervaar het, is konstant afgekraak, verneder, sleg gesê, vertrap met woorde, geskel of op geskreeu, en met harde woorde toegesnou. Wat is dan so persoon se sondige reaksies daarop? So persoon wil ontplof in woede en uitbarstings, so persoon se woorde vloek, skel en skreeu op ander, so persoon onttrek hom van ander mense, want hy is bang om seer gemaak te word. So persoon word rebels, opstandig, humeurig, en so persoon sukkel met selfbeheersing. Al hierdie dinge lei tot oortreding van God se grootste gebod, naamlik gebrek aan liefde, en veral gebrek aan naaste liefde. Sien jy nou die prentjie agter ons vrese raak?

So maak die gebroke en sondige wêreld, ons slawe van ons eie pyn en seer, maar ook  slagoffers van mekaar se pyn en seer. Ons diepste vrese vorm ons hele mens wese, en later bestuur ons vrese ons lewens. Nou sal jy vir my vra, maar hoe bestuur ons vrese ons? Ons vrese bepaal ons gedrag, ons woorde, ons denke, en ons optredes in alles? Ons vrese maak ons letterlik siek, omdat dit ons unieke menswese van binne af opvreet. Ons diepste vrese bepaal ook ons “stres” vlakke. Hoe dieper ons vrese in ons ingesetel is, hoe hoër ons “stres” vlakke. Ons vrese ry ook soos onstuimige branders op ons emosionele gevoelens, omdat ons emosies oorheers word deur ons vrese. En as ons nie uit ons vrese groei na God nie, gaan ons altyd ‘n slaaf wees van ons vrese, deurdat ons presies doen wat ons diepste vrese vir ons sê wat om te doen.
Dink maar aan osse wat aan ‘n juk gekoppel is met hul bekke. As die jukstang links getrek word, swaai die osse links. As die jukstang regs getrek word, swaai die osse regs. Die jukstang bepaal presies wat die osse volgende gaan doen. Net so is dit ook by iemand wat ‘n slaaf van sy eie vrese geword het. Die voorbeeld van die osse in ‘n jukstang, is ‘n voorbeeld van hoe jy beheer kan word deur jou vrese.Waar lê die hoop dan in al hierdie situasies en vrese? Het ons al Jesus se eie woorde hierin vergeet? Matteus 11:28-29: “Kom na My toe, almal wat uit geput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en My las is lig.” Ons moet ook die konteks van hierdie teks verstaan. Jesus Christus het dit gesê omdat die Fariseërs swaar jukke op die mense gelê het, as gevolg van hul hoë wettiese eise en voorskrifte. God sê self in Sy woord, dat ons nie aan die eise van Sy wette kan voldoen nie, omdat ons sondige mense van nature is. Juis daarom het God se genade vir die mens, deur Sy seun Jesus Christus gekom, omdat deur Jesus Christus se volmaakte offer aan die kruis, is daar volledig vir al ons sondes en gebrokenheid betaal. En as jy in geloof in Jesus Christus se verlossing na God toe groei, dan groei jy na God se genade toe, en dan sterf jy die sondige menswees in Hom af.

Jesus Christus het die swaar juk van die hele wêreld se sonde skuld op Hom geneem. Hy het gely, Hy is gekruisig en Sy bloed is vergiet vir ons. Met Sy opstanding uit die dode het Hy in oorwinning oor die dood, sondes, wêreld en mensdom op gestaan. Dit is waarom Sy juk sag is, en sy las lig.

Jy hoef nie meer vrese te hê nie, want God maak jou deur Jesus Christus vry van alle vrese. God vervang jou vrese met ‘n volmaakte liefde in Hom. 1 Johannes 4:18: “Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.” Ons hoef ook nie bang te wees vir mense nie, want elke mens is ook ‘n unieke skepsel van God, en elke mens is net so gebroke en sondig soos jy. Vir die boosheid en satanisme van die wêreld, hoef jy ook nie bang te wees nie, want Jesus Christus het hulle saam met Hom in Sy triomftog en oorwinning, as gevangenes weggevoer. Kolossense 2:14: “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon, deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.”

Wanneer word ons bang, en vol vrese? Wanneer ons God nie ken vanuit ‘n lewendige verhouding met Hom nie. As ons nie groei in kennis, insig en toepassing van God se Woord nie. As ons nie in eenheid deur God se Heilige Gees na Hom toe bly groei nie. As God nie ons enigste begeerte in ons harte is nie. As ons nie ons sondige menswees in God afsterf nie. As ons nie groei in verlossing en vryheid na God toe nie. As ons nie groei in God se Beeld en gelykenis nie. As ons nie groei in ‘n ware en opregte geloof na God toe nie. En wanneer ons in al hierdie dinge nie bly groei na God toe nie, dan verval ons in vrese, en is ons slawe van ‘n gebroke en sondige wêreld.
Waarna soek ons werklik in ons bangheid en vrese? Ons soek na identiteit, ons soek na beskerming, ons soek na sekuriteit, ons soek na liefde, en ons soek na vrede. Hoe voel ons werklik in ons vrese? Eintlik voel ons God’s verlate, want ons voel totaal en al alleen, ons voel of die dood oor ons heers, en ons voel asof die duisternisse van die gebroke wêreld ons insluk. Het ons al vergeet dat Jesus Christus het God’s verlate aan ‘n kruis gehang totaal en al oorgelewer aan die duisternisse van die wêreld, sodat ek en jy nooit  God’s verlate sal wees nie.

Waarheen dan met al ons vrese? Ons vrese verander in vrede in God, as ons in liefde na God begin groei. Wanneer jou vrese jou weer oorval, onthou dan die woorde in Psalm 91:1-2: “Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind, en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”” Jy sal slegs met vertroue in God, dit vir God kan sê, as jy Hom opreg lief het, en as jy Hom opreg dien, en veral as jy in oorgawe deur Sy Heilige Gees en Woord, na Hom toe groei daagliks.

God sê self ook in Psalm 91:14: “Omdat hy My lief het, sal Ek hom red, sê die Here. Omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.” ‘n Ware liefde vir God en jou naaste lei jou uit al jou vrese. Wees ook lief vir jouself, soos wat jy vir God lief het, dan sal jy ook vreugde en vrede vind in wie jy vir God is, en nie meer onwaardig voel in jouself nie. Nou sal jy vir my vra; “Hoe kan ek lief hê, as ek nooit lief gehad is nie?” Jy kan lief hê, want God het jou eerste lief gehad, en omdat Hy jou lief het, kan jy vir ander lief wees en ook jouself sien, soos Hy jou sien.

Kyk op na boontoe, en sien die top van die berg, kyk na die arend wat daar bo rond swewe, en sprei jou vlerke soos die arend na God se lig toe. Moenie meer bang wees nie, want God dra jou oral waar jy gaan. Sy trou beskerm jou van alle kante, en Sy liefde omsluit jou, en maak jou heel van binne en rein vir Hom. Laat Sy liefde en genade jou lei uit jou bangheid, vrese en sondes van ‘n gebroke wêreld. Laat Sy liefde jou herstel in eenheid met Hom.


Kom in oorgawe na God toe, laat die berge van vrese in jou lewe, ‘n plek word van skuiling en beskutting by God. Moenie meer wegvlug van die berge van vrese in jou gebroke lewe nie, maar begin deur God se woord, daagliks die berge van vrese in jou lewe uit te klim. Laat God se woord jou lei na die hoogste piek, en top punt van die berg, na Sy Sions berg, waar daar nie vrese is nie, net vreugde, lewe en vrede in Hom.


Deur: Marieke Zeevaart



No comments:

Post a Comment