24 Apr 2014

Gee en dien.

Vir die soveelste keer stap jy verby die boemelaar. Die man lyk baie hulpeloos, sy kop hang en sy skouers trek sy rug krom. Dit lyk of die man baie swaar geboë onder die lewe gaan. Hy kyk vir ‘n oomblik op, en jy gewaar die donker kringe onder sy oë. Sy oë staar voor hom uit, so asof hy opsoek is na antwoorde op sy leë lewe. Iets prik in jou, met die aanskou van hierdie boemelaar. Jy kry die man innig jammer, en jou hart is vol deernis vir hom. Jy worstel in jouself opsoek na hulp vir hierdie man. Dit is vir jou so kontrasterend, want aan die eenkant wil jy hierdie boemelaar help, maar aan die ander kant weet jy nie wat is die regte manier om hom te help nie. Jy probeer die vrae in jou hart, soos ‘n legkaart se stukkies in mekaar te laat pas. Hoe help ‘n mens iemand soos die?

Gee jy vir hom geld, wend hy dalk die geld aan om sy begeerte, en om sy gebroke en pynlike lewe, in ‘n bottel drank te verdrink. “Here, moet hy nie juis uit die bottel drank bevryding in U vind nie. Ag, Here die pyn in sy lewe is so groot, dat hy al die gate daarvan met drank wil toestop. Here, hy is net nog ‘n verlore skapie vir U.” Die drank bring vir hom tydelike verligting, maar dit vat nie die realiteit en sondige gebrokenheid in hom weg nie. Eintlik het hy ‘n slaaf geword van sy eie pyn en gebrokenheid. Sy moë liggaam smag na uitkoms van sy pyn en traumatise lewe, en elke keer as hy sy traumatise lewe aan die drank wil uit verkoop, is hy gebind aan alkohol, en ‘n slaaf van sy eie sondige gebrokenheid. “Ag Here, hoe lei ek hierdie man uit sy donker “tonnel visie”? As ons nie God se lig raak sien in ons lewens nie, dan verval ons in tonnels van uitgeworpenheid en gebrokenheid.

“Maar Here, wat van sy honger....? Kan ek dan vir hom kos gee?” Weer kom die Here se antwoorde op al my worstel vrae. “Gee vir hom kos, uit die oorvloed van liefde uit jou hart!” Nou kom ek by my werklike prik vraag uit. Hoe gee ons vir ander? Kom ons gaan kyk eers na die woord gee. Wat beteken dit om te gee? Die woordjie gee lei ons na woorde soos; omgee, voorsien, behoeftes, vrylik, liefde, deernis en help. Noudat jy bietjie meer begrip in “gee” verkry het, moet jy ook jou eie hart ondersoek na waarom jy wil gee?

En dit bring ons by die woordjie help uit. Waarom het jy ‘n begeerte om iemand te help?  Wil jy help omdat jy ‘n skuld gevoel het, en dat jy dit aanskou as jou plig om te help? Wil jy help om iets aan jouself te bewys? Wil jy help om jou eie liefdesdaad vir die maand te doen? Beslis moet ons ook die vraag omkeer. Waarom wil jy nie help nie? Wil jy nie help uit eie selfsugtigheid of geldgierigheid? Dalk is jy steeds ‘n slaaf van jou eie begeertes, en jy jaag dit na. Soek jy nog vervulling in die wêreld, en dus het jy blind geraak vir die nood van die wêreld en ander. Of dalk voel jy in jouself, hoekom moet ek gee, as niemand ooit iets vir my gee? Kan jy sien hoe verblind ons harte geword het, as God se lig en waarheid van Sy woord nie elke dag daar is, om ons te voed en te vernuwe nie?

Help en gee bring ons by ‘n begeerte van ons eie harte uit. Hierdie begeerte van “help” word gewek deur die werk van God se Heilige Gees in ons. Hoe wil God werklik hê, moet ons gee en help? Daarby moet jy ook ontdek hoe gee God, en hoe help God ons? Kom ons kyk eers hoe wil God hê, moet ons gee en help?
Ons het gesê help is ‘n begeerte wat van God kom, en omdat dit iets is wat God in ons harte plaas, word ons ook terselfdetyd onderrig hierin, dat dit God se wil is. Die begeerte om te help bring ons dus ook by begrip van God se wil. God se wil moet ons harte oorheers. Dus die begeerte om te help, bring ons ook by die wil om te help. En as ons gegroei het in die wil om te help en te gee, dan het ons ook gegroei daarin, om iets “graag” te doen. As jy iets graag wil doen, dan lei dit jou na die volle begrip van God se liefde en genade hierin.
Jy gee, omdat jy wil gee, jy help omdat jy graag wil help. Jy gee omdat dit God se wil is, maar ook deel uitmaak van die uitvoering van Sy liefdes gebod teenoor jou  naaste. Jy gee en help uit gehoorsaamheid aan God. Jy gee en help uit liefde vir God. Jy gee uit dankbaarheid teenoor God.

Nou kom ons by die vraag uit; “Hoe gee en help ons?” Soos altyd lei ek julle graag weer na God se Woord, want dit is waar God ons in Sy waarhede onderrig. Die lig en waarheid van God se Woord verhelder ons verstand, sodat ons kan weet, wat is reg om te doen, en hoe ons dinge moet doen, soos God dit van ons vra. Deuteronomium 15:10: “Gee vrylik aan jou broer wat arm is, en moenie sleg voel omdat jy vir hom gegee het nie, want juis omdat jy vir hom gee, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy doen en aanpak.”

Eerstens moet jy verstaan vanuit God se Woord, dat Hy die Skepper is van alle dinge en skepsels. En omdat Hy Skepper is van alles, sorg Hy vir alles, deurdat Hy in alles wat ons nodig het, en in al ons behoeftes voorsien. God sorg en voorsien dus vir jou in alles wat jy  nodig het, maar verwag ook van jou, dat jy dieselfde sal doen.
Tweedens moet jy verstaan, hoe gee God vir ons, en hoe versorg Hy alles wat Hy gemaak het? Hy gee in oorvloed vanuit die liefde van Sy hart vir ons. Hy versorg ons met Sy barmhartigheid, Sy goedhartigheid, Sy trou, en Sy sagmoedigheid, deur Sy genade vir ons. Hy help ons en Hy voorsien en gee vir ons omdat Hy graag wil. God se unieke liefde en genade word hierin gespieëlbeeld. Hoe versorg God ons nog? Onvoorwaardelik is God in Sy liefde, trou en sorg vir ons. Al wat God van ons vra hierin, is gehoorsaamheid aan Hom, en dat ons sal bly groei in gehoorsaamheid na Hom. Ons kan net gehoorsaam wees aan God, as ons in kennis groei van Sy Woord.
Nou sal jy seker vir my vra, maar was hierdie boemelaar nie ook ongehoorsaam aan God nie? Moet ek hom dan steeds help? Weereens moet jy die vraag weer omdraai. Was jy nie ook al ongehoorsaam aan God nie? Is jy nie maar ook ‘n sondige en gebroke mens soos hy nie? Bewustheid van jou eie sondige swakheid en foute, lei jou om ander se behoeftes vir God te verstaan. As jy dus ander se behoeftes vir God verstaan, sal jy weet hoe om te gee en hoe om te help.

Maar om werklik te kan gee en help vir ander, vra dit van ons ‘n steeds groeiende verhouding met God. Dit vra verdieping in Sy Woord op alle vlakke, in jou lewe. Sy Woord moet jou daagliks oprig, sodat God deur jou ander kan oprig. En as jy mooi daaraan gaan dink, begin evangelisasie nie altyd met woorde nie, maar met gee en doen, en help vir ander. Onthou jou gee en help moet spreek van jou eie hart in God. Jou gee en help, moet getuig wie jy in God is. Jou gee en help moet hartlik, warm en opreg wees. Jou gee en help moet ander laat verlang, en smag om die lig in God te vind. Jou gee en help moet ander lei na God toe in oorgawe. Wees absoluut ‘n navolger in Jesus Christus, in jou gee en help vir ander. Laat Jesus Christus se gesindheid van oorgawe, liefde, opregtheid, nederigheid, vriendelikheid, behulpsaamheid, goedhartigheid, getrouheid en vreugde, in jou deurstraal, in jou gee en help.

In jou gee en help moet jy ander lei na God toe. So hoe help en gee jy dan. Jy help deur te voorsien in sy behoeftes van kos, klere, komberse en versorging. Jy gee deur vir hom daar te wees, onveroordelend te luister na hom. Jy gee deur jou begrip en medelyde vir sy stryd in sy gebrokenheid en sondes. Jy gee deur hom te bedien met God se liefde, genade en vertroosting. Jy gee deur opofferings te maak vanuit jou eie, sodat hy ook verlossing en vryheid in Jesus Christus kan vind.
Ons gee en help moet ook uitkring, wyer en wyer, tot eer van God se Naam. In die kerk moet ons mildelik en oorvloedig ons tiendes gee, omdat ons wil gee. In die kerk moet ons wil om te gee, en om te help, aangewend word in die uitbreiding van Sy koninkryk, deur ons talente en gawes wat in Hom ontgin word. In die kerk moet ons gee en help, uit oorvloed van liefde vir God, om mekaar op te bou vir God. In die kerk moet ons hande vat, en verenig in God se heilige eenheid.
By ons werk moet ons gee en help getuig van ons liefde vir God. By ons werk moet ons ander aanspoor en bemoedig in die liefde en genade van God. By ons werk moet ons God se lig en sout wees.

In ons gesin en tuis, moet ons volhard om ons kinders en mekaar te onderrig, en te leer uit God se Woord. Wanneer elkeen die huis verlaat in die oggende, dat elkeen kan gee en help uit oorvloed van hul liefde vir God, op hul onderskeie plekke.
In die buitekringe van die wêreld moet ons moeite doen om vir ander te gee en te help. Daar moet ons, onsself ten volle verbind aan God, om al ons talente en gawes in Hom aan te wend, om te kan gee en help op alle vlakke. In die buitekring van die wêreld moet God se lig al hoe helder en helderder begin skyn, in ons gee en help.
Jy kyk weer na die boemelaar, en jy sien hoe hy sy kop oplig na die son toe, so asof hy verlang na lig en vertroosting in sy lewe. Jy stap na hom toe en plaas jou hand op sy skouer. Die trane pers uit sy dowwe oë uit. Jy oorhandig die brood aan hom, wat jy eintlik vir jouself gekoop het. “Hierdie  man het hierdie brood meer nodig as ek, Here... En nou sal ek ook deur u genade, hom voed met die werklike brood van die lewe, in u seun Jesus Christus.”

God se laaste woorde vir jou daardie dag, deurdrenk jou hart met die ligstrale, van begrip en liefde wat Hy in jou hart geplant het.


Ø  God sorg vir my, en daarom wil ek graag sorg vir ander.
Ø  God voorsien in al my behoeftes, daarom wil ek graag in ander se behoeftes voorsien.
Ø  God gee vir my, daarom wil ek vir ander gee.
Ø  God is getrou aan My, en daarom wil ek getrou wees aan ander.
Ø  God maak my voorspoedig in alles, en daarom wil ek graag help om ander voorspoedig in God te maak.
Ø  God bewys Sy liefde aan my, en daarom wil ek graag liefde bewys aan ander.


Deur: Marieke Zeevaart

No comments:

Post a Comment