Wees
lief vir mekaar, soos God vir julle is.
Obadja
1:13: “die dag toe die ramp hom getref het nie, jy moes jou nie ook
verlekker het in sy ongeluk nie.”
Ek
is seker hierdie verse spreek elkeen van ons aan. Hoeveel keer het ons nie al
gevoel, ons wil daai een wat ons seer maak, of daai een wat so lelik is, of
daai mense wat jou sommer afbreek in stede van opbou nie, ons wil hulle iets
aandoen. "Kan sy nie maar net bietjie voel hoe ek voel nie, as sy my so seermaak
met haar woorde of optrede nie".
Jy
besef eintlik nie as jy so praat, dat dit gaan oor jou gevoelens, jou seerkry.
Ja maar ek, ek, ek …. Hoor jy waaroor dit hier gaan. Jy is gefokus op jouself,
want dit gaan oor jou. Ja maar ek het so seer gekry in my lewe, ek het nie
nodig om na haar lelike woorde te luister nie.
Ondervinding
het my geleer dat mense wat ander so
afkraak en afbreek met hul woorde, is eintlik die mense wat glad nie goed voel
oor hulle self nie. Deur ander af te kraak en te verneder, wys hulle eintlik
hulle eie pyn uit. Deur jou af te kraak, laat hulle beter voel oor hulle self,
omdat dit jou in die kollig plaas, en nie hulle nie.
Sy
sal liewer iemand beskinder en afkraak as wat hulle raaksien wat in haar seer
hart aangaan. Dikwels is dit ook mense wat baie verwerping ervaar het in hul
lewe. “Ek is verwerp, nou sal ek jou seermaak.” Sien jy hier die “snowball”
proses raak. Is dit nie presies wat jy wil doen nie. Sy maak my seer, so nou
gaan ek haar seer maak. En die feit is die slagoffer wat af gekraak word, is dikwels
die persoon wat onskuldig is. Sy word dan skielik verwyt vir jou seerkry en jou
stukkende hart.
Kom
ons gaan sit weer by Jesus se voete, en leer by Hom ons leermeester. Dink vir
’n oomblik na oor hoe Jesus met mense om gegaan het, selfs die mense wat Hom
verag en gehaat en bespot en uitgelag het. Jesus sê in Johannes 13: 34-35: “Ek
gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar
liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
Jesus se sterkste wapen is die liefde. Met Sy
nimmereindigende liefde oorwin Hy die kruis, oorwin Hy die wêreld en oorwin Hy
die mense en heel belangrikste oorwin Hy ook vir jou. Kyk terug na die kruis
gebeure, sien jouself, jy staan by Sy kruisdood. Jy sien die pyn op sy gesig,
jy sien die bloed wat vloei, jy sien Sy liggaam in twee geskeur aan hierdie
growwe kruishout. Dan verander die toneel, Hy kyk na jou. Watter boodskap lees
jy op Sy geskende en bebloede gesig? Lees jy indrukke van haat, kwaad of wrok op Sy
gesig?
Nee, Hy kyk met soveel deernis, tederheid en liefde
terug na jou. Dis amper asof Hy Sy hand uitsteek na jou en jou wil optel in Sy
arms. Om jou hoor jy die geruis van oordonderende stemme en bloedbelope gesigte,
wat met soveel haat en woede hul emosies teenoor Jesus uitskel. Jy draai jou
gesig terug na hierdie liefdevolle man, wat onskuldig daar hang, vasgespyker
teen die growwe en ruwe stuk hout, wat splinters in Sy rug maak.
Dan hoor jy skielik die woorde, wat soos ’n mes deur jou
hart steek op daardie stadium. Lukas 23:34: “Toe sê Jesus vir hulle: Vader,
vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Op daardie oomblik bons die ritme van jou
hart in jou keel, en jy voel die knop in jou keel, jy voel die droogheid op jou
lippe, en die naar en hol kol op jou maag. Dis asof jy ’n klein deeltjie van Sy
pyn ervaar, maar ook Sy liefde. Jou oë brand in hul oogkaste, en jy kan die
trane nie meer keer nie, dit vloei onophoudelik oor jou gesig. Dis asof iets in
jou oopgeskeur het. Flitse van jou lewe jaag soos ’n stoomtrein deur jou brein.
Jy sien hoe jy ander seer gemaak het, hoe jy ander geklap het, hoe jy ander
verskree het uit al jou pyn en frustrasie.
Skielik voel jy baie moeg, en dit voel vir jou
of jy die wêreld se laste op jou skouers dra, jy voel jou knieë in mekaar sak
onder jou. Dan laat sak jy jou kop in skaamte en val mismoedig voor Hom neer op
die kruis. Jy voel hoe jou hart oopskeur, en jy huil onbedaarlik. Jou longe
brand in jou en tussendeur jou snikke gee jy jouself oor aan Sy liefde. Jy
stort jou lewe uit voor Hom en jy vra vergifnis vir al jou swakhede.
Jy kyk weer op na hierdie liefdevolle
man, en jy sien steeds die uitdrukking van liefde en passie en omgee vir jou in
Hom. Die kyk in Sy oë droog die trane op in jou en jy sien hoe Sy gesig straal
van liefde vir jou. Daar verskyn ’n sagte glimlag op Sy verwronge gesig, maar
vir jou is dit die mooiste glimlag wat jy ooit gesien het. ’n Glimlag wat die
verwoede storm in jou stilmaak, die barste en krake in jou kom genees, en jy voel ’n verligting van lewende waters
deur jou spoel.
Dan raak alles pikdonker, en jy kyk
verskrik om, maar word gou weer terug geroep na die werklikheid van Sy liefde,
wanneer jy hoor hoe Hy die laaste asem uitblaas en met soveel liefde uitroep: “Dit
is volbring” (Johannes 19:30). Dis dan wanneer die snikke weer in jou oopbars,
want toe besef jy, Hy het ook vir jou gesterf, vir jou swakhede, jy wat so
geslaan was in jou lewe, jy wat so mishandel was, jy wat so alleen was, jy wat
so gemolesteer was, jy wat soveel verwerping ervaar het, jy wat geen gevoel van
liefde en sekuriteit gehad het nie.
En op daardie oomblik in die stikdonkerte,
gaan Sy lig vir jou op. Sy lig van liefde wat Hy na die wêreld gebring het en
wat alle duisternisse in jou en in die wêreld verdryf het. 1 Johannes 1:5: “God
is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” Jy sien steeds Sy gesig van
liefde in jou hart, en skielik besef jy
wat liefde is en nie net liefde nie, maar onvoorwaardelike liefde.
Dan roep jy dit uit in ’n gebeds
kreet, “Here vergewe my vir al die kere wat ek soveel keer mense seergemaak het
met my woorde, dade of reaksies. Here vergewe my vir my swakhede, want Here ek
is maar een van die stukkende mense ook hier op aarde, met wie U met soveel
liefde kom verlos het, en kom bevry het
met U kruisiging. Here, ek verstaan nou wat liefde is. Here leer my om elke dag
in U liefde te groei, maar ook my liefde vir ander. Here maak my lewe vol met U
liefde. O Jesus , my liefdevolle Heer, ek het U so lief.
Dan sien jy die groot hart wat
sigbaar is in die wolke wat deurbreek na die duisternis, en jy straal van
blydskap en vreugde, want jy weet Hy het jou lewe kom vol maak met Sy liefde.
Jy voel die wind teen jou gesig saggies waai en dis asof jy Sy stem in jou oor
saggies hoor fluister: “My geliefde kind, ek is so lief vir jou, ontvang my
liefdes geskenk vandag, van nou af en vir ewig.”
Deur: Marieke Zeevaart
No comments:
Post a Comment